Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Louis Esterhuizen (1955 -)

2008-02-04 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Gebore en getoë
Louis Esterhuizen word op 30 Augustus 1955 in Welkom in die Vrystaatse Goudvelde gebore. Kort na sy geboorte verhuis sy ouers na die destydse Rhodesië. Hy bring sy eerste skooljare by sy ouma in Philippolis in die Suid-Vrystaat deur om in "die Republiek” skool te gaan en voltooi dit aan Bothashof, ’n NG Kerk-skool in Salisbury (Harare).

In 1966 keer die gesin terug na die Vrystaatse Goudvelde en Louis matrikuleer aan die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia in 1973.

Verdere studies en werk
Louis sit sy studie voort aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat, waar hy in 1976 sy BA-graad behaal en ook, in 1978, sy Hoër Onderwysdiploma. In dié tydperk gee hy ook onderrig aan die Dr Blok Hoërskool en later aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

In 1981 verhuis Louis na Bethlehem in die Oos-Vrystaat, waar hy onderwyser is aan die Hoërskool Voortrekker. Hy sit sy studie voort deur Unisa en in 1982 behaal hy die BA-Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Hy gee onderwys in Bethlehem tot 1990, waarna hy onder andere adjunkhoof word by Pretoria Boys’ High School, en sedert 1999 is hy vakhoof aan Rondebosch Boys’ High School.

Tans is Louis bestuurder van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch.

In 2001 is Louis met Marlise Joubert getroud. Louis vertel self dat hy in 1973 as student aan die UOVS verlief geraak het op ’n foto van Marlise wat op die agterblad van haar debuutdigbundel, Domus, verskyn het. “Om die waarheid te sê, dit was in ’n groot mate vanweë haar digkuns dat ék my hand aan die maak van verse begin waag het,” sê Louis. Louis het begin om vir Marlise gedigte te skryf en mettertyd begin sy reageer en ontstaan ’n opwindende tydperk van ’n heen-en-weer-diggesprek. En so ontstaan en verskyn Louis se bundel Opslagsomer by Human & Rousseau en Marlise se Lyfsange by Protea Boekhuis. Aanvanklik sou die verse nie gepubliseer word nie – dit is bloot vir hulle eie plesier geskryf.

Louis publiseer al verse sedert 1978 in tydskrifte soos Contrast, Tydskrif vir Letterkunde, Standpunte, Graffier, The Bloody Horse en Ensovoort. In 1979 word van sy verse in Frans vertaal en na publikasie in L’Alphee voorgelees oor Radio Parys.

Hy debuteer in 1986 met Stilstuipe, wat die kortlys van die Rapport-prys haal, en hy volg dit op in 1988 met Op die oog af. Daarna verskyn nog vyf bundels uit sy pen.

In 1998 neem Louis deel aan twee internetpoësiekompetisies in Nederland. Twee van sy verse word onder die top tien geplaas met Meanderkrant se poësiekompetisie en word as wenner van die Pamon-prys aangewys.

Saam met Henning Pieterse is Louis die stigter van die bekende Bekgevegte, wat prettige poëtiese-"stryde" is.

Sedert 2005 is hy ook die organiseerder en inisiatiefnemer van die gewilde Versindaba. Louis het met die idee vorendag gekom om poësie weer in die publieke oog te plaas: “Hy hoop om só die persepsie dat gedigte slegs deur geleerdes en letterkundiges geniet en gewaardeer kan word, teë te werk.” Tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch kom digters van oral bymekaar en lees hulle eie verse voor, en aan die einde word ’n bundel deur Protea Boekhuis gepubliseer. Die jaarlikse Protea Poësieprys word ook tydens die byeenkoms toegeken.

Publikasies:

’n Keur van artikels oor en deur Louis Esterhuizen op die internet




Bygewerk: 2008-02-04
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Mariƫtte van Graan
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur