Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Kinderherinneringe uit die 30’s
Anne Pretorius
2007-07-12 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Eendag het daar twee ooms met ’n kar en perde kom kuier. Dit blyk toe oupa Petrus du Preez, wat ek nie op daardie stadium geken het nie, en ’n ander oom te wees. Vreemde mense was maar skaars en ek, nog nie eers vier nie en baie sku, wou nie groet nie. (Oupa Petrus is op 8 Julie 1938 oorlede, ’n week nadat ek vier geword het.) Toe ek uiteindelik naderkom, gee die een oom vir my ’n tiekie (twee en ’n half sent). Vir my was dit ’n groot rykdom.
 
Natuurlik ook ’n tiekie met ’n geskiedenis … Winkels was daardie dae baie skaars en ook baie ver. (Gelukkig was Pappie baie handvaardig en kon hy vir ons skoene maak van wildsvelle wat hy self gelooi het.) Af en toe het daar ’n smous met ’n groot, bruin vragmotor gekom. Sy naam was oom Gert Beukes. Op daardie vragmotor was iets van alles – van Lennon’s-medisyne tot tange en hamers. Toe het hy op daardie dag weer daar aangekom. Nadat Mammie en al die plaasmense klaar gekoop het, het ek ook ’n beurt gekry om my rykdom te spandeer. Wat ’n ondervinding! Nadat ek mooi gesê het van watter lekkers ek alles wou hê, moes ek van die vragmotor afklim. My pakkie is oorhandig – ’n toegeplakte bruin kardoes. “Wag nou tot die oom gery het,” word ek beveel, “dan kan jy jou pakkie oopmaak.” Die hartseer en teleurstelling sal ek nooit vergeet toe ek daardie pakkie oopmaak nie. Wat was daarin? Vyf groot, bruin uiebolle!
 
Wat ook ’n groot plesierigheid vir ons kinders was, is die dae wat ons by die rivier gaan water haal het. Die waterkar was ’n drom wat op twee ysterwiele gemonteer was. Dit is dan met twee donkies voor aangery tot by die rivier. Terwyl die grootmense water geskep het om die drom vol te maak, kon ons kinders lekker in die vlak water speel. By die huis gekom, is daardie water in die drom baie spaarsaam gebruik. Ons groentetuintjie was ook op die wal van die rivier. As die ape klaar geëet het, was daar darem vir ons ook ’n bietjie vars groente oor. Te lekker.

Skooltoegaan was ook ’n ondervinding wat ek altyd sal onthou. Twee dae se ry met die wa en donkies koshuis toe! Daar was ’n paar ander kinders wat ook saamgery het: Hendrik en Hannie Erasmus, Jan, Rustie en hulle ousus, Louisa de Beer. By die koshuis aangekom, het die ander kinders wat al van die koshuislewe geweet het, hulle koers gekry. Pappie en ons twee dogters is toe na die matrone se kantoor. Wat ’n skok! Ek is alleen by die ander graadeens ingedeel en Ousie by haar ouderdomsgroep. Met bewende hande en klappende knieë het ek my kleertjies in die kas wat vir my aangewys is, gepak. Dit moes oorgedoen word, want dit was nie netjies genoeg nie. Toe dit klaar was, wou ek my Ousie hê. Die kamerhoof het vir my gevra wat haar naam is, maar ek het net die een naam geken – nog nooit het ek gehoor dat iemand haar Marie noem nie.
 
Ons het Botswana toe getrek; daardie tyd was dit nog Betsjoeanaland.
 
Dan was daar die atletiekbyeenkoms op Potgietersrus – die eerste ooit. Ons is vieruur die oggend by die skool weg, almal agterop ’n drietonvragmotor. Daar was darem matrasse om op te sit en komberse vir die koue skouers en voete. Ons was almal kaalvoet – die onderwysers wou nie nog skoene en kouse oppas nie. ’n Klomp dom skoolkinders was genoeg. Die ou vragmotor kon seker nie vinniger as 50 km/h ry nie, maar dit was lekker.
 
Naby die dorp was ’n waterpomp langs die pad. Daar het ons stilgehou vir ontbyt en “bos toe”. Seuns eenkant, meisies eenkant. Nou was die opgewondenheid éérs groot – baie van ons was nog nooit in ’n dorp nie en het ook nog nie ’n teerstraat gesien nie. Ons het ons op pad so moeg gesing dat die sportuitslae nie van die beste was nie. Dalk was dit ook maar as gevolg van die gebrek aan ondervinding.
 
Na afloop van die byeenkoms is ons almal getrakteer op melkskommels, ook ’n eerste, by die Bank Tearoom. Melkskommels en Bank, soos ons die plek later genoem het, het deur my hele skoolloopbaan sinoniem gebly.
 
Daar het aan die einde van daardie jaar nog iets gebeur wat my hele lewe tot nou toe beïnvloed het. Ek het ’n boek van Ela Spence gelees, Die storiesak van tant Dorie Storie. Daarin was een storietjie oor “dankie sê”. Van daardie tyd af soek ek altyd iets om voor dankie te sê. Glo my, hoe sleg dit ook al gaan, as jy soek, kry jy altyd iets waarvoor jy kan dankie sê.
 
Koshuis het al hoe lekkerder geword. Ons was almal versot op die Kobie-boeke van Stella Blakemore. Dus het ondeundheid nie uitgebly nie.
 
Naweke was een groot fees as ons huis toe kon gaan. Die Limpoporivier was partykeer vol, en ons moes oor die laagwaterbruggie. Dit was eintlik net ’n sementstrook met pilaartjies langs die kante. Een Maandag toe ons daar kom, was dit weer so. Die son was al op en daar het reeds ’n paar ooms met hulle kinders op die wal van die rivier gestaan. Hulle het almal met bakkies gery en was te bang om oor te ry. Die Winnertze is nou nie juis bang mense nie. Mammie het die brug en rivier goed bekyk en besluit dat die water nie te diep is vir ons en die muilkar nie. Mammie het besluit dat ek die tou moes vat en die muile deur die water moes lei. Ek het maar my blinkgepoetste skoene uitgetrek en mooi met die twee muile gepraat: “Kom Koffie en Patrys, ons is nie bang nie; ons sal die ooms wys ons kan!” Ousie het die kleiner kinders bo-op die muilkar rustig en kalm probeer hou en daar gaan ons met ons ma aan die leisels!
 
Toe ons deur die rivier is, sien ons daar kom die bakkies een vir een deur met hulle waaierbande (“fan-belts”) afgehaal (dit help dat die enjins nie nat word nie). Die mans se kommentaar: As Drina kan, kan ons ook!
 
Nog steeds 1949, en ek moes die volgende jaar hoërskool toe. Koshuisbeurse was nie vir ons Botswana-kinders beskikbaar nie. Nadat Pappie-hulle by die Botswana-regering aansoek gedoen het, het hulle besluit ek moes eers ’n toelatingseksamen skryf voordat hulle hulp sou gee. Wat nou – hulle was net Engels. Ons het gewonder of ek dit sou maak. ’n Woordeboek is inderhaas van Van Schaiks in Pretoria bestel. Ek moes nou vinnig meer Engels leer. Ek onthou dat oom Van Gass voor in my boek geskryf het: “I hope that I shall never be devoid of curiosity about the meaning of a word.” Toe kom die vraestelle – in Afrikaans!

In Oktober 1949 is Marthie, my kleinsus, gebore. Toe die matrone vir my van my nuwe sussie kom sê, kon ek dit nie glo nie. Sy was baie verbaas dat ek nie eers geweet het dat my ma ’n baba verwag het nie.
 
Soos die toeval dit wou hê, moes Mammie en Pappie al twee omtrent dieselfde tyd hospitaal toe gaan op Potgietersrus, 140 myl ver, toe Marthie nog nie eers twee maande oud was nie. Die dankiesêdeel kom selfs hier ook deur, want dit was gelukkig in die Desembervakansie en ons groot dogters kon na die baba omsien en die huishouding waarneem.
 
Oupa en ouma Du Plessis het by ons kom bly, maar was nie van veel hulp nie – hulle moes eerder gehelp word. Ou Sara het nogal baie raad gegee met die baba. Op ’n dag was Marthie huilerig en Ouma beveel Zinkpyn Specific aan. Ek vat toe ’n teelepel en gee dit net so skoon vir haar. Die arme kind het so gestik, haar asem was skoon uit. Ek het nie geweet ’n baba kry net ’n paar druppels van sulke goed verdun met water nie. Sy het darem toe lank geslaap! Die kosgee vir Marthie was ook ’n riller. Een dag koeimelk, een dag bokmelk en as melk nie beskikbaar was nie, meelbol in water. Ons het dit sommer self gemaak: koekmeel in die oond gebak tot dit begin bruin word; dan het dit net soos gekoopte “Ouma Meelbol” gelyk.
 
Met die kosmakery terwyl Mammie-hulle in die hospitaal was, was daar ook baie sports. Hier is een episode. Brood was nie altyd beskikbaar nie, en ons besluit toe om beskuit te bak in die buite-oond. Daar was darem ’n suurdeegplantjie in die huis en ons kon insuur. Toe dit by die knieëry kom, moes daar vet in die deeg kom. Ons is koelkas toe, want daarin is alles koel gehou. (Dit is ’n kas van ’n dubbele laag sifdraad met houtskool tussen-in. Die kole is dan altyd klam gehou. Selfs jellie het in die kas gestol!)  Daar staan toe drie blikke vet op die rakkie: een olierig, een geel en een mooi wit en gestol. Nommer drie word natuurlik gekies! Die beskuit was baie lekker, maar daar het ’n nadraai gekom. Die wit vet was leeuvet wat Mammie uitgebraai het sodat Pappie dit aan die rieme kon smeer as hy dit brei!
                                                                         
Seventeen het nog ’n storie. Met ons ouers in die hospitaal wou ons darem weet hoe dit gaan. Ons het hom te perd na die poskantoor op Swartwater gestuur met ’n briefie met ’n halfkroon (25c) daarin. Die posjuffrou moes die hospitaal bel om te hoor hoe dit gaan. Donkeraand kom Seventeen terug en sê: “Die pos sê niks.” Nog twee keer is hy pos toe en elke keer dieselfde: “Die pos sê niks.” Die posjuffrou het al die mense geken en toe Piet van Gass eendag daar kom, vertel sy hom van die briefies met halfkrone in die posbus. Hy snap toe dadelik wat gebeur het. Met ’n groot gelag het hy die storie vertel – Seventeen het die briefies in die rooi posbus gegooi en gewag dat daar ’n antwoord uitkom! Hy het toe die hospitaal gebel en gehoor dat die twee Winnertz-pasiënte huis toe kon gaan, en hy het hulle op Potgietersrus gaan haal.
 
’n Ander bron van inkomste vir ons was om biltong en rieme te verkoop. Omdat daar nie ’n mark daarvoor in Botswana was nie, is dit maar oor die Limpoporivier gesmokkel. Daar is ook nie altyd aan invoerbelasting gedink nie. Ek en Pappie het gewoonlik die biltong ensovoorts in ’n sak gesit. Soveel as wat elkeen kon hanteer, is op jou rug of voor jou op die perdesaal gesit; dan het ons dit deur die rivier gevat waar die smouse op ons gewag het. Die perde waarop ons gery het, was gewoond aan die water. Eendag het Pappie ’n krokodil langs my doodgeskiet – “boem!” het ek net gehoor en hy wat uitroep: “Kyk net so ’n astrante krokodil!” Gelukkig het die perde nie geskrik nie, want dit was opgeleide jagperde. Toe ons vrag klaar afgelaai is, het ons teruggegaan en die krokodil gaan soek – en hom ook gekry.
 
Anne Pretorius

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Marlies Taljard
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur