| IL de Villiers (1936 - 2009 ) |
Gebore en getoë Izak Louis de Villiers is op 30 Julie 1936 in die Paarl gebore, sy ouers se enigste kind. Sy ma, ’n formidabele vrou, was al duskant veertig toe hy sy eerste skree gegee het. Izak was so drie of vier jaar oud toe sy ma hom in die Paarl vir ’n toetsdaggie kleuterskool toe stuur om te kyk of hy sal aanpas. Na net ’n uur baklei hy so met die kinders (hy het een glo met ’n vragmotortjie oor die kop geslaan) dat die juffrou vra dat sy hom liewer nie weer moet bring nie. Sy ma het hom sulke dingesklere laat aantrek, onthou hy: “Een daarvan was ’n sailor suitjie met wit skoene en buckles en so ’n keppie op my kop. Dan sê die ander kinders: 'Kyk, Izak het in die karringmelk geval.' Dit het my baie ellendes besorg, want dan’t die vuiste uitgekom.” Sy moeder was “’n eienaardige mengsel van skerts en erns. Sy kon die gruwelooslikste grappe vertel. ’n Mens het ’n paar groot en emosionele skokke in jou lewe wat jy moet oorkom ... haar dood was vir my een.” Sy pa was ’n wynmaker by die KWV in die Paarl – ’n stil man, ’n leser en iemand wie se waarde hy eers na jare besef het. Hy gaan skool aan die Paarl Gimnasium, waar hy matrikuleer. Hy vertel dat hy van kleintyd af gefassineer was met God. Hy was ’n alleenkind en kan onthou hoe hy eenmaal in die klas sit en dink het oor die ewigheid en die volgende oomblik gooi die juffrou hom met ’n stuk kryt: “Ek dink nou nog baie oor die sin van die lewe. Ek dink nog soms so, dan gooi die lewe my met ’n stuk kryt!” Izak het van kleins af ook ’n liefde vir dig gehad en as sewejarige het hy vyf sjielings verdien met sy eerste gedig wat hy na Die Klein Burger gestuur het. Verdere studies en werk Na skool gaan Izak na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die grade BA, BA Honneurs, MA en die Lisensiaat in die Teologie, almal cum laude, behaal. In 1962 word die Croll-stipendium aan hom toegeken. Hy was redakteur van die universiteitsblad, wat dalk die eerste saadjie vir sy latere joernalistieke loopbaan geplant het. Izak se eerste gemeente is die NG gemeente in Albertinia in die Suid-Kaap, waar hy van 1963 tot 1968 predikant is. Van 1969 tot 1972 bedien hy die NG gemeente Bonnievale, ook in die Suid-Kaap, en in 1973 is hy na die gemeente Constantia in die Kaapse Skiereiland, waar hy bly tot sy aanvaarding van die redakteurskap van die vrouetydskrif Sarie in 1983. In 1960 trou hy met Rina Visser, ’n meisie van die destydse Suidwes-Afrika, en hulle het drie kinders, Louis en Jacques. Sedert 1973 doen hy vryskutwerk vir Die Burger, en baie radiowerk, en word hy gekeur as programaanbieder van ’n godsdiensreeks op televisie. Al hierdie aktiwiteite is die aanloop tot sy latere joernalistieke loopbaan as redakteur van Sarie en die Sondagkoerant Rapport. In 1983 word Izak aangestel as redakteur van Sarie. Hy erken self dat sy jare as redakteur van Sarie die heel beste van sy lewe was. Hy neem die leisels by Sarie oor toe die tydskrif in “diep waters” verkeer, maar onder sy bekwame leiding word sy ’n markleier. Volgens hom het hy die perfekte span by Sarie gehad en was hy gelukkig om die regte mense op die regte tyd bymekaar te gehad het. Sarie oortref alle verwagtings en die sirkulasiesyfers is op ’n stadium 240 000. Dit is ook in hierdie dae dat Izak sy groot aanhang onder vrouelesers opgebou het. Dalk is dit omdat hy onder sy ma se basaartafels grootgeword het en saans saam met haar vir die ACVV in die Paarl se strate gekollekteer het dat hy ’n “toespraaktreffer” geword het. Hy kon van enigiets ’n praatjie en ’n lessie maak. Izak verlaat in 1991 die redakteurstoel van Sarie vir die nóg warmer een van die Rapport. In ’n tyd toe Rapport nie juis ’n reputasie gehad het as ’n konserwatiewe koerant nie, maak Izak se aanstelling opslae. Predikante is ook nie veronderstel om die Sondagkoerant te lees nie, wat staan nog redakteur van een te wees! “Ek het sedert die verskyning van die Sondagkoerant gereeld een gekoop. Toe was ek nog ’n jong predikant, en ek het lekker gelees. Ek het dikwels die aanknopingspunt vir my Sondagaandpreek uit die dag se koerant gekry. Nee, ek het gewetensbesware oor ander goed, maar oor die beginsel van ’n Sondagkoerant? Nog nooit.” Izak stel sy visie vir Rapport in sy eerste rubriek as hoofredakteur so: “Rapport sal in dié land die boodskap van Die Werklikheid baie duidelik maak. Saam met almal, van die hoogste tot die nederigste, wat nie wil sien hoe die verwoesting van ’n vroeë Armageddon op ons neerdaal nie. Meer, Rapport sal ook wys op die werklikheid van hoop, dat daar vorentoe lig is – soms dof en soms helder.” Een van sy groot vreugdes in sy jare by Rapport was die politieke hekelrubriek Pollux wat hom partymaal kwalik geneem is. In 1997 tree Izak uit as Rapport se redakteur. Min redakteurs kan terugkyk en sê dat hulle in hul leeftyd die problematiese lotgevalle van twee publikasies suksesvol op die regte pad gelei het. Izak en Rina woon sedert 1990 in Johannesburg, waar hy nou voltyds skryf. Sy eerste digbundel, Leitourgos, verskyn in 1972. Dit was die eerste digbundel wat ’n Afrikaanse predikant uit en oor die bediening geskryf het. Nog ses digbundels volg, waarvan die jongste, Vervreemdeling, in 2008 verskyn. Sy vorige bundel, Jerusalem tot Johannesburg, word in 2006 met die M-Net-prys vir Poësie bekroon. Izak is ’n baie gewilde rubriekskrywer en behartig vir ’n hele ruk die agterblad in Sarie. Van hierdie rubrieke word gebundel in publikasies soos Teen winter en ontnugtering, Die goeie sal lewe, Die koningin se voetkombersie, Die geluk van onsin: ’n anderse kyk na dinge wat saak maak, Sieners van die môre en Die glimlag van God. Drie kinderboekies deur Izak verskyn ook, naamlik Eerste dankgebede, Eerste gebede en Eerste Bybelversies. In 1986 word Izak bekroon met die Andrew Murray-prys vir sy boek Depressie, die siekte van ons tyd. Met die ontvangs van hierdie prys sê Izak: “Die toekenning van hierdie prys bevestig vir ’n mens dat dié talent wat jy weet jy het, maar waaraan jy tog soms twyfel, werklik daar is.” Volgens die beoordelaars het Izak ’n “siekte” waaraan hy self ook gely het, grondig ondersoek, professionele advies ingewin, en ’n werk geskryf wat van kennis, insig, begrip en deernis getuig. In 1980 ontvang Izak die Credo-prys vir Christelike Lektuur vir Leviet en vreemdeling. Hierdie prys is jaarliks toegeken deur die NG Kerk-uitgewers in Kaapstad. Izak was ook een van die Gesangberymers van die nuwe Gesangboek wat in die sewentigerjare verskyn het. Izak lewer ook gereeld radiopraatjies in die destydse Vrouerubriek oor die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika. Hy maak sy radiodebuut nogal in Engels in die Langenhovenjaar met ’n reeks Christelike essays. In die tagtigerjare behartig hy ook ’n Sondagaandprogram, Godsdiens-aktueel, waarin hy onderhoude met bekende persoonlikhede voer. Hy behartig ook ’n gereelde rubriek, Woord en wêreld, elke Saterdag in Beeld, Die Burger, Volksblad en Die Oosterlig. Hierdie rubrieke word in 1976 deur Tafelberg Uitgewers gebundel onder die titel Te vroeg vir moedverloor. In 1998 word die FAK se Prestigeprys aan Izak toegeken vir die besondere wyse waarop hy Afrikaans bevorder het deur die joernalistiek en as digter en skrywer. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 2002 die DF Malan-medalje aan Izak toe en hy ontvang ook die Orde van die Disa (Offisiersklas) van die Wes-Kaapse regering. Hierdie toekennings word toegeken aan persone wat werk van hoogstaande gehalte lewer ter bevordering van die Afrikaanse kultuur. Met sy politieke kommentaar in Rapport het hy in daardie stadium as een van die belangrike meningvormers na vore getree. Met sy skryfwerk lewer hy ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die Afrikaanse intellektuele wêreld. Piet Cillié, voormalige voorsitter van Nasionale Pers, is een van Izak se mentors. “Hy het van my ’n persman gemaak, my ghoeroe geword, ’n soort vaderfiguur.” Piet Cillié beskryf Izak as “die veelsydigste Afrikaanse joernalis sedert Langenhoven”. Hy skryf reeds 31 jaar lank die Agterblad van Sarie. Tans help hy as Leraar by die N.G. Gemeente Aasvoëlkop (Northcliff). Sy artkels oor kankernavorsing het hom die Media-prys van die Nasionale Kankervereniging in 1987 besorg. Hy was ‘n stigterslid van die Chris Burger- fonds vir beseerde rugbyspelers, voorsitter van die Otto du Plessis-kollege vir verpleegkundiges, lid van die Mediaraad, lid van die Uitvoerende Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het ook twee goue toekennings ontvang vir "Beste Publikasie" van die Christelike Boekhandelaarsvereniging. Daniel Hugo noem hom: "die beste mistieke digter in Afrikaans naas Sheila Cussons". Izak lewer in 2004 die preek tydens Sheila Cussons se gedenkdiens na haar afsterwe. Publikasies: Artikels oor IL de Villiers beskikbaar op die internet Artikels en publikasies deur IL de Villiers beskikbaar op die internet
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|