Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
KKNK Oop gesprek: Geen God – of God-geen?
George Claassen
2007-06-27 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Is daar redes om te glo? Of is geloof en rede onversoenbaar?

Ek wil dié vrae dadelik en direk met ’n nee en ’n ja beantwoord.

Nee, daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus en Galileo in die 16de eeu, Darwin in die 19de eeu en moderne bevindings vandag te verdoemend die sprokies wat in die Bybel, die Koran en ander heilige boeke voorkom, finaal nek omgedraai.

En ja, geloof en rede is inderdaad onversoenbaar in die eeu waarin wetenskaplike bevindings en rasionaliteit die enigste meganismes is om te oorleef in ’n heelal en sonnestelsel waarin die God waarin soveel glo, duidelik nog nooit sy of haar verskyning gemaak het nie, of darem te dêm stil is wanneer die mens hom of haar die nodigste het.

Ek wil as wetenskaplike en rasioneelingestelde mens met ’n gekalibreerde en aangeskakelde onsinverklikker bietjie ’n draai maak by die letterkunde, en wel by Lewis Carroll se Alice in Wonderland. Verlede jaar het die toonaangewende Britse embrioloog Lewis Wolpert juis liewe Alice en haar blootstelling aan die irrasionele denke van die Wit Koningin nadergetrek in sy briljante boek, Six Impossible Things Before Breakfast. Die wetenskapsjoernalis Charles Wallace het ook onlangs daarna verwys in sy artikel in By, waarin hy verduidelik het waarom neurowetenskaplikes deesdae so intens navorsing doen oor die verskynsel van religie en die mens se behoefte aan gode.

Alice vind dit moeilik om in onmoontlike dinge te glo. Dit vertel sy aan die
Wit Koningin wanneer hulle oor geloof praat.

Maar die Wit Koningin laat haar nie van stryk bring nie. “I dare say, you haven’t had much practice. When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast,” vertel sy aan Alice.

Nee, daar is nie ’n wetenskaplike werklikheid soos ’n God-geen nie. Die navorser wat dit eerste geformuleer het, Dean Hamer, is reeds lankal gediskrediteer en verkeerd bewys, al het die media met fanfare oor sy God-geen-teorie verslag gedoen. (Terloops, Time, Newsweek en Der Spiegel verkoop op hul beste wanneer hulle ’n godsdienstema op hul voorblad plaas.) Praat dan liewer van ’n God-meem of godsdiens-meem.

Richard Dawkins neem dié evolusionêre proses van variasie, seleksie en oorerflikheid ’n stap verder en in The Selfish Gene pas hy dit toe op menslike nabootsing en kulturele oordrag deur biologiese gene uit te brei na wat hy meme noem. ’n Meem is ’n eenheid van kulturele oordrag, of ’n eenheid van nabootsing. Gene word gerepliseer, gekopieer van ouers na nasate van generasie tot generasie. Ooreenstemmend hiermee is ’n meem enigiets wat gerepliseer word van brein na brein, via enige vorm van kopiëring, verduidelik hy.

Volgens Dawkins kan meme goeie idees wees, goeie melodieë, goeie gedigte, of ook kaf, soos slagspreuke. Enigiets wat deur nabootsing versprei, soortgelyk aan die verspreiding van gene deur liggaamlike reproduksie of virale infeksie, is ’n meem. En godsdiens is vandag een van die sterkste meme wat waarneembaar is in die sosiale gedrag van mense.

Die Britse wetenskaplike Susan Blackmore, vandag die leidende navorser oor memetiese verskynsels, gee ’n uiteensetting van die verskil tussen wetenskap en godsdiens. Die wese van wetenskap is die wetenskaplike metode, wat berus op die toetsing van enige idee. Godsdiens werk nie so nie. Dit bou teorieë oor die wêreld en probeer dan verhinder dat dit getoets word. Godsdiens verskaf aangename, aantreklike en gerusstellende idees en klee hierdie idees dan in ’n masker van die "waarheid, skoonheid en goedheid". Die teorieë kan dan gedy, al is hulle onwaar, lelik of wreed, skryf sy in haar boek The Meme Machine.

