| Suzette Kotze-Myburgh oor Babel: ''Een van die kenmerke van Iñárritu se kuns is die veelvlakkigheid en kompleksiteit daarvan'' |
Suzette Kotzé-Myburgh
Babel Spelers: Brad Pitt, Cate Blanchett, Mohamed Akhzam, Gael Garcia Bernal, Adriana Barraza, Rinko Kikuchi Regisseur: Alejandro Gonzalez Iñárritu
Hierdie briljante film bevestig regisseur Alejandro Iñárritu se meedoënlose blik op die lewe. Soos in Love is a bitch en 21 Grams word die kyker nie gesus of gespaar met enigiets wat nice (met apologie aan daardie motoradvertensie) is nie. Mense neem verkeerde besluite, of goeie besluite, of geen besluite nie, maar op ’n meedoënlose wyse het alles gevolge. Die kyker is saam met die karakters in die wêrelddorp: die tonele wissel tussen Marokko, Amerika, Mexiko en Japan. Vier groepe karakters word om die beurt gewys, en eers ten slotte word dit duidelik hoe hulle almal met mekaar verbind is. Sentraal tot al die gebeure staan ’n Winchester-jaggeweer. Wat mettertyd ontvou, is ’n skop-in-die-maag-verhaal wat saamgevat kan word in hierdie twee begrippe: geweld en seks – dood en lewe, die polariteit wat ons aardse bestaan omvat. Vir my vorm dit die groter tema ágter die verklaarde tema van die film: moeitevolle kommunikasie, of ’n gebrek aan kommunikasie, waarvan die skreiendste uitdrukking die lot van die doofstom skoolmeisie Chieko (Rinko Kikuchi) in Tokio is. Een van die kenmerke van Iñárritu se kuns is die veelvlakkigheid en kompleksiteit daarvan – hoe hy daarin slaag om ’n web van assosiasies en resonansies te weef wat uitdrukking gee aan die universele, die totale menslike kondisie. Want sekerlik kan ’n mens die Babel-verhaal in die Bybel sien as ’n metafoor vir die ontstaan van stryd, konflik en oorlog tussen mense, groepe en nasies. Toe die samebindende krag van taal, kommunikasie en begrip wegval, het die versplintering van die mensdom en chaos gevolg – want wat is oorlog anders as volslae, sinlose, redelose chaos? Verskeie kommentators het daarop gewys dat hoewel die hoofgebeure in Marokko afspeel, die film ’n kwalik bedekte verwysing is na Irak (of Iran, of Afganistan …) Richard en Susan (Brad Pitt en Cate Blanchett), twee Amerikaners wat duidelik huweliksprobleme ervaar, is op ’n “vakansie om weg te kom” in Marokko. (Wat die rede vir hul huwelikskrisis is, blyk eers teen die einde, in een van die heel subtielste bekendmakings wat ek nóg in ’n fliek gesien het.) Susan word deur ’n dwaalkoeël getref en het dringend mediese hulp nodig, maar hulle is ure ver van die naaste dorp. Anwar die toergids (Mohamed Akhzam), ’n man van die omgewing, neem hulle na sy dorpie, maar op tipies Amerikaanse wyse word die gebeure alte gou opgeblaas tot ’n politieke insident. Richard en Susan se krisis veroorsaak ’n nuwe krisis by hul spoghuis in San Diego: hul getroue huishoudster Amelia (Adriana Barraza) moet langer as die afgespreekte tyd na hul twee jong kinders kyk en gevolglik kan sy nie meer Mexiko toe gaan vir haar seun se troue nie. Haar besluit om die kinders saam met haar te neem, kring uit tot onberekenbare gevolge. Iñárritu stel op ’n besonderse wyse ryk en bevoorreg teenoor arm en gemarginaliseer, met die ambivalensies inherent daaraan: die Amerikaanse witbroodkindertjies by die jolige Mexikaanse troue; die Tokiose tiener wat in materiële terme álles het maar wat in emosionele armoede leef; die rol note wat Richard aan Anwar bied maar wat met ’n kopskud afgewys word. Sy sterkste boodskap fokus egter op kinders – die film is dan ook aan sy eie kinders opgedra. Hy gebruik die lotgevalle van die verskillende kinders as ’t ware as ’n barometer om die stand van die 21ste-eeuse samelewing aan te dui. Wat sê dit as seuns wat skaars tieners is, ’n geweer met die grootste gemak en vanselfsprekendheid hanteer? Meer nog, as daardie geweer deur hul pa in hul hande gedruk word? Wat sê dit as ’n tienermeisie wat sukkel om haar ma se dood te bowe te kom van ná skool tot diep in die nag op haar eie moet regkom in ’n luukse dakwoonstel vol van die nuutste tegnologie maar leeg van enige menslike warmte? Die fliekjaar is nog jonk, maar Babel was reeds ’n hoogtepunt.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|