By Jeroen Bosch se triptieke

  • 0

De Tuin der Aardse Lusten, Hieronymus Bosch (bron: http://www.surrealisme.net/wp-content/uploads/2015/11/Tuin-der-lusten.jpg)

By Jeroen Bosch se triptieke

HJ Snyman

I

Teen my bitterwete in
roep ek hulle op in die diep nag,
hulle wat my psige bevlek
in die Tuin van Aardse Luste.
Maar hulle kan my nie hoor nie;
hul ore is deurboor
en 'n slagtersmes dryf
hulle voort, wég van my hart,
ja daardie hart met ‘n fluit
gebalanseer op 'n ont-
hoofde hoof en oop-
gekloofde lyf
waarin vreemdelinge
makietie hou met my pyn.
Dat dit die hel is, skree vanself;
Dat dit die hel is, skree vanself.

II

Die herberg met sy nooduitgang,
vloerverhitting, Miró-afdruk,
'n spyskaart en Tea and Coffee Caddy
vir die reisiger in die Auberge Burgundy,
slaaploos, besig om herinneringe
uit die reistas op te hang in die kas
sonder deure, langs 'n parapluie,
waarskynlik hier gelaat vir geval
'n storm van buite woed
ooreenstemmend
met die storm van binne.

III

Hiperbolies, sou jy uitroep.
Nee, sou ek verdedig. Dié gedig
stig vuur aan soos die verwoestende vuur
in 's-Hertogenbosch toe die jonge
Jeroen Anthoniszoon van Aken
aanskou hoe vuur sy geboortedorp ontsier.
'n Vlieënde vis waarop die jonge Jeroen
in sy verbeelding ry in 'n latere skildery
wys hoe die verwoesting in sy gemoed uitbloei.
In Die Laaste Oordeel
is die gryllos horende doof
en 'n vrou trotseer
'n slang
se overtures seksueel.

IV

Jare terug staan ek in die Prado
voor die Triptiek van Epifanie.
Wis toe niks van liturgie
of hoe die dooies na ons bly roep
lank na hul vertrek. In my bladsak
'n brief van Annette Theron
en haar vlammende woorde
vir ewig in my gemoed geberg.
In San Diego bekyk ek Die kus van Judas
gesuspendeer in tyd en ruimte:
onbewus-bewus van wat sou kom ...
Haar laaste brief aan my versend
op daardie dag van haar vertrek.

V

In São Paulo staan Christus voor Pilatus:
die via dolorosa beweeg buite woorde
in hierdie gedig deur Jeroen helder opgeteken.
Ook ek sing 'n mooi lied, 'n treurige lied
alleen in mý fluitjiesriet,
in hierdie grammatika van afskeid
én bewaring vir jou,
kenner van eenvoud en dubbelsinnigheid;
jy wat die mirakels en óntoevalligheid
van hierdie disjunkte proses begryp:
non tarda, id est, strenuissima.

Joan Hambidge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top