Daar is mense, veral gelowiges wat darem erkenning aan die wetenskap wil gee, wat die Amerikaanse paleontoloog Stephen Jay Gould se NOMA-beginsel propageer. Volgens Gould is godsdiens en wetenskap twee verskillende terreine; hy noem dit Nie-oorvleuelende Magisteria. Hiervolgens moet die wetenskap sy neus uit die sake van die godsdiens hou en omgekeerd.

Maar Gould se status as wetenskaplike het sedert sy dood in 2001 sterk gedaal en sy NOMA-beginsel word om verskillende redes deur belangrike wetenskaplikes verwerp. Vandag aanvaar die hoofstroomwetenskap eerder Dawkins, Sam Harris, Daniel Dennett, Steve Jones, Jared Diamond, Lewis Wolpert, Ernst Mayr, Victor Stenger en talle ander vooraanstaande wetenskaplikes se standpunt dat Gould se NOMA-beginsel heeltemal te akkommoderend teenoor godsdiens is, veral omdat godsdiens propageer dat wonderwerke wat teen alle fisiese natuurwette indruis, moontlik is.

Stenger, ’n Amerikaanse fisikus, het juis in sy boek God: The Failed Hypothesis – How Science Shows That God Does Not Exist die absurditeit van godsdienstige aansprake in die lig van wetenskaplike bevindings aangetoon. Dawkins skryf in The Devil’s Chaplain dat elkeen van hierdie wonderwerke wat godsdienstiges verkondig, inderdaad aanspraak maak op wetenskaplikheid, “a violation of the normal running of the natural world”. Om in wonderwerke te glo is om die wette van die natuur omver te gooi terwyl dit die een wat glo, onmiddellik in die veld van die wetenskap plaas. As teoloë wil eerlik wees, moet hulle ’n keuse uitoefen, skryf Dawkins. “You can claim your own magisterium, separate from science's, but still deserving of respect. But in that case you have to renounce miracles.”

’n Beduidende persentasie van meer as 90 persent van die elite wetenskaplikes in Brittanje en die VSA stem hiermee saam. Wolpert verwys in Six Impossible Things Before Breakfast – The Evolutionary Origins of Belief na die Wit Koningin-sindroom wat so kenmerkend is by gelowiges en aanhangers van die paranormale.

Volgens Wolpert wys deurlopende navorsing dat die persentasie wetenskaplikes wat in ’n god glo, sedert 1914 drasties gedaal het. Dit is opvallend dat hierdie dalende syfer juis in die vroeë jare van die 20ste eeu waarneembaar begin word het toe Darwin se evolusieteorie nuwe lewe begin kry het danksy die ontwikkeling van moderne genetika. En daarna natuurlik die geweldige vooruitgang wat gemaak is in ons kennis van die heelal deur moderne kosmologiese bevindings.

Toe Darwin in 1859 The Origin of Species publiseer, het Gregor Mendel nog nie sy genetiese eksperimente in ’n Augustynse kloostertuin in Brünn, Bohemië voltooi nie. Mendel het uiteindelik sy navorsing in 1866 in ’n obskure Duitse vaktydskrif gepubliseer, maar Darwin, wat in The Origin of Species ruiterlik erken het hy weet nie waaraan die variasie tussen individuele organismes, waarop natuurlike seleksie inwerk, toegeskryf kan word nie, kon nie Duits lees nie – en was tot sy dood in 1882 nie bewus van Mendel se belangrike werk wat in wese sy evolusieteorie kragtig ondersteun en bevestig het nie. En as hy dit wel gelees het, sou hy miskien nie die waarde daarvan in daardie stadium van wetenskaplike ontwikkeling besef het nie.

Eers in die vroeg 20ste eeu is Mendel herontdek en het dit gelei tot die ontwikkeling van die moderne genetika wat in 2001 ’n hoogtepunt bereik het met die kartering van die menslike genoom.

Wolpert toon aan hoe wetenskaplikes van aansien stelselmatig oor ’n tydperk van byna ’n eeu, “danksy die wese van wetenskaplike bevindings en ontdekkings, minder gelowig geword het, juis omdat hulle dit as kenners eerstehands beleef, in die laboratorium, deur die lense van verkykende teleskope, in die stof van Afrika, China en ander plekke waar fossiele die evolusionêre verlede oproep,” soos Charles Wallace dit in sy artikel in By stel.

In twee ondersoeke, in 1914 en 1933, is wetenskaplikes onder andere die volgende gevra: Glo jy in ’n God wat kommunikeer met mense en tot wie ’n mens kan bid en van wie jy ’n antwoord kan verwag? Glo jy in ’n ewige lewe? "Ja", "Nee" en "Ek weet nie" was die enigste moontlikhede hoe hulle kon antwoord. Die ondersoeke is in 1996 en 1998 herhaal.

Tussen 1914 en 1998 het die persentasie van wetenskaplikes – dit sluit geestewetenskaplikes in – wat in God glo, konstant gebly op ongeveer 40 persent. Maar onder die natuurwetenskaplike elite – wenners van Nobelpryse, die Field-medalje en ander gesaghebbende natuurwetenskaplike toekennings – het net 30 persent in 1914 in God geglo en teen 1933 het dit gedaal tot net 20 persent. In 1998 het die elite wetenskaplikes van die Royal Society se Amerikaanse eweknie, die National Academy of Science (NAS), net 10 persent gelowiges gehad, waar bioloë die sterkste verteenwoordig was, verduidelik Wolpert. Dit is ’n belangrike bevinding, omdat die biologie, soos ek later in ’n paar aanhalings sal toon, die wese van Darwin se evolusieteorie uitmaak. En dit is Darwin wat die skeppendegodheid-gedagte in die 19de eeu sy eerste ernstige kopskoot gegee het – ’n wond wat daarna stelselmatig deur die openbaringe van moderne genetika septies geword en uiteindelik tot die dood van die Ewige Lewe-verwagting sal lei.

Volgens die Larson en Witham-navorsingstudie van 1998, toon Dawkins in The God Delusion aan, wys soortgelyke getalle vir die Royal Society in Brittanje dat topwetenskaplikes wat in ’n godheid en ’n ewige lewe glo, ’n baie klein persentasie geword het. Net 3,3 persent van Brittanje se topwetenskaplikes het sterk saamgestem met die stelling dat ’n persoonlike god bestaan.

Soos Wallace wil ek ook vra: Is hierdie oorweldigende statistiek teen dit waarvoor godsdiens staan, relevant? Behoort die getalle wat ek hier genoem het, gewig te dra? Myns insiens is dié statistiek wat die menings van kundiges oor die moontlikheidsfaktor van ’n skeppende godheid in die lig van rasionele wetenskaplike bevindings weeg, inderdaad hoogs relevant en behoort ons dit ernstig op te neem.

Kom ek gee ’n voorbeeld: Wanneer wetenskaplikes in hofsake geroep word om te getuig oor hul bevindings, kan hul kundigheid en kennis swaar gewig dra in howe se uitsprake. Ek het geen twyfel nie dat as dié soort statistiek in ’n hof aangebied sou word deur topwetenskaplikes, dit onvermydelik sou wees dat die oorwig van getuienis deur gerekende kenners soos dié van die Royal Society en die NAS téén die waarskynlikheid van ’n Intelligente Ontwerper, die triomf van wetenskap in vandag se diskoers sou bevestig.

Dawkins stel dit duidelik en ondubbelsinnig in sy hoogaangeskrewe werk, The Selfish Gene:

Die heelal wat ons waarneem, het presies die kenmerke wat ons sou verwag as daar in wese geen ontwerp, geen doel, geen kwaad, geen goed, niks anders as sinlose afsydigheid is nie ... Ons is masjiene om DNS voort te plant ... Dit is elke lewende voorwerp se enigste rede om te leef.

