| KKNK Oop gesprek: Geen God of God-geen? |
Gerrit Brand
In die vierde eeu nC het ’n hewige storm onder Christene losgebars oor die Griekse letter iota, oftewel ι. Dié stryd rondom die kleinste letter in die Griekse alfabet (soos Edward Gibbon leedvermakerig in sy History of Christianity uitwys) het gewentel om die vraag: Is Christus homoousios, dit wil sê wesensgelyk, met God die Vader, of eerder homoiousios, wesensóórtgelyk? Is hy benewens “waarlik mens”, ook “waarlik God”, soos dit later uitgedruk is; of is hy bloot op die een of ander manier sóós God?
As dit vir u na ’n obskure debat klink, kan u gerus ’n oomblik stilstaan by die onderwerp van vandag se Oop Gesprek-sessie: “Geen God of God-geen?”. Let veral op daardie piepklein woordjie in die middel: of. Want, in sekere sin draai vandag se debat om hoe ons daardie woordjie – een van die kleinstes in Afrikaans – moet vertolk – byna soos die vierde-eeuse kerkstryd om die lettertjie ι gedraai het.
Die woord of dui gewoonlik op twee wedersyds uitsluitende moontlikhede: nie die een én die ander nie, maar wel die een óf die ander. By die eerste lees van ons gespreksonderwerp vermoed ’n mens dus dat dit gaan oor twee teenoorstaande standpunte wat verdedig kan word. Kyk ’n mens egter na die woorde aan weerskante van die of, dan lyk dit nie met die eerste oogopslag na teenoorstaande begrippe nie. Is die mense wat “geen God” sê, nie dikwels ook diegene wat van ’n “God-geen” praat nie?
In die feesprogram se toeligting by die tema word onder meer na Richard Dawkins se boek The God Delusion verwys. In dié boek stel Dawkins dit duidelik dat dit, volgens hom, hoogs waarskynlik is dat daar “geen God” is nie. As deel van sy betoog ter ondersteuning hiervan gaan hy taamlik uitgebreid in op moontlike verklarings vir die feit dat mense nietemin godsdienstig is. Nes sy vriend en geesgenoot Daniel Dennett, ook ’n “belydende ateïs” (met apologie aan John Kannemeyer), oorweeg hy ’n aantal natuurlike, toetsbare verklarings vir die feit dat mense klaarblyklik ’n geneigdheid tot godsdiens het.
Naas ’n aantal sielkundige, sosiologiese, ekonomiese en neurologiese verklarings vir die verskynsel van godsdienstigheid, en ter aanvulling van dié verklarings, oorweeg Dawkins en Dennett ook Darwinistiese verklarings, oftewel verklarings aan die hand van evolusie by wyse van natuurlike seleksie. Miskien is daar ’n “God-geen”? Of meer genuanseerd uitgedruk: Miskien is die mens deur evolusie toegerus met ’n aantal geneties gebaseerde eienskappe, soos verbeelding, abstrakte denke, goedgelowigheid en onderdanigheid, wat sy kans om te oorleef en voort te plant verbeter, maar wat hom ook vir godsdiens vatbaar maak? Miskien is dié hang na godsdiens ’n bloot toevallige byproduk? Maar dit kan ook wees dat godsdiens op sigself bepaalde voordele in die stryd om oorlewing en voortplanting inhou, sodat juis die godsdienstiges onder ons telkens weer hul gene en gepaardgaande nukke aan ’n nageslag oorgedra kry.
Dis ook moontlik, reken veral Dawkins, dat godsdiens self ’n evolusie ondergaan, en in konkurrensie met ander opvattings, praktyke, houdings en so meer, geslyp word vir beter oorlewing en voortplanting – met die mens as sy draer. Aangesien godsdienste nie biologiese organismes is nie, praat Dawkins in dié verband dan van sogenaamde “meme” in plaas van “gene”. So kry godsdiens dan as ’t ware ’n eie lewe, word dit ’n kwasi-organisme, en kan dit potensieel dus ook as ’n soort parasiet verstaan word – iets soos ’n kopluis of ’n virus. Dawkins vergelyk godsdiens dan ook uitdruklik met ’n skadelike virus wat ’n ysere houvas op mense kry, maar niks goeds vir hulle inhou nie.
Hoe dit ook al sy, Dawkins, Dennett en talle gelykgesindes het heelwat vertroue in die wetenskap se vermoë om godsdiens uiteindelik, soos Dennett dit stel, as “’n natuurverskynsel” te verklaar – sonder om God of enige ander bonatuurlike faktor in berekening te bring. En juis dit, reken hulle, dien as kragtige getuienis téén die gedagte dat God bestaan.
Immers, die “natuurlike” verklarings vir godsdienstigheid wat aan die hand gedoen word, maak God-as-verklaring oorbodig. Meer nog, God-as-verklaring kan nie proefondervindelik gekontroleer word nie, is nie empiries toetsbaar nie, en behoort dus nie eens oorweeg te word nie – die wetenskaplike móét eenvoudig aanneem dat daar ander, natuurlike, verklarings vir mense se geneigdheid tot godsdiens is, ook al weet hy nog nie wat daardie verklarings is nie.
Volgens dié soort beskouing is die slagwoorde “geen God” en “God-geen” nie teenstrydige begrippe nie, maar hang hulle eerder saam, en ondersteun mekaar: Vir sover “God-geen” vir alle natuurlike verklarings van godsdienstigheid staan, neem dit “geen God” as uitgangspunt – omdat die bonatuurlike in die soeke na sulke verklarings uit die staanspoor buite rekening gelaat moet word. Maar “God-geen” dien ook ter stawing van “geen God”, omdat God-as-verklaring toenemend aan geloofwaardigheid inboet namate die soektog na natuurlike verklarings suksesvol is. Die of tussen “Geen God” en “God-geen” word dan as ’n oftewel verstaan – twee maniere om dieselfde ding te sê.
Nou is dit opvallend dat die gedagte van ’n natuurlike, aangebore predisposisie tot godsdiens by die mens, ’n vatbaarheid vir die religieuse, ook in gelowige kringe robuus verdedig word. “Onrustig is ons hart totdat dit rus vind in U,” sê die kerkvader Augustinus byvoorbeeld in sy Belydenisse. Die Middeleeuse skolastici praat van ’n sensus divinitatis, ’n soort sintuig vir God waaroor elke mens van nature beskik. En in ’n bewoording wat sterk aan Dawkins se virus-analogie herinner, het die skrywer CS Lewis dit in sy Mere Christianity (wat pas ook in Afrikaans as Doodgewoon Christen verskyn het), oor geloof as iets aansteekliks – maar dan ’n “good infection”.
Ook die onderskeid tussen godsdiens as ’n “natuurverskynsel” enersyds, en geloof as die resultaat van ’n “bonatuurlike” openbaring andersyds, word deur godsdienstige denkers onderskryf. Dink maar aan die Katolieke onderskeid tussen natuur en genade, of die Calvinistiese leer van die algemene en besondere openbaring.
Meer nog, baie Christelike denkers sal dit met Dawkins eens wees dat die mens se natuurlike godsdienstigheid geensins as ’n “good infection” beskou kan word nie. Veral in die Protestantse Christendom word natuurlike godsdienstigheid of spiritualiteit met groot agterdog bejeën – as ’n Godgerigtheid wat hom van die ware God afgewend en daardeur tot afgodediens ontaard het; ’n vorm van ongeloof.
Die gedagte dat die mens se hang na godsdiens, of die godsdiens se houvas op die mens, iets natuurliks is wat sielkundig, sosiologies, ekonomies, neurologies, geneties of evolusionêr aangetoon en verklaar kan word; dat dié verskynsel nie ’n bonatuurlike openbaring as verklaring vereis nie; en dat dit moontlik nadelig eerder as voordelig vir die mens kan wees – dié soort ontleding van godsdiens kan deur gelowiges beaam en as tasbare korrelaat van hul heiligste oortuigings vertolk word. Hier kan die of dus wel alternatiewe aandui, al is hulle nie heeltemal wedersyds uitsluitend nie: juis die gedagte van 'n "God-geen" gaan hiervolgens immers goed saam met die oortuiging dat God bestaan, en in dié sin is die idee dat daar "geen God" is nie, 'n alternatief.
Maar wat van daardie geloof wat deur gelowiges as ’n heilsame gawe van God beskou word, geloof gewek deur God se selfopenbaring, hetsy in die Tora, die Koran of die persoon en werk van Jesus van Nasaret? Is ’n natuurlike, wetenskaplike verklaring van dié soort geloof nie in stryd met ’n gelowige belewing daarvan nie? Moet ons nie kies tussen, enersyds, geloof as ’n gawe ervaar, en andersyds, geloof as ’n natuurlike verskynsel verklaar nie?
Dieselfde vraag kan gestel word met betrekking tot ander terreine waarop die wetenskap en godsdiens dikwels as konkurrente gesien word. Neem byvoorbeeld die verskynsel van lewe: Is dit deur God geskep of het dit deur natuurlike seleksie ontstaan? Is daardie kenmerke van die heelal wat dit laat lyk asof dit ontwerp is, werklik aan ’n Ontwerper te danke, of kan dit op ander maniere verklaar word? Sou die skeppingsgeloof in gedrang kom indien wetenskaplikes sou aantoon dat die heelal nie, soos tans gemeen word, ’n begin gehad het nie, maar nog altyd bestaan het, soos deur die meeste denkers geglo is voordat die teorie van die Oerknal wyd aanvaar is? Of sou die vraag hoekom daar iéts is, en nie níks nie, ook dan nog die gedagte aan ’n Skepper aanneemlik laat lyk? Is die reën wat op droë landbougrond val nadat daarvoor gebid is, die herstel van ’n sieke, die noue ontkoming van iemand in gevaar, ’n mooi sonsopkoms, ’n lekker glas wyn, liefde wat beantwoord word – is dit aan Goddelike handeling te danke of gebeur dit alles in ooreenstemming met natuurlike wetmatighede? Anders gestel: Is dankbaarheid gepas as iets goeds met my of iemand anders gebeur, of is blydskap voldoende? Gebeur daar wonderwerke of kan alles wat gebeur, in beginsel wetenskaplik verklaar word?
Al hierdie vrae is struktureel soortgelyk aan die vraag: Is mense godsdienstig, of gelowig, omdat daar ’n God is, of is godsdiens en geloof natuurverskynsels wat wetenskaplik verklaar kan word?
Ek is van mening dat al dié vrae, en spesifiek die woordjie of wat telkens daarin voorkom, onsinnig is omdat dit op misverstand berus. Daar is eenvoudig geen teenstelling tussen wetenskap en geloof wat gehanteer hoef te word nie. Daar is wel bepaalde opvattings óór die wetenskap wat ’n bedreiging vir geloof inhou, maar sulke opvattings bedreig ook die wetenskap. En daar is beskouings óór geloof wat nie met die wetenskap strook nie, maar ewe min met geloof. Breedweg kom hierdie verkeerde opvattings oor geloof en wetenskap op twee misverstande neer, naamlik dat godsdienstige en wetenskaplike verklarings mekaar weerspreek, en dat geloof en wetenskap dieselfde soort ding is.
Met die eerste misverstand kan maklik klaargespeel word: geen enkele feit of verskynsel het slegs een oorsaak of verklaring nie. Dat die water kook, kan verklaar word deur die feit dat dit warm geword het, maar ook deur die feit dat ek die ketel aangeskakel het, die feit dat ek, of iemand anders, dit nie afgeskakel het voordat die regte temperatuur bereik is nie, die feit dat ’n sekere lugdruk op ’n gegewe moment geheers het, die feit dat daar iets bestaan en nie niks nie, en so meer – ’n mens sou nooit die totale aantal oorsake van dié eenvoudige gegewe volledig kon opnoem nie.
Daarom sluit ’n Darwinistiese verklaring van godsdiens byvoorbeeld nie ’n neurologiese of sielkundige verklaring uit nie, en al dié verklarings saam sluit nie ’n godsdienstige verklaring uit nie. Dat geloof wetenskaplik verklaar kan word, beteken nie dat God dit nie skenk nie; en uit die oortuiging dat geloof ’n gawe van God is, volg dit nie dat wetenskaplike verklarings van geloof eers as ontoereikend weerlê hoef te word nie.
Dat meerdere verklarings van dieselfde verskynsel mekaar nie noodwendig weerspreek nie, beteken natuurlik nie dat enige willekeurige verklaring vir die wetenskap aanneemlik is nie. Dit bring my by die tweede misverstand: die aanname dat wetenskap en godsdiens dieselfde soort ding is.
Ontsettend baie wetenskaplikes en pleitbesorgers vir die wetenskap glo blykbaar dat geloofsoortuigings hipoteses of teorieë is wat as hul primêre doel het om sekere waarneembare verskynsels te verklaar en ons sodoende in staat te stel om dit te voorspel en te beheer, maar dat hierdie hipoteses of teorieë nie hul werk baie goed doen nie, en dat die wetenskap beter alternatiewe kan aanreik. Hulle beskou elke bevestiging van ’n teorie wat iets verklaar waaroor die godsdiens hom ook uitlaat, as ’n weerlegging van die God-hipotese.
Baie gelowiges stem saam dat hul oortuigings verklarende hipoteses of teorieë is, en is vas oortuig daarvan dat hierdie hipoteses of teorieë sommige dinge beter as die gangbare wetenskaplike teorieë kan verklaar, of ’n verklaring kan bied waar die wetenskap nog nie oor een beskik nie.
Nou ja, miskien is dit so – hoewel ek nie graag wil hê dit moet so wees nie – dat sommige gelowiges hul geloof beleef as ’n hipotese, ’n voorlopige gissing wat primêr op teoretiese kennis en instrumentele nut gemik is. Laat ek dit duidelik stel: Vir sover geloof dít is, kies ek die kant van die godsdiensvyandige wetenskaplike en wetenskap-groupie. Soos die filosoof Dewi Phillips, beskou ek dié soort geloof as bygeloof, in die letterlike sin van ’n oorbodige, ongegronde oortuiging.
As ’n wetenskaplike hipotese is geloof in God hopeloos, om die eenvoudig rede dat dit nie toetsbaar is nie. En toetsbaarheid, het die filosoof Karl Popper ons geleer, is die lakmoestoets van ’n bruikbare wetenskaplike hipotese. Immers, geen hipotese kan ooit onteenseglik bewys word nie, maar ons kan wel hipoteses weerlê en langs dié weg nader aan die waarheid beweeg.
In die feesprogram se toeligting van ons gesprekstema word daar, benewens die kwessie van geloof en wetenskap, ook gevra: “Is daar redes om te glo?” Uit wat ek tot dusver gesê het, sal dit duidelik wees dat ek nie die vermeende sukses van godsdienstige oortuigings as verklarende hipoteses as ’n goeie rede beskou om te glo nie. Met ander woorde, ek dink nie ons moet byvoorbeeld in God glo omdat die bestaan van God allerlei dinge verklaar wat nie deur die wetenskap verklaar kan word nie. Teen dié soort verstaan van geloof verset ek my – nie net omdat dit wetenskaplik hopeloos is nie, maar ook omdat dit die aard van geloof self verwring, soos ek straks wil betoog.
Maar nou wil ek ook onmiddellik benadruk dat die vraag of daar redes is om te glo, hiermee nog nie beantwoord is nie. Hiermee distansieer ek my van ’n opvatting oor die wetenskap wat nie net die geloof nie, maar ook die wetenskap self ondermyn: die opvatting dat die wetenskap die enigste spel is wat die moeite werd is om te speel; dat die maatstawwe van goeie wetenskap as maatstawwe op elke lewensterrein moet geld; en dat enigiets wat nie wetenskap is nie, om daardie rede waardeloos en verwerplik is.
Popper, na wie ek ’n oomblik gelede verwys het, beklemtoon enersyds dat wetenskaplike hipoteses toetsbaar moet wees; andersyds sê hy in soveel woorde dat hy geen beswaar het teen geloof in God as ’n onbewysbare aanname nie. Die rede hiervoor is dat Popper, anders as baie van sy aanhangers wat hom graag as godsdienskritikus wil opkommandeer, insien dat geloof in God nie wetenskap is nie, en dit ook nie hoef te wees nie. Ook sy eie aanname dat die voortdurende toetsing van hipoteses, die nimmereindigende poging om hulle te weerlê, ons nader aan die waarheid sal bring, besef Popper, is self ’n ontoetsbare, onbewysbare en onweerlegbare uitgangspunt. Met ander woorde: Hoewel die wetenskap bestaan uit die opstel en weerlegging van hipoteses, berus dié praktyk self op aannames wat nie aan dieselfde prosedure onderwerp kan word nie.
Sekere aannames is nou maar eenmaal metafisies; dit wil sê hulle kan nie, selfs in beginsel, empiries bevestig of weerlê word nie. Die oortuiging dat daar buite jou bewussyn ook ander dinge bestaan; dat die boom in jou agtertuin nog steeds daar is wanneer jy dit nie waarneem nie; dat ander mense ook persone is, soos jy, handelende wesens met gevoelens, gewaarwordings, wense en gedagtes; dat jy ’n vrye wil het in die sin dat jy in ’n gegewe situasie ook anders sou kon optree as hoe jy in feite opgetree het; dat die wetenskap ’n goeie manier is om dinge mee te verklaar, voorspel en beheer – opvattings soos dié kan deur geen hoeveelheid empiriese gegewens bevestig of weerlê word nie.
Om sonder onbewysbare aannames te leef is onmoontlik, selfs onvoorstelbaar; daarom is dit ook irrasioneel, onnosel, om te probeer. Om te eis dat mense slegs dinge mag glo wat hulle kan bewys, is om die tak af te saag waarop jy sit, want hoe bewys jy dat dié stelling waar is? En waar kom ons in elk geval aan die lawwe idee dat mense kan besluit wat om te glo? Kan u op ’n gegewe moment sommer net besluit om te glo dat die wêreld plat is en Oudtshoorn in die Vrystaat? Ek kan nie.
Met betrekking tot sekere dinge is dit in werklikheid irrasioneel om onsekerheid te wil uitskakel. Stel jou voor ’n man onderwerp sy vrou aan ’n leuenverklikkertoets om seker te maak of sy hom regtig liefhet. Is sy optrede ’n toonbeeld van redelikheid?
Aangesien dit absurd is om te eis dat mense slegs dinge mag glo wat hulle kan bewys, geld die feit dat iets soos die bestaan van God nie bewys kan word nie, nie as ’n geldige argument teen geloof in God nie – so eenvoudig is dit.
In ’n onlangse artikel getitel “Darwinism – Foe or Friend” maak die filosoof Michael Ruse die volgende interessante uitspraak:
Let me say … that I share completely Dawkins’s convictions about the truth of Darwinism, that I probably have no more religious convictions than he, and that I think he is an absolutely terrific writer. The point as I see it is to dig beneath his brilliant polemics and to see if in fact his (and my) Darwinism implies his (and my) non-belief. I shall argue that far from doing so, if I were a Christian Dawkins would be my favorite bedtime reading – except it would probably make me too excited to sleep.
Hoewel Ruse in hierdie uitspraak, en in die res van die artikel waarin hy dit motiveer, myns insiens te ver oorleun na die teenoorgestelde kant as Dawkins, meen ek dat hy oor een ding reg is, naamlik dat die soort argumente wat in Dawkins se The God Delusion teen geloof aangedra word, regtig nie gelowiges uit hul slaap hoef te hou nie. Ek kan werklik nie insien dat die wetenskap al ooit enigiets uitgevind het wat ook maar in die geringste mate as getuienis teen geloof kan geld nie.
Dat wetenskaplike verklarings van geloof, van lewe, van vermeende dade van God en so meer geensins die saak teen geloof sterk nie, en dat geloof nie minder rasioneel is omdat dit nie op bewyse, byvoorbeeld van die bestaan van God, berus nie, beteken nie dat geloof immuun is teen kritiek nie. Dit beteken net dat die soort kritiek wat die meeste twyfelende gelowiges se broek laat bewe, en waarmee die meeste godsdienskritici hoog in hul noppies is, eintlik weinig voorstel. Of laat ek dit meer persoonlik sê: Ek ervaar nie hierdie aanslae teen die geloof as bedreigend nie.
Tog meen ek dat ’n sinvolle gesprek of debat oor die redelikheid al dan nie van spesifieke godsdienstige opvattings en praktyke moontlik is, en dat dit van daaruit ook moontlik is om sulke opvattings en praktyke aan geldige kritiek te onderwerp. Om dit te verduidelik wil ek gou eers iets sê oor geloof.
Die feesprogram praat van “redes om te glo”. Dit sou kon beteken: redes om bepaalde dinge as die waarheid te beskou, om sekere feitelike stellings te glo, te onderskryf. Ek dink dat geloof inderdaad dit ook behels. Maar geloof is meer as dit. Ek wil graag die volgende definisie van geloof voorstel: Geloof is om te leef asof.
Wanneer ’n gelowige die 12 Artikels opsê en begin met die woorde “Ek glo …”, dan kan ons dit verstaan as “Ek leef asof …”; of dalk “Ek probéér leef asof …”; of nóg beter: “Ek voel my daartoe genoop om te probeer leef asof …”
Asof wat? Asof al die dinge wat hierná in die Geloofsbelydenis volg, inderdaad die geval is: asof God is; en asof God vaderlik is, en almagtig, en die skepper; asof Jesus die Christus is, die Seun van God, ons Here, en so meer.
Om te glo beteken nie net om al hierdie stellings te onderskryf nie, maar om – miskien ten spyte van jouself, en ten spyte van jou onsekerheid oor of al dié dinge waar is – jou nogtans aangespoor en geroepe te weet om te probeer leef asóf dit waar is. Dit is daardie leef, of daardie probeer leef, of daardie voel dat jy moet probeer leef, wat met reg geloof genoem kan word – geloof as ’n lewenswyse, of ’n gedrongenheid tot ’n lewenswyse.
In dié sin is geloof maar moeilik vergelykbaar met ’n wetenskaplike hipotese; dit kan eerder vergelyk word met toewyding aan die praktyk van wetenskapsbeoefening – soos Popper onder andere duidelik ingesien het. Dit kan vergelyk word met die beoefening van ’n beroep of ’n stokperdjie, die nastreef van ’n ideaal, toewyding aan ’n saak, lidmaatskap van ’n gemeenskap, met alle gepaardgaande verpligtinge en verantwoordelikhede, die aanknoop van ’n verhouding – dit wil sê met langtermyn-praktyke wat 'n mens in al sy fasette betrek.
Wanneer ons oor geloof en die rede praat, vergeet ons dikwels dat die rede, die ratio, rasionaliteit, nie slegs te doen het met wat ons dink en beweer nie, maar ook met wat ons doen of nalaat, met ons besluite. Nie net opvattings nie, maar ook keuses, gedrag, gesindhede, selfs emosies, kan redelik of onredelik wees.
Die vraag of geloof redelik is, kom dan neer op die vraag of dit redelik is om só te probeer leef – om te leef asof. Een van die oorwegings wat in die beantwoording hiervan ’n rol speel, is die vraag of die feitelike inhoud van daardie asof wel houdbaar, geloofwaardig is. As daardie inhoud vol teenstrydighede is, as dit geen samehang vertoon nie, of as dit bots met ander dinge wat ek weet, dan gaan ek dit ervaar as te dik vir ’n daalder. Dan gaan dit waarskynlik baie moeilik, of selfs onmoontlik, wees om te leef asof, en gevolglik dalk onredelik om te probeer.
Aan die ander kant hoef ek ook nie 100 persent seker te voel oor die waarheid van daardie inhoud om ’n redelike keuse te kan uitoefen om te leef asóf dit waar is nie. Dink weer aan daardie mal man met die leuenverklikker: in ’n verhouding moet ons leer om te leef asof ons op die ander persoon kan peil trek, ook al voel ons dalk op party dae minder seker daarvan as op ander dae. Ook geloof is, soos die kategismus sê, ’n kwessie van vertroue. Twyfel, onsekerheid, is nie die teenoorgestelde van geloof nie, maar ’n funksie daarvan, soos Donald Bridge in sy boek When Christians Doubt sê.
Dieselfde geld ongeloof. CS Lewis vertel byvoorbeeld hoe hy as jong ateïs baie versigtig moes wees oor wat hy lees, want as hy ’n briljante skrywer ontdek het wat gelowig is, was dit ’n vreeslike aanvegting vir sy ongeloof! Om van aanvegting, van onsekerheid, te wil ontsnap is om onrealisties en dus irrasioneel te handel. Dit is juis hierdie onredelike, maar o so onweerstaanbare, versoeking om van onsekerheid te wil vlug wat sommige mense wat hul geloof kwytgeraak het, na die valse sekerheid van die wetenskap laat gryp – so asof die wetenskap nie ook maar feilbaar is en op ondeursigtige fondamente berus nie. Om dieselfde rede gryp die fundamentalis na die onfeilbaarheid van die Skrif of die pous of bepaalde dogmas – en dis ewe min ’n uiting van geloof.
Want geloof is vertroue; dit is, soos Pascal dit so treffend in sy beeld van die weddenskap geïllustreer het, ’n waagstuk. Maar nogmaals: ’n risiko, ’n weddenskap, ’n belegging, kan redelik of onredelik, verstandig of dom wees. ’n Mens kan goeie redes hê om iets te waag … of nie te waag nie. Daarom is ook die waagstuk van geloof potensieel vatbaar vir kritiek.
Daardie kritiek hoef nie net op die geloofwaardigheid van die geloofsinhoud gerig te wees nie, maar kan ook pragmatiese, morele en persoonlike oorwegings in ag neem.
“Is geloof en rede onversoenbaar?” word in die feesprogram se toeligting gevra. Hierdie vraag kan onder meer dinge beteken soos: Werk dit vir my om te glo, om te probeer leef asof? Is dit ’n manier van leef wat bydra tot my en ander se welsyn en geluk? Is die identiteit, die selfverstaan, wat daarmee saamhang, ’n realistiese een, of is dit (om ’n voorbeeld van Jeffrey Stout te gebruik) soos die identiteit van ’n Middeleeuse samoerai, ’n identiteit, dus, wat in ons tyd en omstandighede nie meer ’n “live option” is nie? Help dié manier van leef my om die kwaad, veral die lyding van mens en dier, onder oë te sien, maar om andersyds ook die lewe as goed en sinvol te ervaar? Bied dit aan my ’n waardestelsel en etiese norme wat ek met integriteit my eie kan maak?
Elkeen van hierdie vrae beteken op sy eie manier dieselfde as “Is geloof en rede versoenbaar?”
En dit kan meer konkreet gemaak word – lástig konkreet. Byvoorbeeld: Is dit redelik om te leef asof die jaloersheid van God waarvan die Bybel praat, as ’n soort mega-kleinlikheid en -egoïsme verstaan moet word, soos uitgebeeld in daardie raak skildery van die twee kindertjies wat knielend by hul bed bid: “Dear God, let our religion win”?
Is dit redelik om, soos minstens een gemeente waarvan ek weet, elke jaar met Ramadan ’n maand lange gebedsketting teen die Islam te organiseer?
Is dit redelik om in die naam van God mense se regte en waardigheid te vertrap?
Is dit redelik om te leef asof God ’n patriarg is wat van vroue eis dat hulle aan hul mans onderdanig moet wees, en wat sekere funksies en statusse slegs vir mans reserveer?
Is dit redelik om aan God te dink as iemand wat vir jou welvaart en materiële sukses belowe as jy die regte dinge glo en doen?
Is dit redelik om te leef asof God met die liggaam en seksualiteit ongemaklik is en veral tevrede as sy kinders nié die lewe geniet nie en heeltyd skuldig voel?
Is dit redelik om te leef asof God ’n spesiale soort Europeër is, of ’n man, of heteroseksueel?
Is dit redelik om te leef asof die gesondheid van mense en hul omgewing, en sosiale geregtigheid, nie juis vir God belangrik is nie?
Is dit redelik om te leef asof God mense verwerp en straf omdat hulle homoseksueel is? En is dit redelik om voor te gee dat jy hierin geen keuse het nie omdat dit nou maar eenmaal is wat die Bybel sê? Of moet ons liewer die voorbeeld volg van Desmond Tutu wat jare gelede gesê het: "As iemand vir my kan bewys dat die Bybel apartheid goedpraat, sal ek onmiddellik my Bybel verbrand en ophou om ’n Christen te wees"?
Is dit in elk geval redelik om te leef asof die Bybel ’n soort ingewikkelde dekreet uit die hemel is wat eenvoudig slaafs nagevolg moet word; asof jy alles wat daarin staan, sommer al by voorbaat heelhuids moet sluk, selfs voordat jy weet wat dit is? Of is Karl Barth reg wanneer hy sê dat die belydenis van die gesag van die Bybel as sodanig, niks anders is nie as ’n ongevraagde geprewel van “Heer! Heer!”
Is dit redelik om te leef asof die duiwel agter elke hoek en draai skuil – agter Harry Potter, Pokémon, karate, joga en vredestekens? Is dit hoegenaamd redelik om die idee van so ’n deur en deur bose gedaante as uitgangspunt van jou daaglikse handel en wandel te neem? Om kinders (en grootmense) met die duiwel en die hel bang te praat?
Nóg lastiger, spesifiek vir diegene wat, soos ek, bogenoemde vrae maklik vind om te beantwoord:
Is dit redelik, regverdigbaar, verantwoordelik, om jou hoegenaamd, op watter manier ook al, met ’n godsdienstradisie te identifiseer wat daagliks op groot skaal afgryslikhede soos die bogenoemde oplewer of selfs net verdra?
Hierdie soort vrae is glad nie eenvoudig om te beantwoord nie. En dis belangrike vrae wat gerus indringend bespreek en gedebatteer kan word. En dis wel deeglik vrae oor die rasionaliteit al dan nie van geloof – ook al het dit niks te doen met die vraag of godsdiens die werk van die wetenskap kan doen, of die vraag of die genoemde godsdienstige oortuigings bewysbaar is nie.
As Christen wonder en twyfel ek dikwels oor die redelikheid, die houdbaarheid, die sinvolheid van my geloof, maar dié twyfel het met die glorieryke opmars van die wetenskap en die onredelike eis van bewysvoering net mooi niks te doen nie. In dié sin beskou ek die of as staande tussen twee diskoerse wat nie met mekaar verwar moet word nie: die wetenskap, waarin teorieë oor 'n "God-geen" ter sprake kan kom, en die lewensbeskoulike domein, waarin sinvol gevra kan word of daar dalk "geen God" is nie.
Die beslissing oor die rasionaliteit van geloof lê op laasgenoemde vlak, en handel ten diepste oor die vraag of dit verstandig is om te probeer leef asof die figuur Jesus van Nasaret die sleutel is waardeur die sin van die werklikheid ontsluit kan word. Uit dié hoek gesien was daardie ou kerkdebat oor die kleinste letter in die Griekse alfabet dalk nie heeltemal so onsinnig nie.
Dr Gerrit Brand Boekeredakteur: Die Burger
KKNK Oop Gesprek: Geen God of God-geen? Sondag 1 April 2007
<< Terug na KKNK Oop Gesprek 2007 <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|