Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
kobus! en kettings in die kelder van my psige
Deborah Steinmair
2007-04-24 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

My agterkleinniggie (ons oeroupagrootjies was ou Piet Retief en sy broer onderskeidelik) Sonia Cabano het op SêNet die volgende oor swaarmetaalmusiek geskryf:

Swaarmetaal is 'n ripoff – die hele musiekgenre. Dis dalk lekker om daarna te luister wanneer mens bang/kwaad/bedonnerd voel, maar dit is ten slotte 'n uiters beperkte genre.

Swaarmetaal teer op menslike alienation en vrees, urban angst, godsdiens en geloof, en die hele kaboedel wat daarmee gepaard gaan. Met dieselfde ou riffs oor en oor. Dis macho bullshit, en dis my opinie.

Ten slotte vind ek swaarmetaal 'n soort van post-über-tiener-angsaanval wat werklik nie veel bydra tot musiek in die geheel nie.

Ek dink my niggie druk haar fyn uit; jammer sy beland altyd in almal se hare soos kougom. Ek stam af van die meer diplomatiese broer wat deur die Zoeloes vermoor is.

Ek ken nie swaarmetaalmusiek nie; ek het as tiener hartstogtelik tot bekering gekom en my plate verbrand. My ghoeroe was die onverbiddelike, woedende witvalk Rodney Seale. Ja, ek het selfs sy boek Rockmusiek, die reg om te weet, vir hom in stywe Afrikaans vertaal toe ek bloedjonk was, maar daaroor swyg ek gewoonlik op my CV’s. Ek onthou een van my vertalings in hierdie manuskrip nog helder: “Hierdie musikant simuleer op die verhoog seks met ‘n teddiebeertjie.”

Noudat ek ouer is, glo ek nie meer dat daar mense is wat regtig die moeite gedoen het om verskuilde Sataniese boodskappe in backtracks in te bed nie. Ek glo nie meer dat alles so swart en wit is nie. Ek het selfs een keer saam met ‘n Goth gewerk en hy was so saggeaard en dierbaar, altyd überhulpvaardig. Donna Darkwolf het eenkeer vir my gefrons toe ek “Encore” gil by ‘n Danielle Pascal-konsert. Dié uncool ou woordjie in my swak Franse aksent het op die plek op my tong gestol en my mondhoek het begin ruk. Wat het sy daar gesoek, wonder ek?

Ek koester lankal ‘n bewondering vir kobus! omdat hul lirieke my laat dink en omdat ek maar altyd smag na ‘n gekantelde oog en ‘n skerp tong in die kies. Ek het hulle nog nooit live gesien voor Vrydagaand nie.

Dit was in die Mercury en ek het niksgewoond-vroeg opgedaag, sodat ek vir ure in die Mercury Lounge na die metaalkoppe, joernaliste, kunstenaars en ander kobus!-fans kon staan en staar.

Die Mercury is donker en rokerig. Benoud. Op die vloer kom skuur ‘n vreemde vrou van Melkbos teen my en fluister in my oor dat sy eenkeer vir my gedigte gestuur het, oor haar lyf. Nouja, die mense van Melkbos is maar raar. Op ‘n groot skerm wys ‘n video van soetgesig-kaketielkuif Jak de Priester onder begeleiding van swaarmetaalmusiek. Die spanning loop hoog en seuns met lang swart hare tot op hul boude begin hul koppe rondgooi soos klimtolle.

kobus! verskyn op die verhoog, in duisternis gehul. Daar is geen teken van die sekspop Hannelie nie. Hul hare is ook lank en Francois het sulke stukke swart tjoep om sy arms. Die metaalkoppe ontplof en ek moet koes vir haartslierte en brandende sigarette. Ek is lief vir teater en ek ken ‘n vibe as ek een voel.

Ek kan ongelukkig nie die woorde hoor nie, behalwe "BRING DIE DOODSTRAF TERUG" en "FOK JOU!" Die tong is nou dieper in die kies, lyk dit my. Hul energie en fokus is verstommend. Hulle skep ‘n wêreld op die verhoog, ‘n toneel uit ‘n stokou nagmerrie waardeur ek gery word. Dis ‘n sekere toneel in die kelder van my psige: ek sien ‘n kragsentrale op ‘n donkermaannag, reën val soos ‘n gordyn, daar is weerlig en dis baie koud, daar is sementblaaie vol bloed, diere is daar geslag, aasvoëls sit op die drade, êrens sleep ‘n ketting. Ek is versaak en ril tot in my rugmurg. Dis nie ‘n lekker ruimte nie.

Volgens Sonia Cabano is dit die luim van swaarmetaal; wel, dan slaag hulle uitstekend daarin om dit op te roep. Daar is iets wat Francois met sy hand doen: dit word so ‘n klou wat herhaaldelik deur die weerlig geklits word, wat my koue rillings gee. Al die demone en spoke van die Sondagskool, kinderkrans en KJV kotteljons oor die verhoog. Die lokaal en die mense rondom my laat my dink aan daardie uiters vernietigende, venynige klein traktaatjies uit my Christentienerdae, die Chick-booklets met gedetailleerde sketse van nagklubs waar ligsinnige sondaars leepoog dop en rook, waar slymerige demone met skurwe hakskene en vurktonge verruk grynslag.

Die musiek is te hard. Daar is te veel spoke. Ek word bang. Ek kry kouekoors. Ek moet vars lug toe vlug.

Kyk hier, enige genre is “beperk” en teer op sekere fantasieë / angste / verhewe ideale / warm fuzzies. Ek het nie die maag vir swaarmetaal nie, ek is nie so ingelig soos my niggie nie, en ken nie Rammstein nie. Maar vir wat my opinie werd is: ek kan sien dat kobus! fenomenaal is.



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


DINSDAG; 09/02/10, TWEEDE UITGAWE
Afrikaans: Vir Lizz Meiring
Wouter: Die Nasionale tragedie: Die Mislees van die Geski

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Izelle Venter
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur