Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
 
Tassenberg Legends Live: Legende-in-wording Andra Cilliers - 8,7 op die Richterskaal
Andra Cilliers , Sonja Badenhorst
2008-08-20 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Dinamiet kom in klein pakkies en aardbewings tref met mening wanneer jy dit die minste verwag. Nuweling Andra Cilliers registreer minstens `n 8,7 op die Richterskaal en het onlangs haar debuut-CD, Secrets and Skeletons: Notes from a Desert Café, vrygestel.

Jy skryf al vir jare jou eie liedjies, maar het eers die afgelope drie jaar begin sing en optree. Wat het jou die moed gegee om die groot stap te neem van sing in die Village Café in Swakopmund tot 'n groot byeenkoms soos STRAB in Mosambiek?

Ek dink dit is baie moeiliker om voor jou hometown op te tree as voor vreemde mense. STRAB was magic omdat mens voor die tyd geweet het almal wat daar is, is lief vir musiek. Dit was 'n groot voorreg om daar op te tree en ek sal altyd dankbaar wees vir die mense wat vir my die geleentheid gegee het.

Jy moes ter wille van jou musiekloopbaan die omgewing waar jy grootgeword het agterlaat. Was die aanpassing van die woestyn, see en oop vlaktes na Gauteng se beton-oerwoud moeilik?

Ek lewe "in the moment" – dit voel nie of ek enigiets agtergelaat het nie. Die see en woestyn sal altyd in my kop en in my lyf wees. Pretoria is nie 'n aanpassing nie, dis 'n avontuur om hier nuwe dinge te ontdek. Die donderweer is ongelooflik - ek kan nie genoeg daarvan kry nie! Die "beton-oerwoud" is fascinating; dit is wonderlik om bewyse en resultate te sien van mense se idees. Ek het soveel fantastiese mense hier ontmoet … Ek is ongelooflik gelukkig dat ek hier uitgekom het.

Die Notes from a Desert Café-deel van die CD verwys na Namibië en jou agtergrond as mede-eienaar van die Village Café in Swakopmund. Waar kom die Secrets and Skeletons-gedeelte vandaan?

Party mense doen shopping. Ek doen coffee shops. Of dit nou Village Cafe of die kleinste koffie-trolletjie op wiele is: ek is obsessed! Die foto wat ek gekry het van die huisie by die Skeleton Coast het eintlik baie stories en idees in my kop getrigger: hier is 'n plekkie waar spoke en geraamtes sit en koffie drink en stories uitruil. OF … is dit twee stories wat sit en met mekaar spoke en geraamtes uitruil …?

Het jy al enige geheime of geraamtes wat in jou kaste wegkruip?

Geweldig baie – en hulle is nie net in die kas nie, hulle is in my laaie, in my kar se kattebak ... hulle is oral!

Dis duidelik uit die CD-titel dat die woestyn ’n groot invloed op jou gehad het tydens die saamstel van die CD. Dink jy noudat jy in Pretoria bly sal daar ook `n verandering in jou sangstyl of lirieke plaasvind?

Daar is sekere invloede wat nooit uit jou uitgaan nie - die woestyn is een daarvan. Ek dink ook dat nuwe invloede net 'n bydrae kan lewer om 'n mens se kopwêreld ryker te maak en te keer dat jy nie vasgevang raak in ou spinnerakke nie.

Die onderwerpe vir jou lirieke strek wyd - tot 'n kakkerlak kry sy eie liedjie! Jy slaag telkens daarin om iets besonders in die alledaagse raak te sien. Waaruit put jy jou inspirasie?

"Cockroach" is eintlik een van my "diepste" songs en sê dalk meer oor my persoonlik as enige van my ander songs – dit gaan beslis nie net oor 'n kakkerlak nie. Inspirasie is nie iets wat met jou gebeur nie, dit is iets wat jy altyd in jou of by jou het - party mense onderdruk of ignoreer dit net, ander vat dit vir 'n uitstappie en skryf 'n liedjie of verf iets en ander gaan speel in 'n parkie. Ek glo "there are no ordinary moments and there are no ordinary things".

Jou musiek is misleidend eenvoudig en juis daarin lê die trefkrag. Dink jy jou klassieke onderrig help hiermee, of waaraan sou jy dit toeskryf?

My klassieke onderrig het vir my net een ding geleer: Why play a dead man's music if you can create your own? Ek dink die aspek wat my die meeste afgesit het van klassieke musiek, is dat die meeste van die ouens hulle opGEWROEG het. Die dudes was net nooit gelukkig in hulleself nie! Ek het nie 'n resep nie. Ek skryf maar soos die song na my toe kom. Musiek is daar, songs is daar … met of sonder my.
Music doesn't need me to write it … I need to write music.

Deur die unieke gebruik van jou stem plaas jy jouself in 'n kategorie wat heeltemal verskillend is van enige ander sanger in Suid-Afrika. Het jy stemopleiding ontvang as deel van jou klassieke opleiding of is dit net eenvoudig die styl waarin jy gemaklik gevoel het?

Ek het probeer, maar niemand het tot dusver kans gesien om vir my vocal training te gee nie. Daarom het ek toe besluit om maar net klanke te maak wat die emosie of gees van 'n song oordra. Ek sien myself nie 'n sangeres nie, want ek het nie die regte tegnieke en resepte nie.

Resensente is gaande oor jou en jy word vergelyk met kunstenaars soos Edie Brickell, Alanis Morisette, Toni Childs, Natalie Merchant en selfs Janis Joplin. Watter sangeresse het 'n impak gemaak op jou musiek en moontlik jou styl beïnvloed?

Mense vergelyk maar verskillende soorte musiek met mekaar om vir ander wat dit nog nooit gehoor het nie, 'n idee te gee van wat om te verwag, maar almal het hul eie klank/stem. Ek kan klanke net waardeer en bewonder. Ek gaan nie probeer om so te klink nie - niemand behoort te nie, want daardie spasie is klaar gevul. Ek luister graag na Janis Joplin, Tori Amos, Stevie Nicks, Melissa Ferrick, Sinéad O'Connor en ander. Maar omdat ek eintlik 'n kitaarspeler is wat myself net begelei met my stem om my liedjies te kan oordra, glo ek nie dat ware sangers soos hulle my beïnvloed het nie.

En male vocalists? Ek hoor Bruce Springsteen is een van jou gunstelinge?

Dis reg, ek is gek oor Bruce Springsteen, Eddie Vedder, Kevin Johansen, Tom Waits, Leonard Cohen, Damien Rice, Peter Gabriel, Jeff Buckely, Stevie Ray Vaughan. Daar is so baie, want almal het iets unieks aan hulle klank waarvan ek hou. En omdat dit my eerste liefde is, het ek natuurlik groot bewondering vir goeie kitaarspelers.

Jou onlangse optrede by Maloneys saam met Jan Blohm en Jakkie Louw was deel van die Tassenberg Legends Live-reeks. Watter Suid-Afrikaanse sanger is vir jou 'n ware legende in die musiekbedryf?

David Kramer, want hy is 'n individual en het baie gedoen om ander musikante te bevorder. En Miriam Makeba, want sy is net amazing! En Prophet was goed vir die ouens wat gehou het van goeie gospel-musiek.

Die jaar het jy vir die eerste keer by STRAB in Mosambiek saam met 'n hele paar blues-swaargewigte opgetree en onlangs ook saam met Karen Zoid. Is dit vir jou nog senutergend om met die groot name `n verhoog te deel?

Dit is 'n vreeslike voorreg om saam met ouens op die verhoog te wees wat so ervare is en so goed is met wat hulle doen. Daar is min goed wat vir my senutergend is - ek sien nie "groot name" nie, ek sien net nice mense wat awesome musiek maak en ek is so gelukkig dat ek daarna kan luister!

Jy het ook in Julie vanjaar aan die jaarlikse Landmine Rock Festival deelgeneem. Is daar enige spesifieke causes wat jou na aan die hart lê en waarby jy sou wou betrokke raak?

Ek glo daaraan om betrokke te wees by causes, maar veral by dit wat rondom jou aangaan. Wees nice met die ou wat jou petrol ingooi, behandel jou waitress met respek, smile vir die kwaai tannie in die tou by die bank en die chick by die counter in die poskantoor, ens, ens. Op so 'n manier help almal om die mense om jou se dae lekkerder en die lewe 'n beter plek te maak.

Om jou musiek aan 'n spesifieke styl te koppel is bykans onmoontlik – dalk grunge meets folk? Hoe sou jy jou styl self beskryf as jy regtig moes?

Ek dink dis 'n heel goeie beskrywing daardie – "grunge meets folk". Maar ek dink regtig ek het nie eintlik 'n styl nie – dis maar net stories en klanke wat ek doen. As ek 'n styl het, moet ek altyd so klink en dit maak my senuweeagtig, want ek moet dalk totaal anders klink vir 'n nuwe song.

Wat is volgende op jou to-do lysie? 'n Nuwe CD? Wêreldwye roem en wêreldoorheersing dalk?

Ek kyk regtig nie vreeslik vorentoe nie. Die oomblik waarin ek is, is vir my verskriklik lekker. Maar … musiek sal daar altyd wees – en koffie!

Foto: Naomi Bruwer

Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Lewies Botha
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur