Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
 
As it is in heaven het 'n dieper boodskap wat met groot sekerheid en trefkrag oorgedra word
Suzette Kotzé-Myburgh
2007-07-02 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

As it is in heaven
Sweeds met Engelse onderskrifte
Spelers: Michael Nyqvist, Frida Hallgren, Helen Sjöholm, Lennart Jähkel, Ingela Olsson
Regisseur: Kay Pollak


n Uitspraak van Aleksander Solzjenitsin lui: “Skoonheid kan die wêreld red.” Een van die min woorde waarmee ’n mens skoonheid sou kon vervang, is musiek. In As it is in heaven red musiek mense.

Daniel Daréus (Michael Nyqvist) is ’n briljante en uiters suksesvolle dirigent; sy dagboek is agt jaar vooruit reeds vol bespreek. Maar dis duidelik dat sy gesondheid ly onder sy besige lewe én ’n las van verwerping en verlies wat hy uit sy kinderjare saamdra. Ná ’n ineenstorting op ’n konsertverhoog laat hy alles vaar en gaan terug na die dorpie in die noorde van Swede waar hy grootgeword het. Hy is seker dat niemand hom sal herken nie, want sy van is intussen verander.

Maar hy word vriendelik ontvang deur die plaaslike predikant, wat tog te in sy skik is om só ’n beroemde man in hul midde te verwelkom. Wat gaan die beroemde dirigent dan doen, alleen met sy klavier in die ou laerskooltjie wat hy as woning gekoop het? “Luister,” antwoord Daniel. En onuitgesproke: "Ek wil niks met niemand te doen hê nie."

Maar soos die pragtige jong Lena (Frida Hallgren), wat in die supermark werk, ’n tydjie later opmerk, sy’t geweet sy sal die nuweling te sien kry, want almal moet tog die een of ander tyd kos koop. Dat Daniel gesien het hoe sy bitterlik sit en huil agterin die winkel toe sy gedink het daar’s niemand nie, laat hy nie blyk nie.

Daniel maak die fout om ook na die hardewarewinkel te gaan, en voor jy kan sê “sneeuploeg” het die joviale Arne (Lennart Jähkel) ’n fiets aan hom verkoop – in die middel van die Sweedse winter. En Arne het ’n klein gunsie om te vra: of Daniel nie tog net sal kom lúister na hulle kerkkoortjie nie; hulle sal graag ’n paar wenke van so ’n beroemde musikus wil ontvang. Nou ja …

In die geledere van die miserabele koortjie blyk mettertyd ’n hele web van onderstrominge te wees. Terselfdertyd word besonderse nuwe verhoudinge gevorm – musiek word ’n reddende én verlossende krag.

Agter hierdie gebeure lê die dieper boodskap, en een wat die film met groot sekerheid en trefkrag oordra: die afwys van enge godsdienstigheid ten gunste van lewensveranderende spiritualiteit. By monde van Inger (Ingela Olsson), die predikant se vrou en ook ’n koorlid, word afgereken met die beperkings en valshede van skyngodsdiens. Gabriella (Helen Sjöholm) se lied verwoord dié nuwe evangelie in ’n hoogtepunt wat jou asemloos laat.

As it is in heaven is ’n pragtige fliek en beslis die kyk werd. Dis egter ’n bietjie te lank en uitgesponne; dit voel of omtrent elke koorlid se verlede aan die lig gebring en uitgesorteer moet word. En soveel uitbarstings van emosie! Die toon van die vertelling grens plek-plek aan die histeriese. Daarby word die liefdesverhaalelement maar erg voorspelbaar gehanteer.

Desnieteenstaande is dit ’n visuele en veral ouditiewe ervaring wat dae lank in die gemoed bly eggo, vir my altyd die teken van ’n geslaagde fliek. En Michael Nyqvist is ’n akteur om te sien speel.



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



Organiser of the first ever Midlands Meander Literary Fes
Aria! Opera vir almal
ComArt Heritage Festival - a celebration through music, f

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Thys Human
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur