| Rachelle Greeff (1957 - ) |
Gebore en getoë Rachelle Nelia Greeff is op 31 Augustus 1957 in Bellville gebore as die jongste kind en enigste dogter van Thys en Lida (gebore De Villiers) Greeff. Sy het twee ouer broers, Frederik Christoffel en Albertus. Op driejarige ouderdom word sy deur ’n virus platgetrek en moet sy weer van voor af leer loop. Sy begin haar skoolloopbaan aan die Bellville-Noord Laerskool, maar verhuis daarna saam met haar ouers na die suidelike voorstede, waar haar pa skoolhoof was by Westlake en aan die Laerskool Kirstenhof – by laasgenoemde tot sy aftrede. Sy gaan ook skool by genoemde twee skole. Met die trek na Tokai op sesjarige ouderdom was dit vir Rachelle soos die platteland. “Ons het in die Tokai-bos gespeel. Ek wou altyd méér maak van iets as wat dit is: die ou dennebos met ’n klein stroompie is in my kop getransendeer of geromantiseer, ek het my verbeelding ingespan om magic te maak. Die reuk van dennenaalde is nou nog vir my een van die mees helende, wonderlike geure.” Rachelle matrikuleer aan die Hoërskool Zwaanswyk in Retreat. Haar skooljare word gekenmerk deur bo gemiddelde skoolwerk, ’n baie besliste aversie vir sport en verwante bedrywighede, met ’n sterk voorliefde vir lees, skryf, voordrag, toneel, musiek en enigiets anders wat op die kunste betrekking het. Sy begin reeds as kind gediggies skryf en gaan wys dit vir Izak de Villiers toe sy so twaalf, dertien was. "Sy reaksie was: 'Meisiekind, ek voorspel dat jy eendag ’n digter gaan wees, nie ’n groot digter nie, so ’n middelmatige een soos ...' Toe noem hy iemand se naam.” Die eerste boek wat haar verbeelding aangegryp het, is Die wonderbaarlike reise van Nils Holgerson. Haar pa het vir hulle daaruit voorgelees. “Ek het op die mat gesit en ek onthou die buiteblad van die boek: ’n vet wit gans met ’n klein seuntjie met keppietjie wat op sy rug ry. Dit was totale magic, ek kon nie glo daar is sulke plekke en mense buite ons klein wêreld nie. (...) Ander boeke wat my gevorm het, was Stories van Rivierplaas en al Alba Bouwer se boeke. Die Huppelkind-boeke, omdat dit so poëties was.” Verdere studies en werk Na matriek gaan Rachelle na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy ’n BDrama-graad behaal en ’n honneursgraad (cum laude) in joernalistiek. Gedurende haar studentejare is sy betrokke by die studentekoerant Die Matie, en word gediggies van haar in Penseel en in die jaarblad van die universiteit gepubliseer. Sy sê self dat haar dramagraad gekenmerk is deur skeelhoofpyne voor opvoerings en ’n hartstog vir die voordra van gedigte. Rachelle begin haar joernalistieke loopbaan by NG Kerk-uitgewers, waar sy vir ’n kort rukkie onder die skrywer Berta Smit werk. Daarna gaan sy na Die Burger en Die Huisgenoot. Sedert 1986 is sy vryskutjoernalis by Sarie, Wynboer en Mail & Guardian. Sy doen ook vertalings en proefleeswerk en skryf kopie vir ’n reklamemaatskappy. Sy lewer ook gereeld bydraes vir De Kat. Sedert 2006 is Rachelle die boekeredakteur by Rapport. In 1988 begin Rachelle werk aan kortverhale en stuur sy ’n paar stories, wat by Petra Müller beland. Petra hou baie daarvan en gee raad, en in 1990 word Rachelle se eerste bundel kortverhale, Die rugkant van die bruid, gepubliseer, wat in 1991 met die CNA- debuutprys bekroon word. Sy is baie aangemoedig deur skrywers en vriende soos Etienne van Heerden en Koos Prinsloo. In 1993 word haar tweede bundel kortverhale, Onwaarskynlike engele, gepubliseer. Oor hierdie tweede bundel sê sy: “’n Eerste boek is makliker. Jy’s soos ’n maagd. In jou onskuld sit en skryf jy wat jy wil terwyl jy eintlik nie weet wat jy doen nie. Jy doen net, sonder gedagte of vrees. Maar dan verskyn die boek en die resensies en skielik kry jou werk name. En met die tweede boek bevraagteken jy skielik wat jy doen.” In 1993 en 1994 is Rachelle die samesteller van onderskeidelik Veerkrag en LyfSpel: erotiese kortverhale deur Suid-Afrikaanse vroue = BodyPlay: erotic short stories by South African women. Skryf is vir Rachelle ’n daaglikse roetine – sy skryf van soggens tot so net na middagete, maar na gelang van die stadium waarin ’n projek is, kan sy vroeg soggens of laat saans aangaan. Wanneer haar twee seuns, Ferdinand en Albertus, naweke na hulle pa gaan, gebruik sy van daardie tyd om te werk en te lees – iets wat onlosmaaklik deel is van haar lewe. In haar studeerkamer voor haar rekenaar veg van haar vele katte gewoonlik vir ’n plek op haar skoot terwyl sy werk. “Aan die skryfproses is niks esoteries of romanties nie. Dis maar net nog ’n gewone werk wat vroeg soggens begin met ’n wekker wat lui en ’n onwilligheid om op te staan en jou dag te begin. Joga help met fokus en konsentrasie. Ná ’n kopstaan is ek so skerp soos ’n lem. Helaas kan ek nie op my kop staan en skryf nie.” In 1996 verskyn haar eerste roman, Al die windrigtings van my wêreld, wat in Duits en Nederlands vertaal word. Rachelle het onseker en weerloos gevoel na die verskyning van van die roman, omdat die maak daarvan onvolledig was. Daar was foute in die redigering en ’n klomp onsekerhede. Met die vertaling van die boek in Engels bring sy veranderinge aan en herskryf dit. Sy luister ook na resensente en volgens haar is die vertaling ’n beter boek. Om al hierdie redes voel sy dat sy leiding nodig het met die skryf van haar volgende roman – die “veiligheidsnet” wat ’n skryfkursus bied. Sy doen gevolglik aansoek om ’n M-Net-beurs om 'n M-graad in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden te voltooi. Sy wen die beurs en behaal haar graad cum laude, en die roman Spieël in ’n raaisel, wat oor vuurtoringwagters en eenkantmense handel, is een van die finaliste vir Insig-Kwela-Sanlam se romanwedstryd in 2001. Dit word in 2002 onder die titel Hanna gepubliseer. Met haar kortverhaal "Tell him it is never too late" verwerf Rachelle in 1999 die Sanlam-letterkundeprys. Dit is die eerste maal dat ’n Afrikaanse skrywer hierdie prys wen. Die kortverhaal handel oor menslike verhoudings, kinderloosheid en die kwesbaarheid van ouer mense. Volgens Rachelle het sy deur Engels bewus geword van die verskrikking van apartheid en was dit “haar hang glider na die regte wêreld, verby die naald van die NG Kerk en die Taalmonument”. En hoewel sy nou met die prys haar deurbraak in Engels gemaak het, oorweeg sy dit nie om op te hou skryf in Afrikaans nie. “Dit is steeds die taal van my drome, my gebede, my hoop. As ek huil, doen ek dit in Afrikaans. My lag is ook in my moedertaal.” In 2003 word dieselfde kortverhaal benoem vir die kortlys van die Caine-prys vir ’n Engelse kortverhaal wat deur ’n Afrika-skrywer in Afrika of elders geskryf en gepubliseer is. In September 2001 huiwer Rachelle nie om haar mening te lug oor die uitnodiging van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) om Allan Boesak te nooi om by hulle jaarvergadering op te tree nie. Sy voel dat ’n politikus nie veel vir die skeppende siel te sê het nie. In ’n kwaai brief aan Die Burger lug sy haar mening deeglik. Sy is egter nie “’n kruisvaarder” nie, maar sal in uiterste gevalle iets na buite doen of sê – soos met die Boesak-brief of soos met haar betrokkenheid by die Black Sash-beweging in die tagtigerjare. Intussen verskyn ’n bundel, Spektakels en mirakels (1998), wat ’n samestelling is van haar bydraes tot Sarie se agterblaaie, asook ’n aantal kinderboeke – Enebene en ander (1996), Net perfek (1999) en ’n Ma moet soms jok (2004). Net perfek word in 2000 deur jong lesers aangewys as die wenner in die kategorie drie tot vyf jaar van die ATKV-Kinderboekprys. In 2002 word haar kortverhaalbundel Merke van die nag gepubliseer, waarmee sy in 2002 die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk verower. In hierdie verhale word die temas bloedskande, dood, depressie en erotiek aangespreek. Volgens die beoordelaars van die RAU-prys lê Greeff se vernuf as prosateur by uitstek in die wyse waarop sy vertel. Haar prosa is visueel en poëties, geskryf met ’n hiperbewustheid van die waarde van die woord. Sy verras telkens met onthutsende beelde en trefsekere beskrywings. In 2006 verskyn nog ’n kortverhaalbundel, Palazzo van die laaste dans, en in 2008 haar rubriekversameling Alles behalwe die geheim van my whiskies. Volgens haar is rubrieke en kortverhale twee verskillende aspekte van haar. Rubrieke is vir haar lekker. “Ek het ’n oog vir ’n ding wat ’n rubriek kan word. Hoewel ek soos almal deur tye van enorme donkerte, neerslagtigheid of melancholie gaan, het ek ook ’n onblusbare nuuskierigheid, die lus om dinge te verstaan, mense te sien en na plekke te gaan ... ek land altyd op my voete. Heel teenstrydig is ek ook enorm huisvas, enorm privaat.” Van Rachelle se kortverhale is opgeneem in bundels wat in Amerika, Nederland, Denemarke en België verskyn het. In 2005 is Rachelle die wenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie met haar kortverhaal "Swiets in Rhodesië". Tans werk sy aan ’n drama, Die naaimasjien, wat gegrond is op ’n kortverhaal wat sy vir By geskryf het. Saartjie Botha, die bekende dramaturg, stel belang om dit op te voer. Publikasies: Rachelle Greeff as samesteller - Veerkrag. Kaapstad: Oxford University Press, 1993 (ISBN 0195708849 (sb))
- LyfSpel: erotiese kortverhale deur Suid-Afrikaanse vroue = BodyPlay: erotic short stories by South African women. Pretoria: HAUM, 1994 (ISBN 0798634839 (sb))
Artikels oor Rachelle Greeff beskikbaar op die internet Artikels deur Rachelle Greeff beskikbaar op die internet  Bygewerk: 2008-05-07 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|