"Brexit" van Afrikaans kan studente en skoliere laat onderpresteer

  • 14

Danie van Wyk (foto verskaf)

Die afskaling en inderdaad afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan histories Afrikaanse universiteite herinner my aan die onlangse Britse referendum en die besluit om die Europese Unie te verlaat.

'n Dag later het die Britte die ware impak van hul onbesonne besluit besef, nie net op die politiek en die ekonomie nie, maar ook op die rol van die Verenigde Koninkryk in die internasionale wêreld. Dit was 'n besef dat jy nie die spreekwoordelike baba met die badwater kan weggooi en later die water kan probeer herwin nie. So 'n besluit is dan onomkeerbaar tot nadeel van die breë gemeenskap.

Die implikasie van die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan die histories Afrikaanse universiteite is soortgelyk op medium tot lang termyn. Dis 'n besluit wat vorentoe betreur gaan word en waarvan ons die wrange vrugte vir lank nog gaan pluk. Boonop gaan die afskaffing van Afrikaans nie noodwendig lei tot die verbetering van onderriggehalte in ons skole of universiteite nie. Veral swart leerders vaar swak en het 'n enorme agterstand omdat hulle swak presteer in Engels, wat vir hierdie benadeelde groep 'n gedwonge medium van onderrig is.

By die bekendmaking van die toppresteerders in wetenskap en wiskunde deur die Minister van Basiese Onderwys in April vanjaar het dit geblyk dat die Wes-Kaap skoonskip gemaak het by hierdie jaarlikse toekennings vir uitnemendheid in verlede jaar se Nasionale Seniorsertifikaateksamen. Die toekennings is oorhandig aan onderwysdistrikte en skole van dwarsoor die land. Veral in die kategorie vir prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap het die Wes-Kaap kop en skouers bo die res van die land uitgestaan.

Die onderwysdistrikte Eden/Karoo, die Kaapse Wynland en die Overberg het die eerste, tweede en derde plek vir prestasie in wiskunde en wetenskap tussen 2012 en 2015 ontvang. Hierdie distrikte en skole is almal in Afrikaanse gemeenskappe geleë, 'n verdere bewys van die voordeel van moedertaalonderrig. Die Minister het dit met groot fanfare aangekondig, maar het skromelik nagelaat om te erken dat hierdie skole funksionele, presterende Afrikaanse skole is, bruin Afrikaanse skole ingesluit, omdat hulle die belang van moedertaalonderrig besef.

Wat die US moet besef, is dat die Wes-Kaap oor die meeste Afrikaanse skole in die land beskik. Daar is 658 Afrikaans enkelmediumskole in die Wes-Kaap, waarvan 457 parallel- en 145 dubbelmediumskole is; die res, 217, is Engels-mediumskole uit ‘n totaal van 1 457 skole. Dit is heel moontlik die rede waarom die Wes-Kaap in die 2015- matriekeksamens die beste gevaar het. Die taaldemografie in die Wes-Kaap regverdig dus die aanvraag na Afrikaans as onderrigtaal aan die US, anders as wat die geval is in die res van die land. Dit is hierdie skole wat jaarliks Afrikaanse studente aan die US kan lewer. Die voorsiening van en toegang tot gehalteonderrig vir alle kinders in Suid-Afrika rus op die skouers van elke individuele skool en universiteit. Die verantwoordelikheid lê by Afrikaanse ouers om daarop aan te dring dat hul kinders in hul moedertaal onderrig word.

My vraag aan histories Afrikaanse universiteite wat Afrikaans afskaal en selfs afskaf is: Het julle hierdie statistiek in ag geneem voordat julle drastiese besluite oor die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal geneem het? Dit wil voorkom asof hierdie kortsigtige besluite, wat nie die breër Afrikaanse gemeenskap dien nie, hoofsaaklik polities-ideologies of heel moontlik besigheidsgedrewe was.

Om Afrikaans op alle kampusse af te skaf en Engels die verstektaal te maak, werk nie transformasie in die hand nie. Dit beteken slegs dat daardie studente wat van huis uit Engels is, die grootste voordeel trek. Taal is een van ons land se grootste bates. Ons moet dit aanwend om van Suid-Afrika 'n wenland te maak, 'n baken van hoop op die vasteland van Afrika.

Die Suid-Afrikaanse onderwysowerhede, of dit nou hoër of basiese onderwys is, moet ophou om met onderwys te eksperimenteer ten koste van leerders/studente. Uitkomsgebaseerde onderwys was so 'n eksperiment wat klaaglik misluk het en duisende kinders skade berokken het. Ons kan nie bekostig om voort te gaan op hierdie trant waar besluite polities-ideologies gedryf word in plaas van op grond van suiwer opvoedkundige oorwegings nie. Nog so 'n eksperiment is dat die staat mediese studente teen groot onkoste na Kuba stuur vir opleiding. Die eerste studiejaar word bestee om Spaans onder die knie te kry, waarna die werklike studie 'n aanvang neem. Is dit ook ‘n eksperiment wat die staat oor 'n jaar of drie sal moet staak?

Suid-Afrikaanse universiteite vaar swak op internasionale ranglyste. Ons sal iets drasties moet doen om ons basiese onderwys te verbeter sodat ons universiteite daardeur versterk kan word. Ons kan nie bekostig om ons kinders weer te faal nie. Ons moet die eksperiment van Engels-eentaligheid aan ons skole en universiteite stopsit voordat ons deur die gevolge van onbesonne en onomkeerbare taalbesluite getref word.

 

Danie van Wyk

Bestuurder: Wes-Kaap

Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 14

Kommentaar

  • Danie van Wyk lewer 'n baie belangrike bydrae met hierdie uitstekende artikel. Brokke inligting soos bv "Die onderwysdistrikte Eden/Karoo, die Kaapse Wynland en die Overberg het die eerste, tweede en derde plek vir prestasie in wiskunde en wetenskap tussen 2012 en 2015 ontvang. Hierdie distrikte en skole is almal in Afrikaanse gemeenskappe geleë, 'n verdere bewys van die voordeel van moedertaalonderrig. "...dat hierdie skole funksionele, presterende Afrikaanse skole is, bruin Afrikaanse skole ingesluit, omdat hulle die belang van moedertaalonderrig besef." is insiggewend en vindingryk.

  • Dis alles ideologies gedrewe. Dikwels hoor ons nog die uitspraak dis die taal van die onderdrukker. Ons moet ons self die vraag afvra wie onderdruk nou en in watter taal. Ons leef nog te veel in die verlede en sien nie dat moedertaalonderrig die antwoord is nie. Soos uitgewys deur baie kenners as ons al ons moedertale ontwikkel sal ons beter vaar op ekonomiese en sosiale gebied. Maar née die ore is toe en ons strompel maar voort.

  • Johannes Comestor

    Ek dink nie die Britse besluit om die Europese Unie te verlaat was onbesonne nie. Daar word na Suid-Afrikaanse mediese studente verwys wat Spaans in Kuba leer. Hieruit kan die gevolgtrekking gemaak word dat dit goedkoper en meer prakties sou wees as hierdie studente eerder verplig word om plaaslik Afrikaans te leer en daarna medies te studeer. In Suid-Afrika is Afrikaans immers meer bruikbaar as Spaans. Die Universiteit Stellenbosch en ander eens Afrikaanse universiteite pluk nou die vrugte van transformasie. In die vorige eeu was daar nooit vergelykbare chaos, ontwrigting en saakbeskadiging op daardie kampusse nie. Nog nêrens het ek gelees dat gevra word waarom die misdadige studente nie die demografie weerspieël nie. Van verskoning vra vir hulle gedrag is daar ook nie sprake nie. Gwede Mantashe stel voor dat al die plaaslike universiteite ses maande lank gesluit word. Dit is 'n tipiese ANC-reaksie. Hy dink net aan die swart studente wat nie erns met hulle studie maak nie; nie aan bv die blanke studente vir wie studie erns is en wat hulle studietermyn so kort moontlik wil hou nie.

  • Dankie Danie vir hierdie mooi logiese argument, met opvoedkundige beginsels as basis, ten gunste van die behoud van Afrikaans as akademiese taal by sommige universiteite. Met ons land se geskiedenis wat deurdrenk is met die herhaaldelike pleging van sinneloosste onregte teenoor weerlose landsburgers, wat so kortsigtig is dat dit neerkom op selfskending, verras hierdie redelose en berekende ontafrikaansing van ons tradisioneel Afrikaanse universiteite my geensins. Hierdie is 'n selfvernietigende "tit for tat"- speletjie op die wysie van politieke korrektheid, waarin daar geen wenners gaan wees nie. Met jou argument op rekord kan hul nooit sê dat hul nie geweet het nie en dat die gemors wat gaan volg onbedoelde gevolge is nie.

  • As ek 'n klein regstelling mag maak, sonder om van die breë boodskap te verskil: Uitkomsgebasseerde onderwys het nie misluk nie, dit is onsuksesvol geïmplementeer. Waar dit suksesvol geïmplementeer is, werk dit wonderlik.

  • Maureen Le Roux

    Dit gaan die begin van die einde wees. Dit is so jammer dat Engels (wat die "Colonials" dan nou gebring het onderigtaal gaan wees. Hulle breek alle standbeelde en enigiets wat aan daardie era behoort af, maar nou moet Afrikaans ook gaan. Hartseer. Ek is Engels.

  • Ek en jy skryf in vir 'n kursus. Ek is Afrikaans en jy is Sotho. Ek kry my lesings in Afrikaans (moedertaal), jy kry jou lesings in Engels maar jou moedertaal is Sotho. Jou vermoë in Engels as 'n tweede taal is beter as Afrikaans as gevolg van hoe jy skool gegaan het. Wie van ons twee word bevoordeel bo die ander?

  • Danie, boeiend man, boeiend!
    Uitstekend, geniaal! Baie dankie, jy's befonk!
    Ek is trots om saam met jou deel van die Afrikaanses te wees!

  • Breyten Breytenbach

    Maar hoekom dan, liewe Danie van Wyk - hoekom, met al hierdie suiwere insigte in die onherstelbare skending en skade wat die ontkenning van moedertaalonderrig op skool gaan berokken, en reeds doen by 'n universiteit soos dié van Stellenbosch - hoekom dan wil voortgaan om die soetkoek wat Wim de Villiers en sy pandoers vir julle 'vertroulik' voorsit te wil eet?

  • Wilhelm Fourie

    Daar is eintlik niks meer om by Breyten se uitstekende kommentaar te voeg nie!

    Net die volgende: Wim de Villiers reageer slegs omdat sy vorige misagting van die drukgroep (waarby Danie van Wyk betrokke is) ook in die huidige hofsaak genoem word. Dit is jammer dat so 'n koelkop-denker soos Danie vir Wim se soetkoek val!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top