Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
In die land van die Liefde: 'n Verslag van die Woordfees se Skrywersgala!
Melt Myburgh
2007-03-15 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link


Aanvanklik was ek huiwerig om vanjaar se Skrywersgala tydens die Stellenbosse Woordfees by te woon. Ek was nie lus om, soos in die verlede, te luister hoe skrywersname in vibrato-grafstemme oor luidsprekers uitgeroep word voordat ons voorste pennestoters halfblind die treetjies na die HB Thom-teater se verhoog bestyg nie. Soos skape ter slagting.
 
Ek het veral nie kans gesien vir die gebruiklike amateuragtige projeksie-oefeninge van dramastudente wat telkens sukkel om hul woorde te onthou tussen die skrywers se optrede nie. Om die waarheid te sê: by die skrywersgalas van die afgelope paar jaar was ek elke oomblik bevrees dat oorle’ tant Anna Neethling-Pohl haar verskyning uit die doderyk op die HB Thom-verhoog sou maak. My sensitiewe gestel sou dit nie kon uitstaan nie.
 
Dorothea van Zyl, Petrovna Metelerkamp en Wium van Zyl.
Foto: Naomi Bruwer
Maar toe die formidabele Petrovna Metelerkamp van Hemel-en-See Uitgewers my vanjaar uitnooi om in Stellenbosch by haar oor te bly, en my op die koop toe 'n kaartjie na die Skrywersgala in die hand stop, was daar min uitkomkans.
 
Agterna kan ek net sê: DANKIE, PETROVNA!
 
Want hierdie keer het die Skrywersgala my stoutste verwagtinge oortref. Onder die regie van Juanita Swanepoel, bygestaan deur Suzaan Keyter, is daar weggedoen met die eisteddfod-element wat die tussenin vermaak vir soveel jare lank reeds gekenmerk het.
 
'n Paar swaargewigte – by wyse van spreke – is ingespan om rigting te gee aan die gebeurlikhede. Nie net was die hoogs talentvolle Laurinda Hofmeyr-troupe daar om, soos gebruiklik, met musiek atmosfeer te skep en van poësie superpoësie te maak nie; bekende persoonlikhede soos Chris van Niekerk, Grethe Fox en Riku Lätti het 'n hupstoot aan die verrigtinge gegee.
 
Vir beter kon mens kwalik vra. Chris van Niekerk het sy 7de Laan-kaskenades by die huis gelos. Met haar optrede het die pragtige Grethe Fox die mensdom hoop gegee deur te wys daar ís lewe ná Kitchenboy. En Riku Lätti het beïndruk met sy meesleurende sangstem. Al wat hy nog kort, is iemand wat vir hom ietwat meer nousluitende outfits aanmekaar kan naai. Dis voor die Here 'n sonde om jou talente só opvallend weg te steek. A nee a!
 
Natuurlik het ek en Petrovna op die nippertjie by die venue aangekom. Rooiwyn het geen genade vir die mens se vermoë om met tyd tred te hou nie. Maar soos 'n wafferse jafel het ek my pad deur 'n 200 meter lange ry opgewonde tantes oop gesjarmeer tot reg voor die teaterdeure terwyl Petrovna parkering soek vir haar goue 4x4. Iewers naby Cloetesville het sy ten einde laaste geholpe geraak, moes ek agterna verneem.
 
Minute voor die teaterdeure oopswaai, raak ek aan die gesels met 'n lieflike dame, Madeleine Heyns, wat jare gelede saam met Wilma Stockenström drama geswot het. Einste hier in Matieland.
 
“Hoe het Wilma as jong meisie gelyk?” snuffel ek.
“Nee wat, maar baie dieselfde as vandag,” antwoord sy ietwat inkennig.
 
“En haar hare? Was dit ook so terug gebind?” probeer ek verder.
 
“Ja.”
 
“Sy was seker 'n briljante student?”
 
“O ja,” sê Madeleine.
 
“Het jy nooit self voortgegaan met 'n teaterloopbaan nie?” vra ek.
 
“Nee,” antwoord sy.
 
“Het julle ooit 'n Lorca play opgevoer?” wil ek weet.
 
“Ja,” seg sy.
 
“Watter een?” hou ek aan.
 
“Nee, wat sal jy my so baie vrae vra!” trap sy my uit.
 
In ieder geval, ek en Petrovna is eerste by die teater in. So ampertjies plak ons onsself neer op die gestoeltes wat gereserveer was vir Gerrit Komrij en sy lover van die afgelope duisend-en-enkel jaar.
 
Onder die skrywers van 2007 se gala-aand is Wilma Stockenström eerste aan die beurt. Sy lees van haar mooiste gedigte voor wat pas in 'n versamelbundel verskyn het. En kan dié vrou nie voorlees nie! Mense soos Stockenström is lewende monumente vir Afrikaans. En ek weet dit is polities verkeerd om van 'n mens as 'n monument te praat. Maar vergewe my tog dié keer. Om gedigte soos “Die eland”, “Wat ek met berge gemeen het ...” en ander uit die mond van die digteres sélf te hoor, bly elke keer 'n verruklike ervaring.
 
Gerrit Komrij, Wilma Stockenström en Loit Sôls.
Foto: Naomi Bruwer 
Ná Stockenström kom Gerrit Komrij (in die galaprogram aangedui as “Comrij”!) aan die beurt. Dié legendariese hofdigter uit die Lae Lande verbyster die gehoor met sy poësie, wat in 'n byna breekbare bry uit die klein mondjie tussen die abrikoos-wangetjies resoneer. Wat 'n uitsonderlike ervaring om hierdie veelbekroonde vriend van Afrikaans in lewende lywe te ervaar!
 
Net voor pouse voer Loit Sôls galagangers mee met gorrelklanke diep agter uit sy keelgat terwyl hy sy kitaar soos 'n agterstevoor viool oor sy skouer hou en die snare tik. 'n Primordiale ervaring, om die minste te sê. Sôls se optrede strek verby woorde. Tussen die klanke slaan daar af en toe iets herkenbaar deur. Soos: “Hare Krishna, Hare Rama ...” Wél nie “Krishna Krishna” nie, sover ek onthou. Dit is duidelik dat hierdie digter, wat deesdae soveel opgang maak, sy kuns ten diepste lééf. Woorde is bysaak!
 
Tydens die pouse loop ek Andries Visagie op die lyf by die tafel waar wyn in lang glase geskink word. Ek spreek met dié skerpsinnige KwaZulu-Natal-kritikus af om later die aand iewers 'n dop te gaan steek en op te vang met skindernuus sedert ons mekaar jare gelede as studente leer ken het.
 
Toe die program hervat word, wys Hennie Aucamp weer eens waarom hy 'n wêreldklas-meester van die kortkuns is. Met 'n nuwe Stormberg-verhaal verken hy die landskap van die liefde op humoristiese wyse. Gehoorlede gil behoorlik van plesier na elke kwinkslag – en dit beteken letterlik: na elke enkele sin wat hy lees! Hennie is hip geklee in 'n losgeknoopte streep-hemp bo-oor 'n swart T-hemp waarop Hendrik Biebouw se besope wysheid in wit afgedruk staan: “Ik ben een Afrikaander”.
 
Aucamp word gevolg deur die besoekende Vlaming, Luuk Gruwez. Sy gedigte is eweneens ontroerend, maar sy aanbieding ongelukkig net-net te lank.
 
Pat Stamatelos, skrywer van die topverkoper Kroes, kom laaste aan die beurt. Hoewel haar boek baie gewild is, gryp dit my nie aan nie. Haar voorlesing uit dié roman bevestig my vermoede dat hier nie werklik sprake van woordkuns is nie. Ek is bevrees ek het al treffender opstelle deur skoolkinders onder oë gehad. Maar nou ja, soos wat Chris Barnard se hoofkarakter in Mahala opgemerk het: “Die waarheid is die stem van die meerderheid, en ek is in die minderheid.” En daarmee kan ek saamleef.
 
In vergelyking met die vorige jare het vanjaar se Skrywersgala, in terme van styl en aanbieding, 'n nuwe standaard gestel. En daaroor is ek verheug.
 
As iemand nog nie vir Dorothea van Zyl, direkteur van die Woordfees, 'n erepenning of oorkonde gegee het vir haar visioenêre bydrae tot Afrikaans nie, is dit tyd om wakker te skrik.
 
Na afloop van die Skrywersgala sluit nie net Anneries by my en Petrovna aan nie, maar ook Hennie Aucamp en Wesley Kotzé. Ek en Hennie het 'n hongerte oor ons, en ons begin soek na 'n restaurant wat daardie tyd van die nag nog kos bedien.
 
Nêrens raak ons geholpe nie. Uiteindelik beland ons op die Dros se stoep. Die oulike bestuurdertjie bied ons sy staff pizza aan – opgewarm in die mikrogolf.
 
Rondom ons wemel die strate van die pragtigste studente in verskillende stadia van besopenheid. Op die stoep van die restaurant langs die Dros dans die jong Maties op die tafel. 'n Jongeling raak van sy klere ontslae. O, die prille jeug! Hoe geseënd is ons nie!
 
'n Beeldskone dronk meisie kom lê oor die houtreling by Hennie aan en bedel vir 'n stukkie pizza. Hennie is ook nie links nie en, soos 'n ware heer, sny hy vir haar 'n rojale driehoek los en plaas dit in haar palm met 'n galante gebaar.
 
Ek kyk weer na die slagspreuk op sy T-hemp en besef dat die dopstelsel nie beperk is tot die landgoedere rondom Stellenbosch nie. Dis onherroeplik deel van Matie-kultuur.
 
Ek weet nie wat julle gaan doen nie, maar volgende jaar loop ek die Skrywersgala vir geen geld ter wêreld mis nie.
 


Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Melodie Nöthling Slabbert
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur