BSV-skryfwedstryd 2017

  • 1

Die sluitingsdatum van een van die tradisierykste en grootste skryfwedstryde in Afrikaanse prosa en poësie in die land, dié van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, is net ’n hanetreetjie weg.

Hierdie inisiatief bestaan al sedert 1979 en het al groot name soos Carina Diedericks-Hugo, Piet Steyn, Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Sonja Loots en onlangs ook Hilda Smits en ander opgelewer.

Die kompetisie sluit Vrydag, 12 Mei 2017. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, syfer die inskrywings tans nog maar drupsgewys in en moet deelnemers maar so spoedig moontlik die inskrywings in die pos gooi, aangesien slakkepos deesdae soms maar "slakker as slak" is ...

Neem gerus deel! Groot nuus is dat daar, buiten die R18 000 prysgeld (wat vir die negende agtereenvolgende jaar deur ons gewaardeerde vennoot, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, geborg word), ’n gratis slypskool by Etienne van Heerden op 26 Augustus 2017 op die spel is! Boonop word die wenners se weninskrywings in die publikasie Inkvars 2017 in tasbare formaat verewig.

Hoërskoolleerders (selfs klasgroepe), studente en volwassenes (gepubliseerdes en ongepubliseerdes), asook niemoedertaalskrywers van Afrikaans, wat belangstel in die kreatiewe skryfkuns (kortprosa, soos kortverhale, sketse, kort-kortverhale, essays, sowel as poësie), kan gerus na die heerlike onderwerpe op die wedstrydpamflet en inskrywingsvorms op die BSV-Facebookblad of -webwerf kyk. Daar is onderwerpe wat in elke smaak sal val. Selfs tong-in-die-kies onderwerpe, soos "Bring vir skoonma haar besem!" en "Hier rus ...’n luigat!"

Doop gerus daardie skryfpen in ink – anders gaan jy nooit weet of jy dalk die volgende Langenhoven, Krog of Brink is nie! Lekker skryf – ons hou die possakke dop vir julle inskrywings!

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top