| |
 |
| Vra ons perdalks die verkeerde vraag? |
Johan Swarts
Gewoonlik is ek 'n filantroop, maar dit was laat en die kakkerlak het ekstra-grillerig bo my lessenaarlampie geblink. Die Doom kom uit (dit ruik na sitrus) gekom, my vinger spring uit en krul om die plastieksneller, die gifsproei spuit uit. Die kakkerlak, verstar teen die muur, het verskeie kere sy eie hoogte na benede geval, van die hoek van my rekenaarskerm af gekets en tussen my koshuisnetwerkpunt en my bedpoot beland.
Ek het iets doodgemaak.
Daar is 'n plaag van die goed in die koshuis en hierdie een het dalk selfs 'n siekte of twee gedra, so dit het nie veel oorweging geneem om sy lewe kort te knip nie. Ek het niks gehad om te vrees nie (kakkerlakke verander mos nie eintlik in vigilantes nie), geen morele verpligtinge gehad om na te kom nie en geen skuldgevoelens wat na die tyd in my kon sweer nie. Ek kon net spuit.
Daar is ooglopende verskille tussen die gewelddadige dood van 'n kakkerlak en dié van 'n mens. Die kakkerlak het nie veel van 'n bewussyn nie, die kakkerlak beleef nie psigiese trauma soos aanranding- en verkragtingslagoffers dit doen nie, die kakkerlak wonder nie paniekerig wat van sy kinders gaan word nie, die kakkerlak gil nie van pyn nie, die kakkerlak verstik nie in sy eie bloed nie. Bowenal: die kakkerlak is nie rasioneel nie. Die kakkerlak gaan nie blog nie, die kakkerlak sal nie De Sade lees nie, die kakkerlak sal nooit vir Rammstein waardeer nie.
Dis tog ten diepste waaroor die pleidooi vir die behoud van menslike lewe gaan. Rasionaliteit. Was die kakkerlak rasioneel, het ek dalk skuldig gevoel oor die gifpandemonium waarin ek hom gedompel het. Dan het ek hom eerder vriendelik versoek om tog asseblief van my muur af te klim; moontlik selfs 'n bietjie met hom onderhandel. Eers as hy 'n televisie op sy rug gedra en 'n rewolwer op my gerig het, het die Doom dalk uitgekom.
Daar is iets aan die dood van 'n mens wat hom (die besware van vegetariërs ten spyt) radikaal onderskei van selfs sy mees ontwikkelde primaatbroers. Om 'n dier dood te maak, is om 'n lewe te neem, maar om 'n mens dood te maak, is om 'n amper oneindige horison van sintuiglike indrukke, emosies, intellektuele potensiaal, toekomstige innovering en 'n warboel ander dinge binne 'n oogwink uit te wis. Die behoud van menslike lewe is nie net die behoud van respirasie of osmose nie – dis die behoud van rasionaliteit.
Moet die doodstraf, in die naam van die behoud van rasionaliteit, soos kakkerlakgif op Suid-Afrika neer reën?
Niemand weet eintlik nie. Uit die talle goeie argumente wat al ten gunste van én teen die doodstraf geopper is, raak dit duidelik dat daar nog nie 'n klinkklare antwoord op hierdie vraagstuk is nie. Ja, meen die pro-kamp: dis tog regverdige retribusie en dit verhoed toekomstige wandade. Nee, maan die anti-kamp: dis inkongruent met basiese menseregte, daar is geen bewyse dat dit misdaad verhoed nie en ons kan in ieder geval nie sommer weer iets instel wat in die verlede soveel onnodige en onregverdige leed veroorsaak het nie. Die volk sweer nog.
Bostaande is goeie argumente, maar steeds ontwyk ’n antwoord über alles ons. Vra ons perdalks die verkeerde vraag?
Die vraag oor die herinstelling van die doodstraf, sou ’n mens kon aanvoer, is lomp. Om bloot te wil weet: “Moet ons die doodstraf in Suid-Afrika herinstel" sonder om by te voeg: “ten einde [x] te bewerkstellig?” kan lei tot debatte waar deelnemers in sirkels praat. Te veel ongenoemde dinge word reeds so veronderstel. Beter vrae sou dalk wees: Sal die herinstelling van die doodstraf ’n afskrikmiddel vir toekomstige misdadigers wees? Is menseregte essensieel? Wanneer en tot op watter vlak moet vergelding in die samelewing plaasvind? Vra ’n mens hierdie en ander vrae, sit jy met die kwessie van watter norme of dissiplines instrumenteel sal wees tot die besluit. Moet ons na godsdiens luister? Die wetenskap? Filosofie? Sielkunde? ’n Twee-derdes-meerderheid? Ander lande? Instink? 'n Kombinasie hiervan?
Kom ons vergeet dus gerieflikheidshalwe van die oorspronklike vraag en wend ons eerder tot ’n dieperliggende kwessie. Terug na die gifmoord. Die uitwissing van die kakkerlak bo my lampie het my tydelik gerusgestel dat my koshuiskamer kakkerlakvry is, terwyl die realiteit is dat hulle heimlik by 'n kraak langs my wasbak uitkruip. Op die oog af lyk dit asof die probleem opgelos is, maar in realiteit was dit nooit 'n oplossing om mee te begin nie. Al stel ek ’n honderd kakkerlakke teen my muur tereg, gaan ek hulle nie stuit nie, omdat ek die simptome van die plaag eerder as die bron teiken.
Eweneens sal die herinstelling van die doodstraf in die huidige Suid-Afrika in wese maar ’n poging wees om die simptome van ’n steeds geprangde samelewing te probeer dooddruk. Ons kan soveel mense teregstel as wat ons wil; ons kan dit aan die groot klok hang en dit uitbasuin oor radiogolwe en in koerante – dit gaan steeds nie die bron van die talle sinnelose, gewelddadige misdade in die kiem smoor nie. Al skiet ons ’n leërskare bendelede dood op die Kaapse vlaktes, gaan dit nie keer dat armes hulle in die toekoms tot misdaad wend nie.
Suid-Afrikaners benodig eerder dringend ’n goeie skoot rasionaliteit. Sodra ons ’n rasionele waardering vir lewe by almal (of ten minste baie) kan kweek, kan ons opnuut oor die verskillende aspekte van die doodstraf redeneer. Tot dan sal geen galg op aarde ons red nie. Miskien moet ons daarom ophou redekawel oor die dooddruk van simptome en eerder die oorsprong van die kwaad teiken – miskien sal dit ons deug om allereers ons burgers en hulle kinders op te voed, lewenstandaarde en rasseverhoudinge te verbeter, ontslae te raak van onverantwoordelike en kortsigtige politieke retoriek, die drogbeelde van welsynsteologie uit te roei en seker te maak hier is wérklik ’n toekoms vir almal.
Die arm kind het nie nog 'n wet nodig nie. Hy wil geletterdheid hê.
Daar is talle uitsonderings op die redenasie hier bo – hartstogmoorde is maar een. Die huidige karnaval van geweld smeek egter vir opvoeding. Ons mag nie so kortsigtig wees om te dink dat die doodstraf nóú ons probleme gaan oplos nie. ’n Korttermyn-oplossing is daar nie. Eers wanneer die wortel van die kwaad uitgekap is – wanneer die gat onder die wasbak gestop is en die drein vol insekdoder is – kan ons dit met reg heroorweeg om ons kamermuur met blikkies gif te bewaak. Tot dan mors ons ons asem.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|