| Joan Hambidge hou ’n stetoskoop teen Gilbert Gibson se hart |
Joan Hambidge, Gilbert Gibson
Jy het met twee bundels 'n enorme tegniese impak gehad. Hoe sien jy tegniek? Oor baie van poëtiese tegniek is ek waarskynlik ’n bietjie onkundig. Name soos vergelyking, metafoor, metodes van personifikasie, die hiperbool, alliterasie en assonansie, onomatopee en diesulkes is vir my op die beste slegs herinneringe aan lang Afrikaanse periodes op hoërskool. ’n Gebore skrywer besit waarskynlik ’n soort van intuïtiewe manier om hierdie tegniese aspekte aan te wend, sonder om te veel daaroor of daaraan te dink. Dit wat ek self op papier doen, volg maar ’n pad van sy eie. Die skryfproses het so by so darem ’n sterk organiese ondertoon waarin die skrywer slegs as vervoermiddel dien tussen die idee en die uiteindelike gedig. Die tegniese uiting volg dan asof vanself.
Die meeste hiervan word natuurlik gedryf deur emosie. Gedigte skryf of lees is eintlik ’n baie emosionele saak: poësie is op sy beste nie ’n mededeling nie, maar ’n emosionele opwekking. Dit is nie ’n narratief nie, maar ’n emotiewe stelling. So gesien is ’n gedig eintlik ’n bietjie uitputtend, beide om te skryf en om te lees. Dit stel hoë eise aan beide die skrywer en die leser, want dit maak ’n aanspraak op die emosie – ’n ander vlak van emosie as byvoorbeeld wanneer die Cheetahs Saterdae wen of verloor. Die emosie van gedigte (anders as die tegniek) is ’n baie primordiale ding wat opkom as mens met jou eie binnekant in taal (of met taal as werktuig) omgaan.
Baie van die tegniese dinge in ’n gedig gebeur in my oë intuïtief: as ’n mens kyk na gedigte, kan jy soms sien hoe die emotiewe vlak in die gedig styg, hoe die emosie opgewek word, en dit dan op sy beurt ’n impak op die tegniese aspekte van die gedig laat; soos byvoorbeeld lynbreuke wat meer onwillekeurig word, of sekere woordige aanwendings wat vanself gebeur omdat die emosie dit so wil hê en nie eintlik omdat die skrywer dit so bedink of bedoel nie.
Daar is natuurlik tegnies hoogs geskoolde digters wat ’n bietjie meer koelbloedig met al dié dinge kan omgaan, maar vir my is dit op sy beste maar ’n pad wat de novo, uit die self loop, en vanself geloop word.
So vind beide die voet en die spoor daaronder mekaar sonder bedoeling (ook op daardie kaplyn).
Dit is dalk een van die redes hoekom daar sekere verse is wat eenvoudig nie die mas opkom nie, en wat ek dan ewe tragies in die binneruimte van my rekenaar moet begrawe. Aan party gedigte is daar eenvoudig nie salf te smeer nie, juis omdat hulle emosioneel faal, en nie op tegniese gronde nie. Ek probeer dus die punt maak dat die tegniese aspekte van ’n gedig ondergeskik is aan die emosionele waarheid daarvan. Ek koester ook so ’n ander geheime gelofie: ’n gedig is suksesvol is as daar eerlik met die emosie omgegaan word. Skrywers wat emosioneel lieg, se gedigte wys dit uiteindelik uit.
Verduidelik die belangstelling in die Slag van Boomplaats en jou gebruik hiervan as 'n metafoor vir die digkuns.
Die Slag van Boomplaats is vir my as gebore Vrystater wat op ’n plaas grootgeword het, onder die emosionele drukte van ’n pa wat ’n hewige belangstelling in die verlede gekweek het, ’n baie interessante stukkie geskiedenis. ’n Mens sou Boomplaats kon bestempel as die Vrystaat se Eerste Vryheidsoorlog (teenoor die Eerste Vryheidsoorlog van Transvaal, wat eers jare later in die 19de eeu gevolg het).
Die feite is dat sir Harry Smith in 1848 uit die Kaap getrek het om die binneland vir die Britse kroon te verower, en dat hy in Augustus 1848 naby die huidige Edenburg slaags geraak het met ’n klein Boeremag op die plaas Boomplaats. Dit is natuurlik verder ou, maar ironiese, nuus dat die Boere deur die groot mag oorweldig is, en dat hulle in afsku eers anderkant die Vaalrivier by Ohrigstad tot stilstand gekom het. ’n Persoonlike verbintenis vir my is dat my oupa Gilbert se oupa, die destydse landdros en winkeleienaar op Winburg, Frederich Peter Schnehage, een van drie boere was wat na die slag deur die magte van Harry Smith gevange geneem is. Hy het sir Harry se perd onder hom doodgeskiet - hierdie einste saal en toom met die gat in die stiegriem is vandag nog in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg. Hulle is as krygsgevangenis na Winburg gebring en daar ter dood veroordeel. Die drie het onder meer hulle eie grafte daar gegrawe, en die drie grafte is vandag nog al drie sigbaar en oop in die dorpsmeent anderkant die Winburg-skouterrein. Om welke rede ook al word hulle egter begenadig, en kry hulle swaar boetes: Schnehage het die tien duisend pond wat hy opgelê is, betaal in sikspense en sjielings wat in ’n kruiwa aangery is na sir Harry Smith se tent.
Boomplaats is dus die plek, eintlik, waar Boere en Engelse slaags geraak het, en is vir my eintlik maar ’n metafoor van die stryd wat vandag tussen mense, en eintlik ook binne-in mense self, woed: ’n stryd wat nie gewen is, of gewen kan word nie, en ’n stryd wat op sy beste lei tot verdere broeiende onheil.
Voorin jou bundel Kaplyn het jy 'n afdeling woordverklarings. Ek lees dit asof dit 'n oopmaak van jou onbewuste is, asof jy die leser inlei na die kelder van jou kreatiwiteit. Reg? Die woordverklarings in Kaplyn speel vir my eintlik toe op die afbreek van die boustene van ’n gedig: ’n gedig is tog iets wat bestaan uit woorde, en woorde iets wat bestaan uit letters, en so kan ’n mens aangaan, baie soos ’n fraktaal of ’n Mandeliaanse stel. ’n Mens sou jou kon verbeel dat insig in die gedig eers volg op insig van die woord ("in die begin was die …", en so aan).
Die woordverklarings voor elke afdelings in Kaplyn probeer die punt maak dat die emosionele insig in of oor die gedig reeds begin met die emosionele insig oor die woord. Daardie is natuurlik (soos jy tereg opmerk) dikwels ’n onbewuste ter sprake: die oopbreek van die woord het meer te doen met ’n onbewuste poging en minder met ’n bewuste aanslag. Dit demonstreer dus eintlik dat daar ’n woordeboek bestaan vir die dinge van die bewussyn, maar dat die onderbewuste se woorde eintlik nie bestaan nie, en dat dit slegs by verstek aangespreek word deur ’n gevoel wat by die leser en die skrywer ter sprake is.
Jy gebruik dikwels vreemde mediese terme. Is dit met opset om die leser buite die vers te hou en op 'n soort "word chase" te neem? Van gedig na eindnote? Ek gebruik mediese terme omdat dit ’n wêreld is waarin ek beweeg: ek werk elke dag met min of meer onwel mense wat ’n fisiologiese las het wat hulle dra. Die mediese terme gee ’n bondige beskrywing vir baie van hierdie fisiologiese toestande en maak die kartering van die patologie vir die geneesheer maklik. As ’n mens byvoorbeeld ’n naam van ’n siekte gebruik, dan omskryf jy eintlik die etiologie, die patogenese, die patologie, die demografie van die siekte, die behandeling, alles in daardie een woord. Die gebruik daarvan in die poësie is eintlik dan die onbewustelikheid. Ek doen dit bloot omdat dit die taal is van die wêreld is waarin ek bly, en waaruit ek na die lewe kyk.
