Groep: Bydraers/Contributors
Ek is ‘n laatlammetjie met drie ouer broers en word dus alleen groot in die Makoppa-omgewing. Ek hou myself besig met knip- en plakwerk, teken, verf, brei, hekel, popklere maak en lappies knoop. Die katte is my beste maatjies en ek soek vir ure lank prentjies op die naat van my rug in die wolke. In 1976 begin my laerskoolopleiding te Laerskool Van Wykskraal en kry ek vir die eerste keer met rympies en stories te doen. Ek ontdek die biblioteek, word in St. 3 die amp van medialeier toegeken en ontvang ook die beker vir "Die meeste boeke gelees". In 1984 trek ons na Thabazimbi en ek gaan skool te Laerskool Thabazimbi. Ek voltooi my hoërskoolloopbaan te Hoërskool Frikkie Meyer in 1988. Ek is medialeier van St. 8 tot matriek.Van 1989 tot 1991 werk en kwalifiseer ek as elektrisiën. Ek trou met John Johannes Mulder en het twee pragtige dogters, Marjolé (1993) en Jeanri (1995). Ek doen ook verskeie afloswerk van telefoniste, beplanningsklerk tot sekretaresse. In 1994 kry ek ‘n lekker verrassing in die pos toe Huisgenoot vir my ‘n R50-00 tjek stuur vir my resep vir Knoffelrolletjies wat ook later in die Huisgenoot Randrekkers verskyn. In 2000 besef ek dat ek iets sal moet doen aan my stokmannetjies en leer om te skilder. Intussen neem ek deel aan die Poetry Institude of Africa se gedigtekompetisie in 2001 waar my gedig "Oomblikke in tyd" in die boek Swewende Siele opgeneem word. In 2002 verskyn "Team up" in Emotional journeys, in 2003 "Depression" in Shattered Pillars en "Tussen ons" in Dagboek van gister. Ek hoor ook van die ATKV se Herfsskryfskool te Potchefstroom en woon dit van toe af elke jaar by. Ek begin by kinderliteratuur, doen daarna prosa, toe poësie en in 2008 en 2009 rubrieke. Ek neem ook deel aan die ATKV Woordwoekeraars te Pretoria se skrywerskompetisie en verwerf ‘n eerste en derde prys in die afdeling kortverhale. Ek gee vanaf 2002 ‘n besigheidsgids genaamd Bosveld Koopkrag Besigheidsgids uit. Van 2006 af werk ek as agent vir Lapa Uitgewers en begin my eie boekwinkel genaamd Boeke-Ini-Bos. In 2008 begin ek ook met ‘n gastehuis genaamd Bed-Ini-Bos. Ek was maar nog altyd ‘n stil en eenkant mens wat hou van lees, musiek luister, die natuur en dans. Ek probeer altyd om in elke situasie, positief of negatief, te kyk wat ek daaruit kan leer. My droom is om te kan publiseer en gelees te word, om êrens vir iemand iets te kan beteken al is dit net vir een mens. Ek wil onthou word lank nadat ek nie meer daar is nie. Opgedateer/Updated: 2009-09-02 Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za Bio info outdated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
|