| Tassenberg Legends Live: Valiant Swart oor sy nuwe CD, legendes en studentwees |
Sonja Badenhorst
Die Tassenberg Legends Live-reeks het onlangs op Stellenbosch afgeskop met die vrystelling van Valiant Swart se jongste CD, Vrydagaand/Saterdagaand. Die CD-vrystelling was die eerste in 'n reeks wat blootstelling bied aan legendariese Suid-Afrikaanse sangers en liedjieskrywers. Ek het met Valiant gaan praat oor die nuwe CD, legendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hoe dit voel om weer `n Matie te wees.
Valiant, eers 'n boeremusiek-CD saam met Ollie, 'n besluit om verder te studeer en nou 'n rustiger, meer minimalistiese CD met 'n country-aanslag. Moet ons bekommerd raak dat jy 'n midlife crisis beleef en voorstedelik gaan word of verander jy net van windrigting?
Nee, moenie bekommerd raak oor my nie. Ek doen maar net wat ek nog al die jare doen – ek vermaak myself. Die boeremusiek-album is iets wat ek al lankal wou doen, en op die jongste een was ek lus vir 'n kleiner, meer gestroopte produksie as die vorige klomp albums. My tweede album, wat twaalf jaar gelede uitgereik is, is baie meer laid-back as hierdie een. En ek het toe al in 'n gewone huis in 'n gewone woonbuurt gewoon.
dit was naweek, wilde weste en my kitaar was gelaai met liefde die snare het geritsel soos losgeknoopte vlegsels en Babylon se susters het gesweet in die dieptes” (Uit: “Vrydagaand/Saterdagaand”)
Die jongste CD se titel, Vrydagaand/Saterdagaand, verwys vanselfsprekend na die naweek. Het die titel ook 'n meer simboliese betekenis vir jou?
Vir my gaan die titel oor vloeibaarheid, oor wisselwerking, met as agtergrond Die Naweek – iets wat vir my besondere betekenis het, want op omtrent enige gegewe Vrydag/Saterdagaand is ek iewers besig om te werk, terwyl die meeste ander mense dan jôl.
blykbaar was ou Diesel ou Spook se tweelingbroer twee weeskinders, grootgemaak deur 'n barmhartige ou boer dié het twee beeldskone dogters gehad, en die oom was erg jaloers en soos die bye zoem was alles verdoem toe die manne en meisies vir mekaar begin loer (Uit: “Spook en Diesel”)
“Spook en Diesel” bevestig jou reputasie as storieverteller. Maak jy "mental notes" van stories en mense op jou reise deur die land of waar kom al die karakters vandaan?
Ja, ek "liasseer" my waarnemings. Ek ontmoet verskriklik baie mense, so ek kry te doen met allerhande soorte karakters. Al die mense wat my liedjies bevolk, woon in en om jou dorp.
corrosion catches up with even the best of hearts over time even the ones of gold can fail only movement and motion can prevent the rust and only the robust and the mobile ones will prevail (Uit: “maybe in slow motion”)
Vir die eerste keer in 'n lang tyd bevat een van jou CD’s Engelse snitte. Ek’s oortuig dit was nie 'n bewustelike of strategiese besluit vir bemarkingsdoeleindes nie. Was daar 'n ander motivering, of is dit maar hoe “maybe in slow motion”, “just another country song baby (don’t you forget)” en “heaven hills hotel” hulle aan jou voorgestel het?
Ek sit al so lank met hierdie Engelse songs – daar was net nog nooit 'n album waarop hulle regtig lekker tuis gehoort het nie. Ek geniet dit om in Engels te skryf en te sing, en ek moet dit eintlik meer doen. Maar jy's reg – dit was nie 'n bemarkingsbesluit nie. Ek is dom met sulke dinge.
kom ons braai terwyl ons kan kom ons braai terwyl ons nog kan betaal my gerus 'n bonus vir my buitengewone prestasie as ongeskoolde bouer van 'n bloedlose nasie (Uit: “kom ons braai”)
“Kom ons braai” is een van twee snitte op Vrydagaand/Saterdagaand met 'n meer politieke inslag sonder om ooglopend krities te wees oor ons regering. Is dit dalk weer tyd vir 'n oplewing in “protesmusiek” soos in die Voëlvry-dae?
Die tyd is altyd reg vir protesmusiek. Deesdae is dit nie besonder moeilik om iets te vind om oor te bitch nie, maar daar is reeds so 'n bietjie van 'n bandwagon waarmee ek nie heeltemal gemaklik is nie. In "kom ons braai" verwoord ek bloot die frustrasie wat ek ook soms ervaar – maar dit gaan nie net oor hoe dit "aan my kant van die draad" is nie. Dit gaan daaroor dat daar in die eerste plek nie 'n draad behoort te wees nie.
Jou loopbaan het begin as anti-establishment-musikant, maar deur die jare het jy 'n huishoudelike naam geword. Was dit moeilik om die twee uiterstes te versoen?
Mens groei mos maar so in 'n ding in. Ek het hard gewerk oor die jare en ek doen dit nog steeds, en hier en daar het 'n lucky break na my kant toe gekom. Dit was onafwendbaar dat ek gaandeweg meer bekend sou word, en dis tog een van die hoekstene vir sukses in die sfeer waarin ek werk. Ek geniet die vrugte van my arbeid, en ek deel dit met my gesin en almal rondom my. In my hart, en in my handel en wandel, is ek nog steeds dieselfde devil-may-care kitaarspeler wat twintig jaar gelede "nee dankie" gesê het vir 'n werk as vertaler in die parlement, en eerder met sy band die langpad gevat het.
Van gigs in Hidden Cellar voor klein skares tot die Huisgenoot Skouspel voor duisende … Voel die hele celebrity-fenomeen soms nog onwerklik?
Daar's oorgenoeg om my te herinner aan waar ek vandaan kom. Ek het onlangs op 'n Vrydagaand in Johannesburg R60 by die deur gemaak, en die Sondag se optrede is gekanselleer omdat daar geen besprekings was nie. Dit help om mens op die grond te hou, waar jy in elk geval behoort te wees, en dankbaar vir elke lastige groupie.
Gepraat van die Huisgenoot Skouspel: Hoe voel jy oor meer kommersiële Afrikaanse musiek – die Nicholis Louws en Amore Vittones van Suid-Afrikaanse musiek?
Ek ken baie van die kougom-brigade, so dis moeilik om iets negatiefs te sê, want behalwe vir een of twee ape, is die meeste van hulle baie nice. Maar ek maak geen geheim daarvan dat hulle musiek niks vir my doen nie, behalwe om my naar te maak. Fisies naar. Maar hulle het ook hulle plek, so ek los hulle maar uit, wat. Ek hoef mos nie na hulle te luister nie.
Song vir Katryn word op die oomblik weer uitgesaai. Sal jy dit ooit oorweeg om weer 'n akteur te wees of was een keer genoeg?
Ek sal dit enige dag weer doen. Dis baie bevredigende werk, vol interessante mense en plekke. Of ek dit sal kan regkry, is 'n ander kwessie. Ek is maar 'n baie beperkte "akteur", sonder enige opleiding. Om Jinx te speel was nie te moeilik nie – 'n ou wat in 'n band speel en agter 'n blonde kelnerin aan is; ek kon "relate", sien?
Jou CD-vrystelling in Dorpstraat Teater is die eerste een in die Tassenberg Legends Live-reeks. Wie in Suid-Afrikaanse musiek beskou jy as legendaries?
Sjoe, daar's baie – te veel om op te noem, eintlik. Ek het die afgelope jaar of twee 'n hele paar keer saam met Robin Auld opgetree – daar's nou vir jou 'n legende. 'n Fenomenale kitaarspeler, sanger en woordsmid, en hy sukkel om 'n bestaan in hierdie land te voer – in so 'n mate dat hy nou Engeland toe moet emigreer, waar daar 'n meer lewensvatbare "circuit" vir hom is. Dis hartseer.
Afrikaanse musiek beleef tans 'n ontploffing - veral jonger groepe soos Glaskas, Straatligkinders ens. Watter jong groep musikante beïndruk jou en is die moeite werd om dop te hou?
Daar's 'n paar wat baie belowend klink. Zinkplaat (ook nie meer so nuut nie) se nuwe album is baie, baie goed. Ek hoop Ryno Velvet loop die pad mooi. Hy lyk en klink na een van min wat ware substance het. Baie van die ander goed klink vir my vreeslik eenselwig. Dis óf sulke sub-Fokofpolisiekar-klone, óf nog midtempo akoestiese "rock" oor hoe die outjie na sy meisie in Londen verlang, of hoe hy wonder waar die boemelaar vanaand gaan slaap. Baie van die groepe is vir my ook so 'n bietjie "kumbaja", as jy weet wat ek bedoel.
Die SABC-reeks Jam Sandwich behels die samewerking tussen twee uiteenlopende Suid-Afrikaanse kunstenaars, 'n "jam session" en hopelik op die ou end 'n opname. Was dit vir jou 'n sinvolle en leersame ondervinding?
Ek was bevoorreg om in Durban saam met Madala Kunene, "King of the Zulu guitar", te gaan werk. Wat 'n ondervinding. Hy het my as sy seun aangeneem. Hy noem my "Willêm". Ons het vreeslik lekker gejam; ons kitaarstyle het mekaar nogal goed aangevul. Verder het ons gebraai en gekuier, en hy het my vir 'n hele Saterdag in KwaMashu, die groot township buite Durban, rondgeneem. Ons het met sy buddies gaan jam en sommer net 'n goeie tyd gehad. Hy's nou op pad om vir my te kom kuier. Ons gaan twee optredes in Stellenbosch doen. En braai, vanselfsprekend.
somer 86, die foto's is vaal die winter se vendetta het ons ingehaal hoeveel bly nog oor, wat is nog waar? somer 86, dis al langer as twintig jaar (Uit: “somer 86”)
Jy’s na etlike jare (ons sal nie sê hoeveel nie) weer 'n student en Matie. Is dit 'n groot aanpassing?
Ja, dis nogal 'n aanpassing. Ek moet tussen die nimmereindigende toere en optredes, die rubriekskrywery en die huishoudelike en gesinsdinge tyd inruim vir die studies, en dis nogal moeilik. Die kursus behels ontsaglik baie leeswerk, en dan is daar die ellelange werksopdragte, wat alles in strakke akademiese styl aangebied moet word. Maar ek vind die werk hoogs stimulerend. Dis nogal 'n uitdaging, maar sover oorleef ek. En die punte lyk glad nie sleg nie, so ek doen iéts reg!
Vir amper twee dekades is Pierre Nolte en Valiant Swart een mens. Het jy ooit gedink jou alter ego gaan so lank die pad saam met jou stap?
Die "alter ego" was nie 'n langtermyn-toekomsplan nie. Aanvanklik was dit net 'n verhoognaam, nie 'n karakter met 'n aparte lewe nie, en dis wat dit nog steeds is: 'n verhoognaam. Pierre en Valiant is presies dieselfde ou. Alhoewel hulle mekaar nogal kan manipuleer wanneer dit hulle pas. Die bliksems.
• Vir meer inligting oor die Tassenberg Legends Live–reeks, kontak Karlien Kuun by karlien@oppikoppi.co.za of besoek Oppikoppi se tuisblad, http://www.oppikoppi.co.za.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|