BSV-skryfwedstryd: Skrywers 2017

  • 0

skryf_650

Doop gerus pen in die ink oor die Kersvakansie vir die BSV-Skryfwedstryd 2017!

Die BSV-bestuur maak graag nou reeds die onderwerpe en inligting bekend vir Skrywers 2017, die jaarlikse nasionale skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, in samewerking met NALN vir hoërskole en volwassenes (kortprosa en poësie). Die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV borg die prysgeld van R18 000, sowel as ’n gratis slypskool by ’n gerekende slypskoolaanbieder in Augustus 2017 en publikasie van die weninskrywings in Inkvars 2017. Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, nooi alle potensiële (en gepubliseerde) skrywers en digters – veral leerders en studente (niemoedertaalinskrywings ook welkom) – uit om deel te neem aan een van die grootste skryfwedstryde in Afrikaans. Gerekende en bekroonde skrywers / tersiêre dosente beoordeel die skryfwerk anoniem. Hierdie historiese skryfwedstryd word al ononderbroke sedert 1979 op nasionale, eintlik internasionale vlak, aangebied. Die wedstryd het al verskeie pryswenners (toe nog ongepubliseerd) opgelewer wat later gerekende en bekroonde skrywers geword het (soos Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo, Piet Steyn, Dirk Winterbach, Carina Stander, Japie Bogaards, Sonja Loots en nou ook Hilda A Smits, om maar enkeles te noem.) Gaan kyk gerus op die BSV-webwerf  na die heerlike prettige (of diepsinnige) onderwerpe en temas per kategorie in die wedstrydpamflet – en met uitdagende onderwerpe soos "Bring vir skoonma haar besem!" en "Sy/Haar laaste 'selfie'", sal die skryfgogga beslis byt ...

Lekker skryf!

  • Laai die wedstrydpamflet hier af.
  • Laai die inskrywingsvorm vir die junior- en seniorfafdeling hier af.
  • Laai die inskrywingsvorm vir die opeafdeling hier af.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top