| Clinton V du Plessis (1963 -) |
Gebore en getoë Clinton V du Plessis is op 20 Februarie 1963 op Cookhouse in die Oos-Kaap gebore as een van vyf kinders van Robert (’n spoorwegwerker) en Susan (’n huisvrou) du Plessis. Vanaf 1969 woon hy die UCC Laerskool op Cookhouse by. Sy standerd 6-jaar doen hy by die Rooms-Katolieke Sint Theresa op Somerset-Oos. Hy behaal sy matriek in 1980 aan die Senior Sekondêre Skool Holy Rosary op Cradock. Op skool doen Clinton sy eie ding. In matriek gee hy, nadat die hoofseun geskors is, sy wapen as onderhoofseun terug en woon uit protes nie die matriekafskeid by nie.
Verdere studies en werk Na skool gee Clinton drie maande onderwys as hulponderwyser in Somerset-Oos. Daarna skryf hy hom as ’n klerk by ’n ouditeursfirma op Cradock en begin met deeltydse studie in ’n handelsrigting aan Unisa, maar hy voltooi nooit sy studies nie.
Sy skrywersloopbaan begin “amptelik” in 1979 toe sy eerste gedig in die Desember-uitgawe van Patrys verskyn. Na ’n lang stilte begin hy eers weer ernstig in 1983 skryf en word van sy poësie in STET, Tagtiger en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. In 1983 word van sy gedigte ook in André Letoit se punkbundel, Gedigte vir Afrika, saam met dertien ander digters opgeneem. Volgens Clinton self is hy aanvanklik veral beïnvloed deur Johan van Wyk en Wessel Pretorius – “vandaar my voorliefde vir die vrye vers”.
In 1984 word sy eerste digbundel, Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, deur Perskor uitgegee – sy enigste bundel wat deur ’n hoofstroomuitgewer gepubliseer word. In ’n resensie van dié bundel beskryf TT Cloete hom as “Opperman in ’n baie meer gederomantiseerde, ontnugterde, saakliker vorm, in ’n moderner idioom”.
In 1987 stig Clinton met sy spaargeld sy eie uitgewery en bring ook ’n literêre tydskrif, Akuut, op die been. Vyf-en-twintig digters se gedigte verskyn in die eerste uitgawe van hierdie tydskrif, maar nie een van sy eie nie, omdat hy bang is dat mense sal sê dat hy die tydskrif gestig het om sy eie werk te publiseer. Hy stig die uitgewery omdat hy moeg was vir uitgewers wat hom rondstuur en ook omdat hy jonger digters wil help wat dieselfde probleme ondervind. In 1985 verskyn van Clinton se gedigte in twee buitelandse publikasies, Tijdschrift voor Nederlands en Afrikaans, wat in Wes-Duitsland uitgegee word, en in Skryf asseblief terug, die Belgiese bloemlesing van Suid-Afrikaanse poësie van André Letoit en Jan Deloof.
In 1999 neem hy saam met negentien ander digters vanoor die hele wêreld deel aan Poetry Africa ’99 in Durban en in dieselfde jaar is hy ’n gas van die Stichting Poëziefestival Nijmegen in Nederland waar van sy gedigte voorgelees word. Hy neem ook in 1998 deel aan die KKNK.
Volgens Luc Renders in ’n artikel in Tijdschrift voor Nederlands en Afrikaans in 1998 kan Clinton beskou word as ’n randfiguur van die Afrikaanse poësie – nie net as gevolg van die min aandag wat aan sy poësie bestee is nie, maar ook vanweë die aard van sy werk self: “Sy eerste bundels het ontstaan in ’n periode toe die stryd teen apartheid in alle hewigheid gewoed het. Hulle kan egter nie as polities gekarakteriseer word nie, ondanks die feit dat hyself tot die verontregte, sogenaamde kleurlinggemeenskap behoort … Terwyl die meeste bruin Afrikaanse skrywers in hulle werk ’n belangrike aandeel gehad het in die stryd teen apartheid en in die ontwikkeling van die selftrots van die kleurlinggemeenskap, hou Clinton V du Plessis hom deurgaans afsydig van hierdie problematiek.” Sy poësie staan dus buite die tradisionele “bruin” verwysingsveld.
Met die publikasie van Groot Verseboek 2000 wat deur André Brink saamgestel is, weier Clinton onomwonde dat van sy gedigte daarin opgeneem word, omdat Brink in 1985 in ’n resensie van Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar gesê het dat die boek nooit moes verskyn het nie. “Dit was vir my net lekker om vir Brink nee te sê.” Heelwat van sy verse is egter opgeneem in Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in duisend en enkele gedigte. “Brink kom uit ’n sekere letterkundemilieu. Hy is soos Petrus, die hekwagter by die literêre hemel van die Afrikaanse kanon. Ek gaan eerder langsaan na Gerrit Komrij se hel. Dit was John Mellencamp wat gesê het: 'You gotta stand for something or you’re gonna fall for anything.'”
Van sy werk is ook opgeneem in ander Nederlandse bloemlesings, soos Honderd dichters 1, De tweede ronde en O droewe en wye land. Spaanse vertalings is opgeneem in die boek International poetry.
In 2001 publiseer Clinton saam met Peter Snyders ’n bundel kortverhale, Brunch met twee, wat deur contentlot.com uitgegee word. Hierdie verhale bemoei hulle veral met die seksuele en veral met die idee van seks as ’n verkoopbare produk. Van sy werk is ook opgeneem in 5 (Botsotso Publishing) saam met dié van vier ander digters, waarin seks ook die deurlopende tema is. In 2002 verhuis Clinton na Johannesburg om as rekenmeester te werk.
Van Clinton se ander belangstellings is die letterkunde, ekonomie, politiek en musiek.
Publikasies:
Biografiese artikels oor Clinton V du Plessis beskikbaar op die internet
- (Die Burger)
- (Die Burger)
- (Rapport)
Lees Clinton V du Plessis se LitNet-rubriek: Aan die stertkant

Bygewerk: 2008-02-20 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|