Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
 
Pan's Labyrinth: Elke ernstige fliekkyker moet eenvoudig hierdie prent gaan sien
Suzette Kotzé-Myburgh
2007-07-23 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Pan's Labyrinth
Spaans met Engelse onderskrifte
Spelers: Ivana Baquero, Sergi Lopez, Ariadna Gil, Maribel Verdú
Regisseur: Guillermo del Toro

Die jaar is halfpad en dis uiteindelik hier: daardie fliek waarvoor ’n mens sit en wág. Die een wat jou asem wegslaan. Meer nog, wat jou eintlik winduit slaan.

Pan’s Labyrinth speel af in 1944, met die afloop van die uiters bloedige Spaanse Burgeroorlog (1936–39). Generaal Franco se diktatuur is reeds goed gevestig, maar in afgeleë dele van die Spaanse platteland is daar nog Republikeine wat weerstand bied teen die militêre regering. ’n Sekere kaptein Vidal (Sergi Lopez) voer die bevel in een van dié gebiede. Hy laat kom sy nuwe vrou, Carmen (Ariadna Gil), na sy hoofkwartier in die woud. Hoewel die dokter waarsku dat sy in haar hoogswanger toestand nie behoort te reis nie, dring die kaptein daarop aan: ’n soldaat se seun moet gebore word daar waar sy vader op die slagveld is.

Saam met Carmen arriveer haar jong tienerdogter, Ofelia (Ivana Baquero). Die dood van haar pa, ’n kleremaker, is nog bitter en vars by haar; sy weier om die kaptein “Vader” te noem. Sy ontvlug in ’n sprokiesboek oor ’n prinses uit ’n ou, ou koninkryk wat weghardloop uit haar onderaardse woning en in die gewone wêreld moet oorleef as ’n gewone sterfling. Maar deur die eeue bly haar pa glo dat sy eendag sal terugkom en weer haar ware identiteit sal vind.

Te midde van die onuitspreeklik wrede en gevoellose Vidal se skrikbewind ontvlug Ofelia na ’n fantasmagoriese ánder wêreld in die ruïne van ’n ou kasteel in die woud. In hierdie onderwêreld ontmoet sy Faunus (oftewel Pan uit die Griekse mitologie), wat haar aan drie toetse onderwerp – maar die uitslag daarvan bepaal ook haar lot in die reële wêreld.

Ofelia staan op die rand van volwassewording: dis die tyd van haar verlies van onskuld. Deur die uitdagings wat aan haar gestel word, verwerf sy die kennis van goed en kwaad, en sy leer ken die ou, ou geheimenisse van sterflikheid en ewigheid.

Hierdie film bied ’n komplekse verweefdheid van mitologie en simboliek wat ’n mens asemloos van bewondering laat. Elemente uit soveel verskillende bronne, uit soveel verskillende tydvakke, word soomloos saamgebind in ’n oorspronklike en volledig intrigerende geheel.

Daar is Pan, die oernatuurgod van die antieke Grieke en een van die oudste godhede, wat ’n wonderlik dubbelsinnige karakter verteenwoordig, teenoor die latere, en makker, simbool van die koning, wat ook velerlei betekenisse uit die Christelike beskouing aktiveer. Daar is eggo’s van sprokiesverhale uit die moderne tyd: The Lord of the rings, Harry Potter, Philip Pullman se Dark Materials, selfs Peter Pan en Star Wars. Dis egter nie ’n geval van nabootsing nie, maar ’n herinkleding van simbole en betekenisse wat uit die mensdom se ryke skat van mites en sprokies kom – dit wat CG Jung onder meer beskryf het as die kollektiewe onderbewuste.

Dus: met die kollektiewe onderbewuste wyd oopgestel, móét elke ernstige fliekkyker eenvoudig hierdie prent gaan sien.

Vir kykers wat sensitief vir bloed en geweld is, dalk net die waarskuwing dat dit ’n oormaat geweld bevat. Dis egter onlosmaaklik deel van die besondere trefkrag van die film. En as ’n mens om jou kyk, moet jy ook erken dat geweld steeds skering en inslag van die mensdom vorm. Vir die periode wat die film uitbeeld, asook vir die groter menslike kondisie, is dit inderdaad werklikheidsgetrou. Helaas.



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



Anderkant die môrester - Anna Penzhorn
Magadaleen Walters - Heruitgawes
Pan African Space Station music festival

Word 'n Vriend van SêNet

© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur