| KOBUS! se Siviele Ongehoorsaamheid |
Katvrou
Dis bykans drie jaar sedert hierdie metaalmanne in Afrikaans se laaste album (100% Skuldgevoelvry) die eerste keer deur luidsprekers gebulder het. Hierdie nuwe stuk werk deur Francois Breytenbach Blom en Theo Crous is verbryselend.
Dis harder as Metusalem se groottoonnaels. Elke snit sny deur jou skedel met witwarm kitaarsnare en blitsige dubbelbasdromstukke – dis swaar, bebliksemd en vreesloos. In die lewe het Afrikaans nog nooit so in sy dik metaaljas geklink nie. En jy gaan dalk ‘n rukkie neem voor jy presies sien en hoor wat KOBUS! doen – tussen die kitaarplukke en Francois Breytenbach Blom se grillige mangelbrulle.
Dis egter nie iets wat jou die verderf in gaan lei nie. Dis ‘n waarskuwing. Soos Rammstein se “Mein Teil” op hulle wilde Volkerball DVD. Met sy bloedbesmeerde gevreet en slagtersmesmikrofoon skreeu Till Lindemann hard en duidelik: “Mense, moenie so zef wees om aan ander mense te gaan staan en vreet nie. SIES MAN!”
Daar is tien snitte. “Witman” is reeds onder die ou aanhangers ‘n gunsteling. Dit ruk jou aan die lieshare rond.
Witman
Witman loop deur die nuwe era strate
Honger in die sakke en vloeke in die mond
Witman kyk na die vrygestelde slawe
Vergete monumente, Bloedrivier, Godsverbond
Witman loop met ‘n swart agorafobia
Soli deo Gloria, strate van Pretoria
Witman se toekoms lyk al meer lagwekkender
Laat in die nag lê hy wakker wakker wakker wakker
Witman! Witman!
Witman loop deur die Trellidor utopia
Volkskonsentrasiekamp, onbewus euforia
Witman loop ongemaklik in sy vel
Elke tree wat hy gee ‘n bietjie nader aan die hel
Witman nihilisties, witman fatalisties
Kripties pessimisties oor die mensdom dom dom
Witman se toekoms lyk al meer skrikwekkender
sy hart tik tik soos ‘n tydbom bom bom
Witman! Witman!
Witman voed op die oorskiet van verlede dae
Oplossings van gister vir probleme van die hede dae
Witman werkloos, witman ambisieloos
Witman staar die mure plat met grafte in sy oë
Witman gaan siel verloor, witman gaan familiemoor
Witman heelnag wakker soos ‘n lewendige lyk
Witman se rewolwer lê gereed onder sy kussing
More oggend vroeg skiet hy sonder om te kyk KYK
Witman!
© KOBUS! – SwaarMetaal (2007)
“TienerAngs” en “Lied van die nuwe jong Suid-Afrika” verpulp elke been in jou lyf. Jy kan egter nie ophou luister nie. WORD WAKKER. WORD WAKKER – dis die woorde wat bly kriewel. Dan is daar nog “Doodstraf” en “Kinderhel”. GENUGTIG. Dit voel of jou senuwees onder jou vel met ‘n warm vurk uitgekerf word.
Dan’s daar “Huigelaar” – ‘n duidelike vingerwysing na mense wat gospelmusiek doen net om stinkryk te word.
Huigelaar
Halleluja Hosanna!
Kom kyk na my konsert
My skynheilige skouspel
Die skamele honderd rande werd
Ek preek die nuwe testament met ‘n rock en roll gebed
Net 999neëntig op ‘n CD of kasset
Koop! Koop! Koop! My woorde soet soos stroop
Die show wat ek hou sal verlossing bring vir jou
Kom! Kom! Kom! Gehoorsaam my gebod
Ek is ‘n selfvoldane sot soos ‘n Christen vermom
Hosanna Halleluja!
My DVD is klaar
Ek loof die naam van Jesus
Met ‘n juigende kitaar
Die kamera streel sagkens oor my plastiese gelaat
Agter sneeuwit Armani skuil die hart van ‘n huigelaar
Koop! Koop! Koop! My DVD hoop
Ek wil ‘n groot nuwe huis bou, betaal deur jou
Gee! Gee! Gee! Ek soek ‘n nuwe BMW
Om al die geld wat ek kry na die bank toe te karwei
“Maar wag, dis nie al nie, luister nou na dié aanbod.
Koop my plaat voor eind-Oktoberrrr, kry ‘n kleurplakkaat van God!!”
Halleluja Hosanna!
Die duiwel is verslaan
Almal wat my CD koop kan hemel toe gaan
Ek preek die blye boodskap met ‘n rock en roll gebed
Net 999neëntig op ‘n CD of kasset
Kom kom kom! Huigelaar!
Hosanna Halleluja
Koop koop koop! Huigelaar!
Hosanna Halleluja
Kom kom kom! Huigelaar!
Halleluja Hosanna.
Kom kom kom gehoorsaam my gebod
Ek is ‘n selfvoldane sot soos ‘n Christen vermom!
© KOBUS! – SwaarMetaal (2007)
Voel hoe die spinnerakke in jou oordromme verdamp, terwyl jy met 'n droë strot saamskreeu tot jy op jou knieë voor die luidsprekers rondkruip, snaakse kermgeluidjies maak en op jou rug omdop omdat jy doodeenvoudig net nie meer kan nie.
Vrydagaand begin hulle Siviele Ongehoorsaamheid toer. Kry dus jou agterent voor 21:00 by Hidden Cellar in Stellenbosch sodat hulle elke klontjie amalgaam uit jou agtertande kan ruk.
METAAL!
Katvrou
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|