Die Amerikaanse filosoof David Hull stel dit selfs sterker in sy verdoemende resensie van die boek Darwin on Trial deur die aartsvader van Intelligente Ontwerp, die regsgeleerde Phillip Johnson. In die tydskrif Nature haal Hull Darwin self aan wat oor ’n liefdevolle skepper-God die volgende te sê gehad het:

I cannot persuade myself that a beneficent and omnipotent God would have designedly created the Ichneumonidae with the express intention of their feeding within the living bodies of caterpillars.

Hull skryf verder:

Whatever the God implied by evolutionary theory and the data of natural history may be like, He is not the Protestant God of waste not, want not. He is also not a loving God who cares about His productions. He is not even the awful God portrayed in the book of Job. The God of the Galápagos is careless, wasteful, indifferent, almost diabolical. He is certainly not the sort of God to whom anyone would be inclined to pray.

Ook vir Wolpert is wetenskaplike denke die hoogste doel in die lewe:

My denke is gegrond op ’n geloof in die wetenskaplike proses, en die noodsaaklikheid vir bewyse ... Ek is verbind tot wetenskap en glo dis die beste manier om die wêreld te begryp ... Ek weet van geen goeie bewyse vir die bestaan van God nie ... Die wetenskap verskaf by verre die mees betroubare metode om vas te stel of iemand se geloofsoortuigings geldig is. Dit mag moeilik wees, omdat dit dikwels teen gesonde verstand indruis, maar sy waarde is onmeetbaar.

Die beheptheid van ons Afrikaanssprekendes om dit wat ons nie kan verklaar nie, aan God toe te skryf, is die maklike, onkritiese en nie-ondersoekende weg. Gideon Joubert het dit gedoen in sy topverkoperboek, Die Groot Gedagte. En ongelukkig ook Leon Rousseau in Die Groot Avontuur. En daagliks sien ons dit in die Afrikaanse media in die woorde en uitsprake van vooraanstaande Afrikaanses soos Wilhelm Jordaan, Okkie Geyser, Anton van Niekerk, Louw Alberts, Eugène Cloete, die Princeton-brigade van Sorita Baard en Wentzel van Huyssteen en ander wie se gesigte ek hier in die gehoor waarneem.

Die bewyse vir evolusie het nou so oorweldigend geword dat heelwat gelowiges dit selfs aanvaar. Maar die nuwe manier om verby die aaklige werklikheid van evolusie te kom (aaklig vanuit die oogpunt van die skeppingsverhaal van die Bybel), is om die vae idee van ’n Intelligente Ontwerper voor te stel. Hierdie Intelligente Ontwerper het dan kwansuis evolusie ingespan vir die skepping om te ontwikkel. Wie hy of sy is, word nie openlik gesê nie, hoewel die Discovery Institute in Seattle, die groot propageerders van Intelligente Ontwerp, reeds in ’n onbewaakte oomblik erken het dit kan net die God van die Christelike godsdiens wees. Waar dit die arme Moslems laat met hul eie unieke Intelligente Ontwerper weet nugter alleen!

Die Amerikaanse genetikus Jerry Coyne verklaar hierdie nuwe verskynsel so:

Die werklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is … As die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde "God" te noem nie.

Dit sluit aan by wat die Britse fisikus William Bowen Bonner oor die wetenskaplike metode sê:

Dit is die werk van wetenskaplikes om rasionele verduidelikings te gee vir al die gebeure in die werklike wêreld, en elke wetenskaplike wat dit aan God oorlaat om iets te verduidelik, is besig om sy taak te verloën. Dit is net so goed van toepassing op die begin van die uitbreiding (van die Heelal) as op enige ander gebeure. As die verduideliking nie dadelik gegee word nie, moet die wetenskaplike uitspraak voorbehou: maar as hy sy sout werd is, sal hy altyd vasstaan dat ’n rasionele verduideliking uiteindelik gevind sal word. Dit is die een stukkie dogmatisme wat die wetenskaplike homself kan gun – en daarsonder sal die wetenskap in gevaar verkeer om elke dag toe te gee aan bygeloof elke keer as ’n probleem vir ’n paar jaar nie opgelos kan word nie.

Gelowiges gebruik aanhoudend die argument dat die wetenskap nie die bestaan of niebestaan van God kan bewys nie. Dit is ’n veilige skans waaragter geen rasionele en intelligente mens behoort te skuil nie. Dit is nie die wetenskap se plig en doel om God se bestaan te bewys nie. Soos 'n wetenskaplike van Yale-universiteit, Robert Dorit, dit in ’n artikel in Scientific American gestel het,: “(Die) wetenskap soek nie die vingerafdrukke van God nie.” Dit is egter wel die plig van gelowiges om vir ons in ’n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die gode waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.

Hieroor skryf Robert Todd Carroll, ’n Amerikaanse akademikus en skeptikus en die uitgewer van The skeptic’s dictionary:

Die argument van ontwerp is een van die "bewyse" vir die bestaan van God. In sy basiese vorm lei dié argument uit die intelligente orde en geskape skoonheid van die heelal af dat daar ’n intelligente Ontwerper en Skepper van die heelal is. Kritici van die argument wys daarop dat dit aanneem wat nog bewys moet word: Dit aanvaar die heelal is ontwerp sodat bewys kan word dat dit die werk van ’n ontwerper is. Die argument onderdruk ook bewyse: met al sy skoonheid en grootsheid is die heelal ook vol, om dit sagkens te stel, aaklighede. Om meer spesifiek te wees: babas wat sonder ’n brein gebore word, goeie mense wat verskriklik swaarkry en ly aan neurofibromatose, bose mense wat in die son lê en hul mag en reputasie geniet, ensovoorts. Vulkane wat uitbars, aardbewings wat die planeet laat skud, orkane en tornado’s wat daagliks duisende lewens eis. Om te sê, soos heelwat voorstanders van Ontwerp doen, dat dié aaklighede net vir ons aaklig lyk omdat ons onkundig is oor God se plan en visie en dat ons nie kan weet hoe goed dié aaklighede werklik is nie, is selfweersprekend. As ons nie kan weet wat goed is en wat nie, kan ons nie weet of die ontwerp, indien dit ooit bestaan, goed of sleg is nie.

Die godsdienswetenskaplike en amperse kerkhervormer Sakkie Spangenberg, let wel, uitgeban as gevolg daarvan asof ons nog in die tyd van Galileo leef, bied ’n ander perspektief op die vertwyfeling wat gelowiges ondergaan elke keer as daar ’n natuurramp gebeur of mense ly:

Homo sapiens is nie die spil waarom die aarde draai nie – al wil die Christelike dogmas ons dit maak glo. Ook hierdie spesie kan soos die dinosourusse verdwyn – en dalk was die tsoenami-ramp ’n herinnering aan die moontlikheid.

Nathan Bond, opgeleide teoloog en Suid-Afrikaanse sakeman en die uitgewer en redakteur van die weeklikse e-tydskrif oor die invloed van godsdiens, TART Remarks, verwys ook hierna in ’n artikel kort nadat die tsoenami van Desember 2004 almal laat probeer verduidelik het waar God dan was om iets so verskrikliks te voorkom:

Die verbouereerde en teenstrydige uitsprake van geloofsleiers oor die tsoenamiramp wil almal ’n Skepper- en Verlossergod beskerm en verskans. Maar die wetenskap se bevindings oor natuurkragte word in al die verduidelikings en verklarings misken en geïgnoreer. Die Aartsbiskop van Kantelberg het erken dat dit onder die omstandighede verstaanbaar is dat gelowiges aan die bestaan van God twyfel. Slegs die mees vergewende denker kan godsdiens se reaksie en kommentaar en verduideliking en analise van die tsoenamiramp ernstig opneem. Die godsdiens opper elke moontlike antwoord, maar die godsdiens het inderdaad geen antwoord nie. Die godsdiens se reaksie huiwer meestal tussen die waansinnige (dis oor sonde) en die venynige (dit toets ons geloof) en die gewelddadige (ná die Lissabon-aardbewing van 1755, byvoorbeeld, is ketters wat God se toorn sou ontlont het, opgehang). Vir antwoorde moet ons liefs by die wetenskap aanklop: God het niks met die tsoenami te doen gehad nie. Die tsoenami is veroorsaak deur plaattektoniek-aktiwiteit – ’n aardbewing. Aardbewings is alledaags; daar is gemiddeld elke dag twee aardbewings van 2,0 of hoër op die Richterskaal iewers in die wêreld. Dit gebeur omdat die Aarde ’n dinamiese planeet is wat lewe op ’n dinamiese manier onderhou.

Of soos Steven Weinberg, die Nobelpryswenner in fisika, dit gestel het:

As daar ’n God is wat spesiale planne met ons het, het Hy baie moeite gedoen om sy bekommernis oor ons weg te steek. Dit lyk vir my na swak maniere, selfs heiligskennis, om so ’n God met ons gebede lastig te val.

Daar is ’n ander rede waarom ons nie meer hoef te glo nie. Gelowiges beweer ons het die morele kompas van godsdiens nodig en dat ons daarsonder deur die golwe aangeblaas deur Satan se boosheid tot niet sal gaan. Navorsing vandag toon duidelik dat godsdiens nie die alleenreg op moraliteit het nie. Marc Hauser, professor in psigologie en biologiese antropologie en direkteur van die Cognitive Evolution Laboratory aan Harvard, sê in ’n onderhoud in die 3 Maart-uitgawe van New Scientist:

What interests me is the assumption that morality and religion are synonymous. The evidence we have suggests that having a religious background makes no difference to your moral judgment.

In ’n artikel wat op 20 Maart in die wetenskapbylae van The New York Times verskyn het, skryf die wetenskapverslaggewer Nicholas Wade oor onlangse navorsing onder sjimpansees en ander primaatspesies die volgende oor die mens en veral teoloë en filosowe se verkeerde aanspraak dat moraliteit ’n menslike kwaliteit is:

Some animals are surprisingly sensitive to the plight of others. Chimpanzees, who cannot swim, have drowned in zoo moats trying to save others. Given the chance to get food by pulling a chain that would also deliver an electric shock to a companion, rhesus monkeys will starve themselves for several days. Biologists argue that these and other social behaviours are the precursors of human morality. They further believe that if morality grew out of behavioural rules shaped by evolution, it is for biologists, not philosophers or theologians, to say what these rules are.

Dan wil ’n mens nie eens praat oor die gruwels wat steeds in die naam van amptelike heilige en kerklike voorskrifte gepleeg word nie, ondanks die bevindings van die wetenskap. Kom ek noem net een voorbeeld: die amptelike Christelike kerk, die Islam en ander gelowe se standpunt oor gays. Onlangs was daar ‘n foto in die media van jong seuns wat op die punt was om tereggestel te word in Iran. Hul sonde: dat hulle gay is.

Navorsing het reeds lankal die genetiese verband van gay-wees aangetoon, en argumente dat die mens die enigste spesie is waarin homoseksualiteit voorkom en dat ander “diere” dit nie beoefen nie, is ook blatant verkeerd. Enige primaatwetenskaplike sal kan aantoon hoe algemeen homoseksualiteit by sekere primate soos sjimpansees en bonobo’s is. Maar die wetenskap word liefs en gerieflik geïgnoreer terwyl gays in Iran en ander Moslemlande gestenig en opgehang word en hier by ons en in ander sogenaamde Christenlande deur die kerk uitgeban word.

As godsdiens hierdie soort ongeregtigheid pleeg in weerwil van wetenskaplike bevindings, laat dit ’n mens geen keuse nie as om jou by Steve Weinberg, die Nobelpryswenner in fisika na wie ek vroeër verwys het, aan te sluit:

Godsdiens is ’n belediging vir menslike waardigheid. Met, of daarsonder, sal jy goeie mense kry wat goeie dinge doen en bose mense wat bose dinge doen. Maar vir goeie mense om bose dinge te doen, dit is wat godsdiens doen.

Moet ons glo omdat, soos sommige twyfelagtige studies beweer, godsdiens sorg vir beter samelewings? Of soos Michael Shermer, direkteur en uitgewer van die Amerikaanse Skeptic-vereniging, onlangs in sy rubriek in die Scientific American gevra het: “Is religion a necessary component of social health?”

Navorsing deur die wetenskaplike Gregory S Paul wat gepubliseer is in die Journal of Religion & Society het bevind daar is

’n omgekeerde korrelasie tussen godsdienstigheid (gemeet deur geloof in God, Bybelse literalisme, en die frekwensie van gebed en kerkdiensbywoning) en maatskaplike gesondheid (gemeet aan die voorkoms van moord, kindersterftes, lewensverwagting, seksueel oordraagbare siektes en tieneraborsies en -swangerskappe) in 18 ontwikkelde demokrasieë.

Paul skryf:

In general, higher rates of belief in and worship of a creator correlate with higher rates of homicide, juvenile and early adult mortality, STD (sexually transmitted disease) infection rates, teen pregnacy, and abortion in the prosperous democracies.

Carl Sagan, die Amerikaanse fisikus bekend vir sy popularisering van die astronomie, het die punt beklemtoon dat buitengewone aansprake soos om in ‘n godheid te glo wat alles geskape het, buitengewone bewyse vereis:

Of ons daarvan hou of nie, wetenskap is deel van ons lewe. Maar bygeloof en pseudowetenskap hou aan om in die pad te kom, lei ons aandag … af, gee maklike antwoorde, vermy skeptiese ondersoek, druk so maklik ons eerbiedknoppies en maak ons belewenis goedkoop, wat ons verander in geroetineerde en gemaklike beoefenaars sowel as slagoffers van goedgelowigheid

skryf hy in The demon-haunted world – science as a candle in the dark.

Vandag sit ons in die ernstige dilemma dat terwyl Charles Darwin se epogmakende werk The Origin of Species 150 jaar gelede ons konsep van die wêreld onomkeerbaar sal verander het, daar steeds miljarde mense is wat glo evolusie is net ’n teorie, nie ’n feit nie. Maak nie saak wát die wetenskap sélf oor evolusie te sê het nie. En dat regerings en die gewone burgery daagliks besluite op grond van hierdie absurditeite neem. Ek haal net vier wetenskaplikes hieroor aan:

Jared Diamond, die Amerikaanse fisioloogen Pulitzerpryswenner, skryf:

Evolusie is die diepsinnigste en kragtigste idee wat die afgelope twee eeue uitgedink is.

Dan die mening van wyle Ernst Mayr, die Duitsgebore Amerikaanse evolusionêre bioloog, waarskynlik een van die grootstes sedert Darwin, en ’n duideliker uitspraak kan jy nie kry nie:

Evolusie is die belangrikste konsep in biologie. Daar is nie ’n enkele Hoekom?-vraag in biologie wat ordentlik beantwoord kan word sonder om evolusie te oorweeg nie. Maar die belangrikheid van hierdie konsep strek veel verder as biologie. Die denke van moderne mense, of ons dit nou wil erken of nie, word radikaal beïnvloed – ’n mens word byna in die versoeking gestel om te sê "bepaal" – deur evolusionêre denke (What evolution is).

Dan die Britse bioloog, Julian Huxley:

Evolusie is die kragtigste en die omvattendste idee wat nog ooit op Aarde ontstaan het.

En ten slotte die beroemde Russiesgebore Amerikaanse genetikus Theodosius Dobzhansky:

Nothingin biology makes sense except in the light of evolution.

Stel hier teenoor die verstommende menings van twee Kerkvaders wat ongelukkig steeds deur soveel mense vandag in vyandskap teenoor rasionele denke herhaal (en geglo) word:

Eerstens die mening van die Duitse kerkhervormer Philipp Melanchthon (1497-1560):

Hierdie mal mens Copernicus moet deur die een of ander Christelike prins onderdruk word.

Of Johannes Calvyn:

Wie sal dit waag om die gesag van Copernicus bo dié van die Heilige Gees
te stel?

Ek wil dit herfomuleer in die idioom van die moderne kerk en moskee: "Wie sal dit waag om die gesag van Darwin, Einstein, Penzias en Wilson, Mayr en die wetenskap bo dié van die Heilige Gees te stel?”

Ek wil afsluit met vier laaste opmerkings. Die groei van bygeloof (en geloof in een of ander god is niks anders as bygeloof nie), beteken dat rasionaliteit onder beleg is. Dick Taverne, die Britse skeptikus, skryf in The March of Unreason – Science, Democracy, and the New Fundamentalism:

Die Rome wat die wetenskap gebou het, is onder beleg deur die barbare.

Richard Dawkins verduidelik hierdie vasklou aan bygeloof só in The Devil’s Chaplain:

Die feit dat wentelende teepotte en tandmuise nie bewysbaar is nie, word nie deur enige rasionele mens beskou as die soort feit wat enige interessante meningsverskil oplos nie. Nie een van ons voel die verpligting om enige van die miljoene vergesogte dinge waarvan ’n vrugbare of geestige verbeelding kan droom verkeerd te bewys nie. Ek vind dit ’n amusante strategie om, wanneer ek gevra word of ek ’n ateïs is, te benadruk dat die vraagsteller ook ’n ateïs is wanneer ons verwys na Zeus, Apollo, Amon, Ra, Mithras, Baal, Thor, Wotan, die Goue Kalf en die Vlieënde Spaghetti Monster. Ek gaan net een god verder.

Douglas Adams het op gelowiges se aanspraak dat die skoonheid van die natuur bewys is dat God bestaan, gevra:

Is dit nie genoeg om te sien dat ’n tuin mooi is sonder dat dit nodig is om te glo dat daar ook feetjies onder in die tuin woon nie?

Ek dink AN Wilson is reg in sy siening dat “die feit dat logika ons nie kan bevredig nie, ’n byna onversadigbare honger vir die irrasionele in ons loslaat."

Mag ek waag om in ons land, waar vryheid van spraak gewaarborg word, te vra waarom godsdienste, in die lig van oorweldigende wetenskaplike bewyse wat die credo van hul geloof aantas en ongedaan maak, dan sulke spesiale beskerming geniet in ons samelewing? Godsdiens is niks anders nie as ‘n vorm van bygeloof, soos Jerry Coyne tereg aandui. Waarom moet godsdienstige menings dan méér gesag en beskerming geniet as ander bygelowe en pseudowetenskaplike uitings? Ons bied nie aan mense wat glo in astrologie of in die Jeti of in gesprekke met dooies spesiale beskerming teen kritiek op hul geloof nie. Waarom dan aan godsdiens? Laat elkeen gerus sy bygeloof beoefen, maar moenie van wetenskaplikes en rasionele mense verwag om hul aansprake kritiekloos te aanvaar nie.

Nee, Steven Weinberg was reg:

The world needs to wake up from the long nightmare of religion. Anything we scientists can do to weaken the hold of religion should be done, and may in fact be our greatest contribution to civilisation.

Ek sluit my aan by Carl Sagan, en dit het die twee beroepe wat ek in my lewe beoefen het, die wetenskap en die joernalistiek, my duidelik geleer: Skaf vir jou ’n onsinverklikker aan en sorg dat dit altyd aangeskakel is; en as dit weens die drogargumente van gelowiges, bygelowiges en pseudowetenskaplikes uit frekwensie raak, maak seker dat dit altyd gekalibreer is. Dit is ons enigste reddingsboei, nie geloof in mitiese gode of ander irrasionele hyskrane wat ons vir onsself na die hemel bou nie.

KKNK Oop Gesprek: Geen God of God-geen?
Sondag 1 April 2007

<< Terug na KKNK Oop Gesprek 2007 <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Ida van Dyk
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur