Breytenbach wen top internasionale toekenning

  • 4

Breyten Breytenbach (Foto: Tessa Louw)

Breyten Breytenbach is aangewys as die wenner van die 2017 Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning. Breytenbach, ’n Suid-Afrikaanse digter, skrywer en kunstenaar, was vir etlike jare ’n politieke gevangene tydens die apartheidsera en het deur middel van sy skryfwerk verset getoon teen die regering van die dag. Die prys sal tydens ’n formele seremonie in Warskou op 25 Mei aan Breytenbach oorhandig word.

Die Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning is ’n internasionale literêre eer, vernaam op die gebied van die poësie. Dit word sedert 2013 jaarliks toegeken vir uitstaande kunswerk en intellektuele prestasies gekoppel aan die Poolse skrywer, digter en moralis Zbigniew Herbert.

Volgens die beoordelaars, ’n paneel wat bestaan uit internasionale digters, skrywers en essayiste, herroep Breytenbach se oeuvre Herbert se woorde: “Let the anger of the powerless be like the sea / whenever you hear the voice of the humiliated and beaten.”

Breytenbach het die toekenning as ’n besonderse voorreg beskryf. “Dis inderdaad ’n besonderse voorreg om ’n toekenning te kry wat die naam dra van so ’n groot Europese gees en intellek – digters se 'digtershart' (so sou die meeste digters Zbigniew Herbert as denker en kreatiewe mens koester) – en soveel te meer so omdat dit toegeken is deur ’n jurie van heel uitsonderlike woordmense. As brak uit die buiteveld sal ek maar tjoepstil bly in sulke luisterryke geselskap. ‘Groot honde’ het lang skaduwees oor daardie werf gegooi. Ek verwys nou na vorige pryswenners soos, oa, William Merwin, Charles Simic en Lars Gustafson ... So ek sal maar wye draaie draf en hoop hulle kom nie agter hulle het per ongeluk die verkeerde ou nader genooi nie. Ek is dankbaar en bly namens almal wat in Afrikaans skrywe.

Want dis tog insiggewend dat een van die jurielede, Joeri Androekhowietsj van Oekraïne, met die bekendmaking van die toekenning daarop gewys het dat Afrikaans tans met uitwissing bedreig word. Ek sou kon byvoeg dat hierdie totaal sinnelose taalmoord gerasionaliseer word deur die heldhaftige Afrikaansveragtende Stalinistiese pragmatiste aan bewind by die Joenewersitie van Kakiebosch.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van NB-Uitgewers, het beklemtoon dat dit ’n merkwaardige prestasie is: “Dié prys bevestig weer Breyten Breytenbach se internasionale statuur en die verweefdheid van sy oeuvre in ’n internasionale netwerk van poësie en verset. Dit bevestig ook die aansien van Afrikaans as literêre taal op die wêreldverhoog. Ons is saam met ons skrywer trots op hierdie welverdiende en betekenisvolle erkenning!”

  • 4

Kommentaar

  • Dat twee uiteenlopende broers nou soveel vir Afrikaans beteken het is merkwaardig.
    Dankie Jan! Dankie Breyten!
    Die stryd duur voort. Die slagveld het nou báie naby gekom ... tussen ons!

    Plaasmoorde, die grootste Afrikaanse universiteit in Pretoria, plaasmoorde, nou ook Kakiebosch en nog plaasmoorde.

    Julle twee broers het nog baie werk voor ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top