Wie is jou gunstelingdigters in Afrikaans?
Daar is verskriklik mooi gedigte in Afrikaans geskryf, te veel om op te noem: Totius en Eugène Marais het vir my ongelooflik mooi gedigte geskryf; ek hou baie van Pieter van der Lucht se verse; Izak de Villiers is ’n stilis; Wilma Stockenström; Sheila Cussons; van Petra se gedigte. In ander tale is daar ook ’n swetterjoel: Gabriel Gudding het my onlangs geroer; Blake Morrison skryf mooi gedigte. Miroslav Holub (van wie Louis Esterhuizen my vertel het) skryf aangrypende verse. Paul Auster het mooi gedigte geskryf. Baie van die Iere het aangrypende verse gelewer wat my herinner aan die emosionele aard van baie Afrikaanse verse (waarskynlik omdat hulle ’n ekwivalent vir droogte en eensaamheid het in aartappels en reën).
Wat lees jy behalwe die digkuns? Behalwe die digkuns lees ek byna alles. So min as moontlik vaktydskrifte, maar baie misteries en rillers en pulp. Ek lees nogal teologieboeke. Hier langs my op die oomblik lê Seven types of Ambiguity van Perlman; Die Groot Verlange van Leon Rossouw (weer). Blake Morrison se Things my Mother never told me; Cormack MacCarthy se Orchard Keeper; Daniel Martin van John Fowles; en op die oomblik ook so ’n bietjie Job en Konings.
Jy is ’n mediese spesialis. Het dit 'n impak op jou skryfwerk om buite die letterkundige bedryf te staan? Die feit dat ’n skrywer buite die letterkundige bedryf staan, is dalk eintlik seker nie so vreemd nie: jare gelede het die meeste skrywers buite die letterkundige bedryf gestaan (of is ek verkeerd?) – dit was maar betreklik onlangs dat lettere ’n ekonomies sustainable omgewing geword het om in te werk. Op die huidige is talle skrywers waarskynlik besig in letterkunde of taalkunde of die uitgewersbedryf of joernalistiek of wat ook al as beroep – ek sou dus veronderstel dat sekere tipes skrywers voordeel daaruit put om afstandelik te kyk na al hierdie, en ander loopbane volg terwyl hulle omgaan met kreatiewe skryfwerk. ’n Mens kan maar hoop dat dit ’n vars blik gee op dinge, en dat jy die vraagteken in die gemoed rondom dit wat jy nie weet nie, sal koester tot insig, en dié dan vleuels sal gee op papier.
Wat dink jy van literatuurkritiek, resensies, pryskomitees en so meer?
Literatuurkritiek, resensies, pryskomitees en dié tipe van dinge is wonderlike instansies solank hulle jou prys. Die dag as kritiek teen jou draai, sou ’n mens onmiddellik meer geredelik sê jy lees nie kritiek nie en jy steur jou nie daaraan nie en pryskomitees is sus en so.
Ek is sterk onder die indruk dat literatuurkritiek en resensie iets is wat te doen het met opinie, en opinie dikwels ’n ding is wat te doen het met die geur van die oomblik. Gulle ontvangs is nie ’n totale antwoord op die kwaliteit van ’n werk nie: soos jy weet, is daar sekere kundige digters en bekwame skrywers wat nooit pryse gewen het nie, en omgekeerd ook. Pryse is nie regtig so belangrik nie. Wat meer belangrik is, is om met ’n sin vir en van kwaliteit te skrywe (Robert Pirsig). ’n Goeie of negatiewe resensie in vandag se koerant is wat jy môre gebruik om die water op te vang as die yskas ontvries. ’n Prys of ’n resensie sê eintlik nie vreeslik baie van die bundel nie; dit sê nog minder van die enkele gedig.
En van die digter seg dit niks.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|