Bybel in Kaaps: Bergpredikasie

  • 2

Matteus 5–7

Die Bergpredikasie

5 Toe Jesus die skare gesien het, het hy tiennie berg op gegan, en toe hy gan sit het, toe kom sy dissipels na hom toe.

Die Saligsprekinge

2 En hy het sy mond oepgemaak en hulle begin leer, en hy’t gesê:
3 “Geseënd is dié wie arm in gees is en wie wiet dat hulle vi God nodig het, wan die koninkryk van God is hulle s’n. 
4 Geseënd is hulle wie treur, wan hulle sal vetroos wôd.
5 Geseënd is die sagmoediges, wan die aarde is hulle s’n.
6 Geseënd is hulle wie honge en dors is vi dit wat reg is, wan hulle sal vesadig wôd.
7 Geseënd is hulle wie genadig is, wan hulle sal genade ontvang.
8 Geseënd is dié wie se harte skoon is, wan hulle sal vi God sien.
9 Geseënd is die vriedemakers, wan hulle sal die kinners van God geroep wôd.
10 Geseënd is hulle wie vervolg wôd ommat hulle doen wat reg is, wan aan hulle behoort die koninkryk vannie hemel.
11 Geseënd is julle, wanne anne mense julle beledig, wanne julle vervolg wôd en al wat sleg is, en is valslik, oo julle te sê terwille van My.
12 Wies bly en juig, wan jou beloning is groot innie hemel, wan hulle het die profete voo julle net soe vervolg.”

Sout en lig

13 “Djy issie sout vannie aarde, maa wanne sout sy smaak veloo, hoe kannit wee sout gemaak wôd? Djy kannittie mee gebruikie. Djy moet dit uitsmyt, ennie mense vetrappit.

14  Djy issie lig vannie wêreld. ’n Stad wat op ’n berg sit kannie weggestiek wôttie. 15 En soe oek stiek mense nie ’n lamp aan ommit weg te stiek onner ’n emmerie, maa hulle sit dit oppie tafel, en dit gie die hele huis lig. 16 Innie selle way, laat jou lig voo anners skyn, soedat hulle jou goeie werke kan sien en julle se Vader wat innie hemel is kan veheerlik.

Jesus ennie vervulling vannie wet

17 “Moenie dink ek is hie ommie wet vannie proefete af te briekie; Ek issie hie ommit af te briekie, maa ommit te vevul. 18 Wan ek sê vi julle, die hemel en aarde sal veby gan, voo daa ’n  letter of ’n strepie van ’n letter vannie wet wegval tot alles vevul is. 19 Soe wie voel ommie kleinste vannie gebooie ongeldig te maak en oek anners soe te lee, sal assie minste gesien wôd innie koninkryk vannie hemel, maa wie oekal gehoosaam is annie wet en wie dit vi anners lee, sal as hoeg gesien wôd innie koninkryk vannie hemel.  20 Wan ek sê vi julle, as julle nie gan biete wies dannie skrifgeleedes offie Fariseërsie, sal julle nooit innie koninkryk vannie hemel ingaan nie.”

Woede en vesoening

21 Julle het gehoo dat daa vannie ou tyd af annie mense gesê is: ‘Djy maggie moord pleegie, en wie oek al moord pleeg sal geoodeel en gestraf moet wôd.’ 22 Maa ek sê oek vi julle dat wie oek al kwaad is vi sy broe, sal geoodeel en gestraf wôd; wie oek al sy broe beledig sal voorie Raad moet veskyn; en wie oe kal sê: “Djy, jou bleddie stupid!” sal eendag loep brand innie hel se vuur. 23 Soe as djy ’n geskenk by die altaar kom offer, en daa vallit jou by dat jou broe iets tien jou het, 24 los dan jou offering net daa voo die altaar en gan maak eeste vriede met jou broe en dan kom djy trug en kom offer jou geskenk. 25 As iemand jou beskuldig van iets en daai pesoon begin ’n regsaak tien jou, maak vriede met daai pesoon voo dit by die hof uitkom, voo daai pesoon jou annie hof oogie, en voorie hof jou annie polisie oogie, en voorie polisie jou innie tronk toesluit. 26 Wan, ek sê vi jou, djy sal nooit daa uitkommie, nie voo djy elke laaste sent trugbetaalitie.”

Lus

27 “Djy het gehoo dit was gesê gewies: ‘Djy sallie egbreuk pleegie.’ 28 Maa ek sê vi jou dat amal wie na ’n vrou kyk en wie vi haa lus, het al klaa met haa in sy hart egbreuk gepleeg. 29 As jou regte-oeg jou laat sonde, krappit uit en gooi dit weg. Wan dis biete om ’n oeg te veloo as wat jou hele lyf innie hel sal gegooi wôd. 30 En as jou regtehand maak soedat djy sonde, kappit af en smyt dit weg. Wan dis biete om ’n hand te veloo as wat jou hele lyf hel toe gan.”

Egskeiding

31 “Dit was oek gesê: ‘Wie oek al van sy vrou af skei, moet vi haa ’n skeibrief gie.’ 32 Maa ek sê vi julle, wie oek al sy vrou skei, behalwe oo owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en wie oek al ’n geskeide vrou trou, pleeg oek egbreuk.”

Eedswering

33 “Julle het oek gehoo dat daa vannie ou tyd af annie mense gesê is: ‘Djy maggie jou eed vebreekkie, maa wat djy by die Jirre gesweerit moet djy nakom.’ 34 Maa ek sê vi julle: Moet glattie sweerie, nie by die hemelie, wan dissie troon van God, 35 of by die aarde nie, wan dis sy voetebank, of by Jerusalemie, wan dissie stad vannie groot Koning. 36 En moenie op jou kop sweerie, wan djy kannie een haar wit of swart maakie. 37 Laat jou ja, ’n ja is en jou nee, ’n nee is. Wan as enige iets meer gesê wôd, kommit vannie bose af.”

Vergelding

38 “Julle het gehoo dat dit gesê is: ‘’n Oeg vir ’n oeg en ’n tand vir ’n tand.’ 39 Maa ek sê vi julle: Moenie trug baklei tienie een wie jou kwaad wil aandoenie. Maa as enige iemand jou op jou regtewang wil klap, dan gie hom oekie jou anne wang. 40 En as daa enige iemand is wat jou hof toe wil vat om jou onneklere te vat, gie sommer oek vi hom jou boe-klere. 41 En as iemand jou dwing om een kilometer met hom te gan, gan vi twee kilometers met hom. 42 Gie vi die een wat iets van jou af bedel, en moenie vi iemand wat iets by jou wil leen, wegwysie.”

Wies lief vi jou vyand

43 “Julle het gehoo dat daa gesê is: ‘Djy moet jou naaste liefhê, en jou vyand moet djy haat.’ 44 Maa ek sê vi julle: Wies lief vi julle vyande en bid vi dié wat julle wil vevolg, 45 soedat julle kinners van julle Vader innie hemel kan wies. Wan hy laat mos sy son opkom oorie slegtes ennie goeies,  en hy stuurie reën oo dié wat reg doen en oo dié wat vekeerd doen. 46 Wan as djy dié lief hê wat vi jou lief hê, watte loon kan djy vewag? Maakie tollenaars dan oekie maa soe nie? 47 En as djy net jou broers groet, wat doen djy meer assie anners? Maakie niegelowiges dan oekie maa soe nie? 48 Julle moet dan volmaak wies net soes julle hemelse Vader volmaak is.”

  • 2

Kommentaar

  • Pragtig!!
    Net soos wat die ouer Afrikaanse mense wat opgegroei het met die 33 & 53 vertalings, nie die 83 Afrikaanse vertaling aanneemlik vind nie, en die eerste Afrikaanse vertaling in '33 deur báie Hooghollandse Bybellesers selfs al Heiligskending gesien is, sal daar onder sommige nie van hierdie Kaapse-Afrikaans gehou word nie, maar solank die boodskap nie verander aan die grondteksmening nie, is hierdie 'n groot deurbraak en noodsaaklikheid wat al 80 jaar gelede moes wees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top