Bydraes vir Die sjokoladeshow word ingewag

  • 2

Aan almal met ’n soet- (of bitter-) tand wat wil skryf!

Rudi Sadler en Johan van der Merwe van Theatrerocket het die afgelope maande opslae in die teaterwêreld gemaak met hul produksies van Die reuk van appels en DEURnis. Dié produksies het nie net uitverkoopte vertonings en verlengde speelvakke gehad nie, maar is ook bekroon met verskeie pryse en akkolades.

Theatrerocket het verskeie ander produksies in die pyplyn waarvan julle in die nabye toekoms nog heelwat sal hoor, onder andere die produksie waarby ek as tekssamesteller betrokke is, naamlik Die sjokoladeshow – ’n produksie wat deur twee akteurs opgevoer gaan word. (Op hierdie stadium is Die sjokoladeshow nog net die werkstitel van die produksie.)

Wie van ons het nié ’n heilige, of onheilige, verbintenis met sjokolade nie? Joanne Harris, skrywer van Chocolat het gesê: “Happiness. Simple as a glass of chocolate or tortuous as the heart. Bitter. Sweet. Alive.” Die Portugese digter en filosoof Pessoa het gesê: “Kyk, daar is geen metafisika op aarde soos sjokolade nie.” ’n Ander uitspraak is: “Sjokolade is beter as seks, en lekkerder as kos.” Iemand het selfs gesê: “As daar nie sjokolade in die hemel is nie, dan gáán ek nie!” 

Ons weet nou wat Harris en Pessoa gesê het, maar waarin ons meer belangstel is dit wat jý dink oor hierdie bittersoet verleiding, die sublieme foltering van sjokolade. Daarom wil ons jou vriendelike uitnooi om ’n bydrae te lewer vir hierdie produksie. Wat ons van jou wil hê, is die volgende:

  1. ’n Teks, tussen 100 en 3000 woorde
  2. Die tema: sjokolade, natuurlik. Ons wil glad nie voorskriftelik wees oor hóé jy hierdie tema aanpak nie. Dit hoef nie nét positief teenoor sjokolade te wees nie, jy mag ook jou afgryse en weersin in sjokolade beskryf.
  3. Die genre waarin jy skryf, berus by jou. Ons benodig kort dramas, limerieke, liedertekste, spanningsverhale, komedie (ook swart komedie en absurde teater), moordverhale en liefdes- of hygverhale. Onthou net dat jou teks uiteindelik verhoogmatig aangebied sal word. 
  4. Hou in gedagte dat die produksie deur een akteur en een aktrise aangebied gaan word. Die teks kan dus geskryf word vir óf een van die akteurs of vir albei. Op hierdie stadium het Hannes van Wyk aangedui dat hy belangstel om in die produksie te wees, met Margit Meyer-Rödenbeck as moontlike regisseur. Onderhandelinge is aan die gang met verskeie aktrises vir die ander rol.
  5. Let wel: Jou teks, indien dit gekies word, sal toneelmatig verwerk word. Met jou bydrae verleen jy dus toestemming hiervoor.
  6. Theatrerocket beplan nie net ’n verhoogproduksie met hierdie versameling bydraes nie, maar ook ’n moontlike publikasie. Alle tekste wat deur die samestellers gekeur word, sal dus oorweeg word vir óf die publikasie, óf die verhoog, of albei.
  7. Jy kan soveel bydraes lewer as wat jy wil. Alle inskrywings sal egter gekeur word.
  8. Vergoeding wat aangebied word, is tweeledig: Indien Die sjokoladeshow se tekste in boekvorm verskyn, sal jy tantième volgens die riglyne van die uitgewerswese ontvang (tekste vir die boek). Indien jou teks gekies word om ook deel te wees van die verhoogproduksie, dan sal jy nie net die boek se tantième ontvang nie, maar ook ’n verdere vergoeding vir die produksie. Dié vergoeding sal bepaal word deur die aantal woorde en die aard van die teks. Onderhandelinge sal direk met elke skrywer gevoer word.
  9. Die oogmerk is om die produksie by al die Afrikaanse feeste op te voer, asook by teaters, fondsinsamelings, damesoggende, ens. Daar word ook reeds beplan aan die opvolgproduksies van Die wynshow en Die brandewynshow.
  10. Sperdatum: Die sperdatum vir jou sjokoladeteks is 10 Januarie 2018.
  11. Stuur asseblief jou teks na beide rianas@mweb.co.za en Theatrerocket Productions: info@theatrerocket.com.

Die sjokoladeshow is ’n unieke geleentheid vir skrywers om hul werk op die verhoog te sien. Gaan koop jou gunstelingsjokolade, sit voor jou rekenaar, en skryf! 

  • 2

Kommentaar

  • Pierre Rossouw

    Die Sjokoladeshow 17 desember 2017 © pierre rossouw

    sjokolade is die elikser van ons lewe
    belonging is vele mense se strewe
    dan is daar ontploffing in jou mond
    want, fluweelsag spoel die geure rond
    die gesmolte, wat glad na binne gly
    ‘n drup, waaraan jy gekoppel wil bly
    die soet of bitter, jou in euforie plaas
    jou na volgende sjokolade sal haas
    endorfiene wat die goedvoel bring
    is daar vele sensasies, in ‘n string
    die reuk en smaak van kakao-bone
    troos die geheue en krul die tone
    gedroog en gerooster en ook gemaal
    gemeng vanilla en lemoen, sal bepaal
    kakao-botterkombinasie, melk en room
    smake en geure, om net van te droom
    die krag van hierdie donkerbruin soen
    dan water die mond, as jy dit net noem
    bitter of soet, bitter-soet sjokolade groet
    ‘n blos op die wange want kakao is goed

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top