| Theunis Engelbrecht gesels met David Kramer oor sy splinternuwe CD, Hemel & Aarde |
Theunis Engelbrecht, David Kramer
 |
 |
 |
| David Kramer |
Hemel & Aarde |
Theunis Engelbrecht |
As jy die snare so slaan in die lig van die donkermaan …
My bloed is ‘n snaar
My bloed is ‘n snaar Dis my vingers wat kan sing Dissie bruinbakkitaar Wat die liedjies vir jou bring
Ek dans innie straat En ek sing vir die maan Jou tong wil heeldag praat Al het jy niks verstaan
Ek en my skaduwee Ons dans in die stof Vanaand gaan die hemel Met sterre ontplof Môreoggend sê die volmaan goo’bye Môreoggend gaat ek ook maa’ waai
My bloedrooi kitaar Lê en slaap in sy ou tas My woorde baljaar Die snare maak hul vas
My kop is vol wind Drome waai verby Gaan soek wat jy wil vind Miskien sal jy dit kry
Ek en my skaduwee Ons dans in die stof Vanaand gaan die hemel Met sterre ontplof Môreoggend sê die volmaan goo’bye Môreoggend gaat ek ook maa’ waai
My kop is ‘n kloof En ek wandel daardeur Die lewe is ‘n skroef Maak jou somtyds seer
Ek maak een deur toe Gaan ‘n anner een oop Die lewe moet jy proe As jy deur die lewe loop
("My bloed is ‘n snaar", David Kramer, Hemel & Aarde, Blik Musiek 2007)
*
“Elke album het iets wat gebeur: ‘n beginpunt, ‘n idee of klank wat jou in jou gat skop,” sê David Kramer.
Een van die skoppe wat hy gekry het vir sy nuwe CD, Hemel & Aarde, was tydens ‘n rit in ‘n minibustaxi in Darling ‘n jaar gelede.
“Ek het gehoor die musiek wat hulle speel, is darem baie interessant. Dis ‘n kwaito-ritme, maar hulle sing alles in Afrikaans, in ‘n soort kerklike sangstyl, en alles gaan oor die Here.
“Hulle verkoop die CD’s daar by die straatmarkte by die Bellville-stasie teen R40 stuk. Hulle neem dit self op rekenaars op in hul huise en maak self die disks en verkoop dit net so, sonder ‘n omslag.”
Hierdie CD’s word ook by pensioen-uitbetaalpunte verkoop by die stalletjies waar biltong en klere vir die kinders van die hand gesit word op betaaldag.
Plekke soos dié is vir hom lekker, sê David. “Dit laat my baie dink aan toe ek grootgeword het en jy gaan na die kerkplein, maar die kroeg is ook daar langs die kerkplein en jy kry al hierdie ernstige mense aan die een kant en die kroegvlieë aan die ander kant. As kind het ek die drama daarvan baie geniet.”
Benewens dié skop is die klank op Hemel & Aarde ook ‘n voortsetting en verdieping van die rigting wat Kramer ingeslaan het met sy vorige CD, Huistoe, en wat op sy beurt weer sterk beïnvloed is deur Karoo Kitaar Blues.
Die beginpunt van Huistoe was vir Kramer die blikviool-klank van die Jaers-broers van die Kamiesberge in Namakwaland in Karoo Kitaar Blues. “Dis ‘n ‘haunting’ klank, ‘n klank wat by jou bly spook, een wat jy nie kan beskryf nie. Oorlede Jan Willems het nog die blikviool gespeel op Huistoe. Hy is ook al twee jaar dood.”
Dié blikvioolklank kan onder meer gehoor word op die liedjie Onnerwater, een van die treffers op Huistoe.
“Die temas van oeroue geskiedenis op Huistoe word voortgesit en verder ontgin op Hemel & Aarde,” sê Kramer. “Ek wou die album eers Vloedwater noem – die gedagte van vloedwater word gekoppel aan Bybelstories, die oudste stories waarvan ons weet. Die vloedwater sinspeel op 'impending doom'.”
Dié tema loop sterk deur Hemel & Aarde. “Daar is klimaatsverandering, die stres waaronder mense nou lewe, godsdienstige oorloë en die George Bush-tipes wat wag vir Armageddon. Daar is vir my ‘n noue verband tussen byvoorbeeld die Bybelstories in Genesis en die 'sense of impending doom'.
“Klimaatverandering en aardverwarming het die potensiaal om ‘n groot globale katastrofe te veroorsaak. En dis ‘n harde werklikheid. Dit gaan ook oor die onsinnigheid van globale kapitalisme. Ek glo nie ons kan dit stop of verander nie. Ek dink dit is amper te laat vir die mensdom om sy leefstyl te verander. Iemand het gesê oor tagtig jaar sal daar nie meer wind wees nie.
“In die liedjie ‘Hoekom’ gebruik ek die Bybelstorie van die doringboompie wat aan die brand slaan en God wat dan met Moses raas:
Ek staan oppie berg En ek wag virrie woord Wag virrie woord van die man daarbo Daaronner blink my dorpie Innie Breëriviervallei Waar die mense drink en dobbel Hulle dans en vloek en stry
Hoekom issie mens Hoekom issie mensdom so dom? Gee vir hom twee hanne Dan bou hy hom ‘n bom Hoekom is die mensdom so dom dom dom
“Die liedjie ‘Die duiwel’ gaan oor ‘n ou wat by die kruispad gaan staan en wag vir die duiwel sodat hy sy siel aan die duiwel kan verpand. Dit is nie net ‘n ou blues-storie nie, dit gebeur ook vandag in Suid-Afrika.
“Daar is ook deesdae ‘n krisis oor mense se idee van wat God is. Die tyd van daardie soort fundamentalistiese godsdienste is heeltemal out of line met wat nou op die aarde gebeur.
“My idee van God is baie meer spiritueel. Dit gaan oor groei. Dis meer animisties as iets anders.”
Die duiwel
Dit is pikswart daarbo Dis ‘n donker Karoo Ek het baie om te sê Maar niemand wil my glo Niemand wil my glo nie
Die hemel hettie vloer nie God sittie op ‘n troon nie Die hemel issie so nie Maar dit mag ekkie sê nie
Die plekke waar ek slaap Wil niemand anders lê nie.
Hulle sê ek ken die duiwel En die duiwel ken my naam Hy’t gemaak met my net wat hy wil Toe ek onner oppie kruispad staan.
Ek stap deur kloof en kuil Ek is omgekrap en vuil My kitaar hang om my nek En ek laat die kwinte huil Ek hou my mond maa’ toe Vir jarre issit so
Vir jare rondgeswerwe
Van onner tot daarbo
Die duiwel eis jou siel
En hy leer vir jou sy riel
As jy die snare so wil slaan
Innie lig vannie donkermaan
Moet jy onner oppie kruispad staan
Dit is pikswart daarbo
Dis ‘n donker Karoo
Ek het baie om te sê
Maar niemand wil my glo
Ek kannit ‘ie explain nie
Die beelde in my brein nie
Groot hettie ‘n grens ‘ie
En klein is glattie klein nie
Moet jou nie misgis ‘ie
Vannie vlees offie vissie
Elke ding het ‘n stukkie god En daai vlam kan jy nie blussie.
*
Ondanks die gevoel van ‘n dreigende apokalips en die ernstige temas is Hemel & Aarde allesbehalwe ‘n terneerdrukkende album.
“Wat interessant is, en waarop ek trots is, dat dit ‘n CD is waarna jy lekker kan luister,” sê Kramer. “Dis vir my belangrik om ‘n album uit te bring waarop elke liedjie sterk is – ek wil nie net twee of drie sterk snitte opneem en die res met stoppers vul nie. Dit gaan nie vir my net oor CD’s uitgee en om ‘n produk vir die mark te beplan en te fabriseer nie. Ek het nooit oor die mark geworry nie. As ek musiek maak, gaan dit vir my net oor wat my self gelukkig maak. Ek is gelukkig dat dit vir my gewerk het.”
Kramer het ‘n bedrywige jaar agter die blad.
In Junie het hy saam met Hannes Coetzee, wat glykitaar met ‘n teelepel speel en ook in Karoo Kitaar Blues te sien was, by die Port Townsend Steel & Slide Festival in Washington opgetree en kitaarslypskole aangebied.
“Dit was ‘n kwaai ervaring,” sê Kramer. “Almal het lekker saamgesing en saamgespeel op viole en kitare.”
Hannes is besig om baie beroemd te raak oorsee. Hy het ‘n MySpace-webwerf waar daar videomateriaal van hom is. Mense e-pos dit vir mekaar en dit versprei soos ‘n veldbrand.
“My dogter, wat nou in Londen is, het my gebel en gesê ek moet die videomateriaal wat ek in Washington van Hannes opgeneem het, op sy MySpace-blad sit, want daar is ‘n groot aanvraag daarvoor in die buiteland,” vertel David.
Ná die wegholsukses van Kramer en Taliep Petersen se laaste musiekspel, Ghoema, verlede jaar in Kaapstad en Londen, is dit ook vanjaar in die Markteater in Johannesburg opgevoer en was daar pas ‘n maand lange toer deur Nederland, waar dit met ‘n staande toejuiging begroet is op die openingsaand in Rotterdam. Die musiek van Ghoema is ook nou op ‘n dubbel-CD beskikbaar.
Kramer sal eers vanaf einde Februarie volgende jaar die kans kry om saam met sy orkes die nuwe liedjies van Hemel & Aarde te speel wanneer hulle by Oude Libertas in Stellenbosch optree. Voor dan wag daar nog twee groot projekte: The Kramer Petersen Songbook en die musiekspel Die ballade van Koos Sas.
Kramer en Petersen het geweldige sukses behaal met hul musiekspele. Hul eerste musiekspel saam was die legendariese District Six, en daarna het nog talle gevolg – Fairyland, Crooners, Poison, Klop Klop en Kat of the Kings.Laasgenoemde is in die Vaudeville-teater op West End in Londen opgevoer asook in die Cort-teater op Broadway in New York.
“Ek en Taliep het meer as 145 songs saam geskryf. The Kramer Petersen Songbook is nie ‘n storie nie, dis ook nie ‘n musical nie – dit is, soos die titel sê, ‘n songbook. Dis vir my belangrik om ‘n show te maak wat ek weet Taliep baie sou geniet het as hy dit kon sien. Daarom is die aanbieding, die 'staging', ook vir my belangrik.”
‘n Orkes van vyf lede en ‘n groep van agt dansers sal saam met Kramer te sien wees in The Kramer Petersen Songbook, wat in Desember en Januarie in die Baxter-teater in Kaapstad opgevoer word.
“Dit gaan an evening of entertainment wees,” sê Kramer. “Die eerste helfte gaan meer nostalgies wees, oor Distrik Ses en so, en die tweede helfte gaan meer kontemporêr wees. Ek en Taliep was gelukkig met die sukses van die songs wat ons saam geskryf het, want baie daarvan word nou ook deur die Kaapse Klopse en dansorkeste gespeel.”
Intussen werk Kramer ook aan Die ballade van Koos Sas vir die Suidoosterfees einde Januarie. ‘n Vroeë weergawe daarvan is in 2001 op die KKNK opgevoer, waar dit met die De Kat Herrie-prys vir die beste produksie bekroon is.
“Ek wil daaraan werk en dit tot ‘n volle musiekspel uitbrei. Ek is besig om nuwe liedjies daarvoor te skryf en daar gaan ook meer karakters bykom. En eers daarna, in Februarie, sal ek vir die eerste keer die liedjies op Hemel & Aarde kan speel wanneer ek en my orkes by Oude Libertas optree. So ja, dit gaan maar besig!”
*
David Kramer se debuutalbum, Bakgat!, het in 1980 verskyn. In die 27 jaar sedertdien het hy ‘n grensverskuiwende bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiek- en kultuurwêreld. Hy het talle klassieke albums uitgereik, waarvan almal nie ongelukkig op CD heruitgereik is ná die era van viniel nie. Dit sluit in albums soos Baboondogs (wat nou nog beskou word as een van dié seminale Suid-Afrikaanse albums van die 1980’s), Hanepootpad, Kwaai, Eina, Delicious Monster en Bakgat!.
Dis nou al ‘n hele klompie jare dat mense voel dat al Kramer se werk so ‘n belangrike bydrae tot Suid-Afrikaanse kultuur is dat dit ondenkbaar is dat dié erfenis verlore kan gaan deurdat die ou vinielweergawes nie op CD’s verewig is nie. Gelukkig is daar verblydende nuus: Kramer se hele katalogus en al sy vorige albums is nou uiteindelik digitaal beskikbaar by www.rhythmonline.co.za teen R7 ‘n liedjie.
Met ‘n nuwe album, twee verhoogproduksies en al sy vorige albums nou uiteindelik weer beskikbaar, is dit opnuut ‘n avontuur om Kramer se musiek te herontdek – van die tydlose Boland-folkblues op Bakgat!,die skerp satiriese Delicious Monster, die verhale van verlies, vervreemding en verlossing op Eina, die Jis Jis Jis-konsert wat Kramer se besonderse vermoë as onderhoudende en vermaaklike storieverteller opnuut bevestig het, tot die album Baboondogs, wat al kultusstatus bereik het.
Baboondogs is in 1986 uitgereik toe die politieke onrus in die apartheidsjare op sy felste was. Om nou weer daarna te luister, skop ‘n mens opnuut in die maag. Dit was die album waarop Kramer "So Long Skipskop" die eerste keer opgeneem het. Die feit dat die musiek nou nog steeds, 21 jaar later, drakrag en trefkrag het, bewys die onderliggende tydloosheid van Kramer se werk.
*
Die musiek op Hemel & Aarde is van ‘n deurwinterde kunstenaar wat dit waaroor hy skryf en sing, deurleef het.
Omdat al 11 snitte op Hemel & Aarde so sterk is, is dit moeilik om te voorspel watter liedjies die treffers gaan wees. Die nuwe weergawe van "Dawid Ryk" (die eerste weergawe was op Eina) heet nou "Stofpad" en as dit nie elke dag op RSG gespeel word nie, is daar iewers groot fout. Dié liedjie, sowel as "Sê vir Mamma", het dieselfde skopkrag as "Skipskop".Dis ontroerende, hartverskeurende verhale van arm mense wat swaarkry, wat dit net-net regkry om nog aan te gaan.
Twee van die vroliker liedjies wat groot trefferpotensiaal het, is "Hoekom?" en "Maak jou oë oop." Dis gepas dat Kramer hiermee die laaste woord kry:
Maak jou oë oop
Daar’s ‘n legkaart in die palms van jou hande ‘n Wêreld vol drome en al jou planne In die lyne van jou vel Staan jou toekoms voorspel Geheime vannie hemel ennie hel
Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop
Jy kan nie jou drome onthou nie Jy wil nie jou arms uithou nie Jy moet teen die wind leun Jy moet dans in die reën Elke oomblik kom jy weer oppie been
Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop
Baie bome groei op die ou aarde Baie takke en op ‘aai takke baie blare Nes ‘n vingerafdruk Elke blaar wat jy afpluk Op sy manier ‘n meesterstuk
Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop Maak jou oë net oop
In my wêreld is daar plekke wat kan praat ‘n Kloof, ‘n koppie, die hoek van ‘n straat Klippe sing innie grond Hulle maak gesond Al lyk hulle vir jou so stom en bont
(Blik Musiek, 2007)
Hemel & Aarde sal vanaf einde Oktober beskikbaar wees in CD-winkels.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|