Brief aan Gigaba oor die voorgestelde kommissie oor belasting

  • 14

Malusi Gigaba (foto: Youtube) en Bettina Wyngaard

Beste Malusi

Elke keer as jy op die TV kom, dan check ek eers jou klere uit. Snazzy, hoor. As hulle ooit ’n best-dressed kompetisie vir die ministers hou, wen jy loshande. Jy moet regtig die naam van jou klerekonsultant aanstuur – ons wil ook so goed lyk wanneer ons niks substansieel sê nie.

Maar dis nie waaroor ek aan jou skrywe nie. Ek is heeltemal excited om te hoor jy wil ’n kommissie aanstel om ondersoek in te stel na hoekom ons mense so swak belasting betaal. Ek sien jy noem goed soos “weakened tax morality”.

Nou wonder jy vir wat ek aan jou skryf. Sien, jy’s mos ’n public servant, en ek is lid van die publiek, so op ’n way werk jy vir my. Nou wil ek maar net my mening ook gee, so wanneer jy en JZ en Number One (ons weet mos almal dit was nog nooit JZ nie) bymekaarkom om te besluit wie op die kommissie moet dien, en wat hulle moet ondersoek, dat jy in eerlikheid kan sê jy het met die publiek konsulteer. Ek weet hoe belangrik eerlikheid vir jou is, mos.

Nou sien, hier’s die eerste ding. Ek weet jy kan nie self die kommissie aanstel nie, maar jy het mos darem seker kleine bietjie invloed met Number One?  Of jy kan vir JZ vra om vir jou ’n goeie woordjie te in te sit by hom? Veral aangesien die kommissie oor ’n belangrike deel van jou portefeulje gaan, sal hy darem seker toelaat dat jy ’n bydrae lewer? Wie weet, miskien kan jy en JZ koppe bymekaarsit voor julle na Number One toe gaan.

Die wet sê nêrens die voorsitter van die kommissie moet integriteit hê nie. Dis een van daai goed wat die silly regsprekers as vanselfsprekend aanvaar het. They didn’t see Number One coming, that’s for sure, nè. Maar vir so ’n belangrike kommissie, een wat nogals aan my sak wil raak, moet mens darem voel die voorsitter het die saak ondersoek sonder “fear and favour”. Jy ken mos daai uitdrukking. Saam met “Justice must be seen to be done.”

Nou, ek het gedink en gedink en gedink, en weet jy, ek dink die beste man vir die job is ’n vrou. Hoe klink advokaat Thuli Madonsela vir jou? En dit sal nice wees as sy minstens een finansiële raadgewer van haar keuse kan aanstel. Die publiek sal beslis gerus wees as sy op die case is. Nou, ek weet sy en JZ en Number One het nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie, al het sy van haar kant af als probeer, maar miskien is dit nou tyd om die strydbyl te begrawe, vir die greater good.

Dan moet ons seker praat oor die terme van die ondersoek, want dit baat nie jy stel ’n fantastiese kommissie aan en hulle hande is gebind nie.

Jy’t ’n goeie begin gemaak met “weakening tax morality”. Dit moet baie beslis ondersoek word. Miskien kan hulle heel eerste kyk na wat die ministers se tax morality is. Mens wil nou nie onredelik wees nie, hulle kan net ’n paar kies, soos sê nou maar Lynne Brown en Bathabile Dlamini se belastingopgawes. En omdat ek weet JZ lei deur sy voorbeeld, sal dit beslis ons mense se tax morality versterk as hy sy belasting bekendmaak. As ons sien ons vreeslose leiers betaal getrou belasting, sal ons mos geïnspireer word om ook so te maak.

O ja, amper vergeet ek, volunteer sommer dat hulle na joune ook kyk, toe? Jy’t mos niks om weg te steek nie, ek weet.

Dan reken ek moet die kommissie sommer ook kyk na wanbesteding van staatsgelde. Kyk, ek is geen belastingkenner nie, maar ek weet van my eie huishouding se drie sente beheer. Nou kom, imagine saam met my. Ek het ’n tjommie, en ek stuur die bra’tjie café toe met ’n vyftigrand. Ek vra die outjie hy moet vir my brood en melk koop. Nou kom hy drie ure later terug. Hy’t vir homself chocolate en chips gekoop. Niks brood, niks melk. In fact, hy’t vir my niks gekoop met my eie geld nie. En dan is hy nog short op my change ook. Dink jy ek stuur daai bra weer café toe? Never, ek is mos nie versin nie. As hy my een keer bevark het, dan keer niks hom mos om dit weer te doen nie. Nou moet ek hom mos block dat hy dit nie weer try nie.

Nou kan jy verstaan, met ons tax geld werk dit mos exactly dieselfde.

Jy verstaan nie? OK, kom ons try weer.

As ek tax betaal met die verstaan dat die geld gebruik gaan word om vir die mense huise te bou en werk te skep, dan gaan ek mos nie lag as ek hoor daar word vir een ou ’n overpriced huis gebou en al daai ou se tjommies kry dummy joppies waar hulle niks werk nie en moewiese salarisse verdien en huise in Dubai loop koop nie. Of hulle koop vir die polisie forensiese flitsligte wat R300 000 een kos. Dis soos om vir ’n Lindt chocolate te betaal, en dan kry jy ’n Chomp. Dink julle ons is stupid? En verder kry die ouens vir wie se behoeftes ek tax betaal het, nie ’n blou duit se voordeel nie. Next time gaan ek mos nie weer julle trust met my geld nie, ek gee maar eider self vir iemand ’n joppie, en ek maak maar self die pothole in die straat reg.

Nou, wat jy wil doen is om te sê die kommissie moet uitvind vir wat gee ek nie weer my geld vir die bra om café toe te gaan nie. Maar jy moet mos kyk na wat gebeur het toe ek laas die bra café toe gestuur het en hy my geld opgevreet het.

Want sien, Malusi, dis nie die tax morality wat verswak het nie. Dis die vertroue in die government om ons geld met integriteit aan te wend vir die doel waarvoor dit bedoel is, wat gone is. Poef, weg. Nes ons geld. Trust me on this, as jy vandag die plug uittrek op SABC en SAA, en die korrupsie by Eskom en SASSA en al die ander plekke uitwis, gaan jy al klaar ’n moewiese verskil sien in die way waarop tax gevorder word.

En die cherry op die koek: remind public servants elke dag dat hulle daar is om die public te serve, hulle doen ons nie ’n verdomde favour nie. Dis nou polisie, traffic, hospitale, klinieke, binnelandse sake, arbeid, in fact, enige plek waar die government kantore het om mense te help. Kry hulle so ver om hulle werk vinnig, effektief en vriendelik te doen.

Nou, ek weet money talks. Ek is seker daarvan die meeste lede van die publiek sal nie mind dat daar performance bonuses betaal word vir public servants wat die publiek dien nie, vir goed soos vriendelike diens, hulpvaardigheid, suksesvolle en spoedige afhandeling van sake. En okay, ons Suid-Afrikaners weet enige sisteem het ’n gap. Kry ’n paneel van die plaaslike publiek om insae te hê in elke plaaslike kantoor se bonussisteem. Soort van soos die Amerikaanse juriestelsel. Dit moet mense wees wat actually die diens gebruik het, en dit moet mense wees van dwarsoor die kleur-, ras-, godsdiens-, kultuur-, ouderdom-, ekonomiese en taalspektrum.

Ek guarantee jou, as die belastingbetalers sien hoe goed hulle gehelp word, gaan hulle nie mor en sug wanneer dit tyd kom om belasting te betaal nie. En as die public servants weet hulle gaan in rand en sent aan hul eie basse voel as hulle nie werk nie, gaan jy ’n helse improvement in diens sien.

Weet jy wat gaan ook help? Bou huise, sodat daar nie meer plakkerskampe is nie. Verskaf werk, sodat mense nie op straat staan en bedel, of by ander se huise inbreek en hulle beroof nie. Maak strate reg. Bou ordentlike paaie. Sorg dat daar water vir almal is, in krane, by hulle huise. Dis nonsens dat mense nog kilometers moet loop om water te kry. Dis 2017, for crying out loud. Sorg dat daar bekostigbare elektrisiteit is. Sorg dat die rade van al daai plekke weet wat accountability beteken. Accountability aan die publiek wat hulle dien, nie een ou wat agter die skerms toutjies trek nie.

Bottom line: As ons jou geld gee om brood te koop, Malusi, KOOP DIE VERDUIWELSE BROOD!

Met beste wense

Bettina

  • 14

Kommentaar

  • Gert van jaarsveld

    Spyker op sy kop, Bettina! Lanklaas so lekker aan 'n uitstekende brief gelees. Skryf meer asseblief! Almal moet die boodskap kry!

  • GatvolBoereseun

    Ja die keer skryf jy iets wat sin maak. Pragtig. Enigste gedeelte wat ek nie verstaan nie, en dalk kan jy dit ook so mooi aan my verduidelik, die bou huise, verskaf water en werk ding. Sien ek werk vir 'n salaris, dus moet ek my eie huis koop of laat bou, met my geld. Die wat nie werk nie moet 'n huis kry - mahala ... verniet ? Dan kan ek mos maar ophou werk en aandring op my huisie ? Verskaf werk ... He he, dit is vir jou 'n grappie. En dan water, al klaar amper "hoendertanne" in die land van ons. (Ons, as ek myself nog mag deel ag.) Want daai water is mos verniet as jy nie werk nie, ek wat werk sal betaal.
    Ter afsluiting: Ek stem met jou saam, vat daai R20 en koop brood!

  • Hoop die blink mannetjie lees jou brief. Miskien moet iemand dit vir hom lees en sommer verduidelik. Bettina, doen so voort.

  • Beste Bettina
    Uit ondervinding. Dit gaan soos water van 'n eend se rug afrol. Die mense is so glad soos palings, net as jy dink jy het hom, gly hy uit jou hande die diepte in. Dit is mos nou al meer as 'n dekade wat No 1, korrupsieaanklagte ontduik.
    Nouja die outjie wat jy winkel toe gestuur het, het tien teen een gedink: "As die antie so stupid is om my te vertrou, moet sy moan as ek my eie behoeftes (eintlik begeertes), voor hare bevredig nie."
    Jy sien, belastingbetalers is ook kiesers, en dit is die kiesers wat die mense kies om hul te verteenwoordig. Jy het die verkeerde bra’tjie cafe toe gestuur, kiesers die verkeerde verteenwoordigers.
    So die les is, wees volgende keer versigtig wie jy vertrou om met jou geldjies te werk.
    Lekker dag.

  • "Meegevoeler"

    Hierdie pragtige uiteengesette brief aan die "uwe" sê dit asof ek dit self geskryf het! My enigste bekommernis is, dat die "uwe" dit nie gelees gaan kry nie! Dis in Afrikaans geskryf en nie in Engels nie! En hoe gaan hy dit per slot van sake aan die "Prezzie" duidelik maak wat alles beteken ... Miskien moet hy maar weer 'n tolk kry om die boodskap oorgedra te kry dan kan jy ook maar nie verseker weet of dit reg en presies gaan wees nie ... Maar ons moet aanhou probeer! Gelukkig verstaan meeste van ons lesers presies wat jy gevoel en gesê het ... Hoera! Iemand weet genoeg van ons situasie om dit so korrek vas te vat in woorde!
    Groetnis
    "Meegevoeler"

  • De Villiers Hauptfleisch

    Bettina, hulle wil `n komissie aanstel om te kyk hoekom ons so swak belasting betaal? `n Komissie is mos nie nodig nie. Ons weet mos nou wie nie hulle belasting betaal nie ... En dan steel hulle nog die belastingbetalers se geld wat wel hulle belasting betaal. Nee man, hulle is baie erger as daai laaitie wat jou ouma cafe toe gestuur het!

  • Bettina dis goed gestel. Maar tensy dit in Engels is en die regte teikenleser bereik, dit is die Min van Finansies, praat jy slegs met reeds bekeerdes. Nogtans, baie dankie.

  • Miskien moet ons klein mensies vir die blink mannetjie sê dat ons maar self sal besluit waar ons brood gaan koop met ons belastinggeldjies. Dan skenk ons vir artikel 18 geregistreerde instansies soos skole wat nou nog nie skoolboeke het nie die boeke, subsidieer kleuterskole vir kinders wat nie kan betaal nie en skenk vir welsyn-instansies 'n geldjie sodat hulle nie die een na die ander hoef te sluit nie of nog beter ons staan saam en volg die voorbeeld van Ouma Lena se huis, begin 'n gemeenskapshuis en trek die geld van ons belasting af.

  • Man Bettina Wyngaard, jou Afrikaans is flippen onverbeterlik! Sekere goed kan net nie so komies in enige ander taal gesê word nie. Ons, die belastingbetalers, is al arm aan belasting betaal en die straat blý 'arm'. Kry sommer die minister van gesondheid om geboortebeperkingmaatreëls op die telers af te dwing. Dáár IS NIE werk nie en soos dit aangaan, al hoe minder werksgeleenthede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top