| |
 |
| Referendum vir herinstelling van doodstraf |
Christof de Kock
In 2006 het ek ‘n petisie geloods op die internet vir die herinstelling van die doodstraf nadat vele wrede moorde gepleeg is en steeds voortgaan in Suid-Afrika. Dit het gevoel, en voel al hoe meer, asof ons land oorgeneem word deur misdadigers wat glo dat hul kan moor en plunder soos hul wil en geen meegevoel het vir hul medemens nie.
Die doodstraf is in Suid-Afrika afgeskaf met die inhuldiging van ons nuwe konstitusie in 1995. Die regering was van mening dat die doodstraf in die verlede om die verkeerde redes opgelê is, onder meer politieke oortredinge. Daar is ook gevoel dat die inwoners van Suid-Afrika dan in vrede en voorspoed sal saamleef. Dit het wel gebeur, maar die kriminele element in die samelewing het die skuiwergate in ons konstitusie gesien en is besig om dit uit te buit.
Voor 1994 is roof met verswarende omstandighede gepenaliseer met 15 jaar tot lewenslange tronkstraf. Indien koelbloedige moord gepleeg is, sou die doodsvonnis toegepas word. Tans kry die misdadiger vir dieselfde oortreding ook 15 jaar tot lewenslange tronkstraf, al het hy tien mense om die lewe gebring. Lewenslange tronkstraf word selde uitgedien, aangesien die misdadiger na ‘n paar jaar kan aansoek doen om parool indien hy hom goed gedra het in die gevangenis. Vele moordenaars het weer gemoor nadat hulle op parool vrygelaat is.
Slagoffers van misdaad word wreed aangerand en vermoor vir ‘n bietjie geld, selfone en dies meer. Moordenaars gebruik ook deesdae die wreedste metodes om hul slagoffers om die lewe te bring. Hier dink ‘n mens aan slagoffers soos Brett Goldin, Sheldean Human en vele ander wat hul lewens op wrede wyse verloor het.
Moordenaars word lewenslank gevonnis. Hierna word hul gevangenis toe gestuur waar hul moontlik hul moordneigings kan gaan voortsit op medegevangenes. Hoe sou u as gevangene voel as ‘n moordenaar van klein kindertjies saam met u opgesluit word en geen respek vir sy medemens het nie? Buiten sy vryheid wat hom ontneem is, het hierdie moordenaar, wat die lewe en regte van sy medeburger geneem het, nou volle regte as burger van hierdie land. Hy mag stem as burger, hy het die reg op gesondheids-, opvoedkundige en sosiale dienste. Menige van die arm burgers van hierdie land is nie so bevoorreg om toegang te hê tot hierdie dienste waarop die gevangenes geregtig is nie. Hoekom word daar soveel van die belastingbetalers se geld gespandeer op moordenaars wat nie hulle medemens iets gun in die lewe nie? Wat sou gebeur as ‘n derde van die bevolking in die tronk sit vir moord en die res van die land moet vir hul sorg? Ek glo ons is wel vinnig op pad na hierdie situasie.
By die oplê van vonnisse tydens hofuitsprake het vele regters hul gevoelens uitgespreek deur te noem dat hul graag die doodsvonnis sou wou oplê vir die manier waarop die moordenaar sy slagoffer om die lewe gebring het. Hier gebruik ek die voorbeeld van regter Gerhardus Hattingh, wat gesê het dat die konstitusie die slagoffer gefaal het en as die meerderheid van die volk wil hê dat die doodstraf weer ingestel moet word, moet daar aan die volk se versoek voldoen word.
Die enigste manier waarop die gevoel van die inwoners van Suid-Afrika getoets kan word vir die herinstelling van die doodstraf, is om ‘n referendum te hou.
Ek glo natuurlik nie dat elke moordenaar outomaties die doodstraf opgelê moet word nie. Byvoorbeeld, vir koelbloedige moord op bejaardes, kinders en polisielede, sou die doodsvonnis opgelê kon word. Die staat sou bo alle twyfel aan die regbank bewys moet kan lewer dat die beskuldigde skuldig is aan die misdaad. Die beskuldigde sou ook die reg moet hê om te appelleer teen die uitspraak.
Daar is uit verskeie oorde gemeld dat die doodstraf nie in ons beskaafde samelewing hoort nie. Graag wil ek weet of ons wel so beskaafd is as wat ons voorkom? Die wêreld is vol geweld, met oorloë regoor die wêreld en wat gevoer word deur eerstewêreld-lande wat “beskaafd” moet voorkom. ‘n Oorlog is sekerlik een van die onbeskaafdste dinge waar onskuldige mense se lewens in gedrang kom.
Ek glo wel dat die terdoodveroordeelde sy menswaardigheid tot die einde moet behou en dat hy nie verkleineer moet word soos wat die geval was met president Saddam Hoesein nie. Die doodsvonnis moet so ver moontlik vinnig en sonder lyding voltrek word.
‘n Aantal politieke partye het reeds die regering versoek om ‘n referendum uit te roep vir die herinstelling van die doodstraf, maar hy wil dit tans nie doen nie. Ek is van mening is dat die regering weet die meerderheid van die bevolking sal stem vir die herinstelling daarvan. Op die internet is verskeie stempeilings vir die herinstelling van die doodstraf gehou. Die meerderheid van die internet-intekenaars het vir die herinstelling daarvan gestem.
Ek voel tans, soos ‘n groot deel van die inwoners van hierdie land, dat die regering en politieke partye nie na hul kiesers luister nie. Dit sal beteken dat die landsburgers in opstand moet kom om die regering van besluit te laat verander om wel ‘n referendum uit te roep, aangesien praat en skryf nie meer help nie.
Graag versoek ek my medelandsburgers om my webwerf te besoek by www.doodstraf.co.za om hul stem te laat geld en om aan die regering te wys dat ons dit almal eens is vir ‘n referendum vir die herinstelling van die doodstraf in Suid-Afrika.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|