Gebore en getoë Floris Abraham Brown is op 10 September 1948 in die Bolandse dorp Worcester gebore. Die naam Floris is ’n familienaam wat net aan die oudste seun in die families gegee word. Hy is die middelste van vyf kinders van Johnny en Maggie Brown. Hy het twee ouer susters, Florence en Magdalene, en twee jonger broers, John en Charles. Sy pa was ’n groot musiekgees en afrigter van vele kerkkore – dit moet by hom wees wat Floris sy musiektalent geërf het. Floris gaan na die laerskool van die AME-Kerkskool en matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Esselenpark.
Verdere studies en werk Vanaf 1968 tot 1970 studeer hy aan die Hewat Opleidingskollege, waar hy sy Hoër Primêre Onderwyssertifikaat behaal. In 1971 begin hy onderwys gee aan die Laerskool Esselenpark in Worcester en vanaf 1972 tot 1976 aan die Laerskool Steenvliet in Touwsrivier. In 1977 is hy na die Breërivier Sekondêr, waar hy bly tot en met sy uitdienstrede op 31 Maart 1999. In 1983 verwerf hy sy POD III Kursus-A aan die Opleidingskollege Bellville.
Op 18 Desember 1971 trou Floris met Gloria Susan Magdaleen Bailey en die egpaar het vier kinders – een seun en drie dogters.
Vanaf 1996 is Floris betrokke by die orkes Restless Children en in 1973 verwerf die orkes ’n goue plaat vir die oorspronklike liedjie "Until tomorrow". Hulle langspeler getiteld Restless children vaar ook goed met die verkope. In 2001 is ’n ander liedjie van die orkes, "Hard to find you", wat deur Floris gekomponeer is, op die CD Cape Gold originals 1970–1980 opgeneem. Hierdie CD is deur die Britse produksieleier Richard Black gemaak. Die groep ontbind later en Floris bring toe sy eie orkes op die been: Bacarasj, wat in 1992 hulle eerste langspeelalbum uitbring en ook optree in ’n episode van die televisiereeks Die Allemans. Floris komponeer en verwerk ook van die liedjies van hierdie groep.
Een van Floris se ander liefdes is skaak en hy bevorder vir baie jare skaak in die Boland. Hy speel nie net nie, maar dien ook in die Bolandse Skaakvereniging. In 1987 is hy verkies tot die Suid-Afrikaanse Skaakvereniging se Sportman van die jaar.
Floris se eerste gedigte skryf hy in Engels en dit word gepubliseer in Editor’s choice for 1974, Poetry Universal en Spring poets. In 1978 verskyn van sy eerste Afrikaanse gedigte in Honderd nieuwe dichters saam met werke van verskeie Vlaamse, Nederlandse en Suid-Afrikaanse skrywers. In 1988 verskyn van sy gedigte in die bundel Aankoms uit die skemer saam met dié van Noël Adams, André Boezak, Coenie Hollenbach, MC Mackier, Patrick Petersen en Marius Titus. Dit word deur Prog Uitgewers van Patrick Petersen gepubliseer.
Floris publiseer sy digbundels self en uit sy pen verskyn tien digbundels. Sy gedigte word ook opgeneem in versamelbundels soos Groen: gedigte oor die omgewing (1990), wat deur Johann Lodewyk Marais saamgestel is; Honderd dichters (2000), saamgestel deur Jan van Biezen; en Gerrit Komrij se De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (2000).
In 1994 skenk hy die opbrengs van die verkope van sy digbundel Gloei aan die Eden Opleidingsentrum vir verstandelik erg gestremde kinders in Worcester vir die bou van ’n koshuis. Floris se bundel Phoenix, wat hy opdra aan die oud-Padvinder John C Beukes, word ten bate van die organisasie Chipros versprei. Floris is ook verantwoordelik vir die publikasie van die bundel Breedevallei dichters: Poëzie nacht van die muse.
In 1997 is ’n televisieprogram oor Floris uitgesaai oor die SABC se Kaap om Ses. Anthony Wilson het ook ín dieselfde jaar ’n dokumentêre program oor Floris se digkuns oor Arts Unlimited op SABC 3 uitgesaai.
Floris is aktief betrokke by die kultuur en tree gereeld by Kunstefeeste op. Hy bied ook werksessies aan vir aspirantskrywers en leerlinge in die Breederiviervallei. In 2001 is hy lid van die Trusteeraad van die Worcesterse Museum Kleinplasie. In dieselfde jaar is hy een van die benoemdes vir die beroemde Rottend Staal Cultuur Award, ’n letterkundige prys.
In 2002 ken die Nederlandse tydskrif Lava sy jaarlikse Lava Themaschrijfwedstrijd aan Floris toe vir sy gedig "Geraamtes". Die redaksie sê: ”Volgens de redactie gaven zijn gedichten de meeste betekenis aan het thema van dit jaar: de liefde … En het hart van deze LAVA wordt gevuld door gepassioneerde poëzie van de Zuid-Afrikaanse Floris Brown, met een prachtige vertaling van Tsead Bruinja.”
In 2000 is Floris verantwoordelik vir die produksie en meng van snitte op ’n gospel-CD van die Zion AME-gemeente se kerkkoor. In 2001 word hy aangewys as Worcesteriet van die jaar. In 2006 publiseer hy en Janneke Prins ’n Afrikaanse en Nederlandse digbundel, Altijd de liefde / Altyd die liefde.
Na die moord op die Nederlandse meisie Marleen Konings skryf Floris ’n gedig, "Die vrou se poort". Hierdie gedig is op webtuistes in Nederland geplaas en twee organisasies in Nederland wat teen geweld is, Aandacht Doet Spreken en Twenthe Tegen Geweld, vra Floris om ’n opvolggedig te skryf vir mense wat ’n geliefde aan ’n gewelddadige dood moes afstaan. Die uitvloeisel hiervan is "Jy het nooit huis toe gekom nie", wat Alfred Schaffer in Nederlands vertaal het onder die titel "Jy bent nooit thuis gekomen". Van die gedigte in Floris se jongste bundel, Blokhuis, is ook in Nederlands vertaal deur Bram van der Wurff, Cokkie Sommeijer en Alfred Schaffer.
Floris Brown het sopas lidmaatskap aanvaar van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Publikasies:
’n Keur van biografiese artikels oor Floris Brown beskikbaar op die internet
Artikels deur Floris Brown beskikbaar op die internet

Bygewerk: 2008-01-28 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|