Brand: ’n onderhoud met Peet Venter

  • 0

Brand
Peet Venter

Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799386141

Skrywers oor hul nuwe boeke. Peet Venter gesels met Naomi Meyer oor sy boek Brand.

Peet, baie geluk met die verskyning van Brand, ’n boek waarvan die tema besonder aktueel is. Wil jy dalk kortliks opsom waaroor die storie handel?

Die kernverhaallyn gaan oor die politieke riller waarin ons land haar bevind. Die pres en sy kliek besef hulle tyd om te roof raak min, maar hulle wil so lank as moontlik aan die mag klou. Hulle beraam ’n makabere plan om die reeds gespanne toestand in die land uit te buit en dit onregeerbaar te maak. Dan kan hulle ’n noodtoestand afkondig, die weermag ontplooi, die parlement ontbind en die grondwet opskort. Krige raak deur die geheime eenheid waaraan hy verbonde is betrokke. Hy kom gou agter dat hy met magtige mense te doen het wat nie huiwer om dood te maak ten einde hulle doelwit te bereik nie. Dit raak persoonlik vir hom toe die twee mense met wie hy saamwerk koelbloedig vermoor word. Met die hulp van Delaré Brand, ’n rekenaargenie, ontrafel hy die komplot en kom so agter dat Sjina ’n hand daarin het omdat dit hulle Imperialistiese planne pas. In die verband trek ek ’n vergelyk tussen staatskaping waarop almal so gefikseer is, terwyl sagte kolonisasie stilweg ongehinderd voortgaan agter die skerms van BRICS-handelsooreenkomste wat veral Sjina en Rusland se ekonomiese greep op Suid-Afrika verstewig. 

Ons weet soms is feite en fiksie nogal naby aan mekaar. Wat was vir jou die prikkel vir die roman?

Die verval van basiese onderwys, gesondheidsdienste. Marikana. Die fiasko rondom staatstoelaes. Life Esidimeni. Vra jouself af hoeveel die mense in beheer voel vir die swaarkry en lewens van gewone mense. ’n Mens kry die indruk dat dié wat aangewese is op staatsbystand vir hulle net ’n lastigheid is. Toe vra ek myself die vraag af, as hulle so behep is met hul selfverryking, hoe ver sal hulle gaan om in ’n posisie te bly waar hulle kan aanhou roof?

Het jy, soos wat hierdie jaar gevorder en sekere dinge aan die lig gekom het, terugwerkend aan jou roman verander? Of was dit waaroor jy geskryf het toevallig, en het dit so gebly soos wat jy dit uitgedink het?

Nee, ek het niks verander nie. Soms het ek gewonder of ek nie te veel waag nie. Maar die feite is daar. Toe, terwyl Brand al in produksie was, ontplof Jacques Pauw se The Presidents keepers. Dit het my nogal gekielie waar dit lekker is.

Hier is meer as een storielyn, ek het na die primêre storielyn verwys met my tweede vraag. Dan is daar ook Thys Krige se persoonlike lewe. Vertel my asseblief van jou hoofkarakter.

Krige erf skatryk toe sy pa wat deur min of meer mafia-praktyke ’n fortuin opgebou het vermoor word. Hy was toe in sy laat tienerjare, kon met sy erfenis enigiets word, maar besluit om by die speurdiens aan te sluit om die onopgeloste moord op sy pa te ontrafel. Uit ontnugtering met die regstelsel en die geleidelike verval van wetstoepassing, wend hy hom tot onortodokse metodes wat hom in onguns bring. Hy verlaat die speurdiens en raak betrokke by ’n geheime eenheid wat juis daarop ingestel is om reg te maak waar die regstelsel faal. Hy is nie die suipende, fuifende stereotipe nie, maar ’n stil en komplekse karakter wat sukkel met menseverhoudings en wroeg oor die geweld en bloedvergieting wat vir hom ’n lewenswyse geword het. Hy kan nie ophou nie, want hy is reeds te diep in; daar is gevaarlike mense wat sy bloed soek. 

Hierdie boek is die vyfde boek in die reeks oor Thys Krige. Wil jy dalk kortliks vir lesers inlig omtrent die vorige boeke, sodat hulle ’n agtergrond hieromtrent kan kry ingeval hulle afskop met hierdie een?

In Dieper as die bloed, is Krige nog in die speurdiens. Hy kry te doen met ’n geheimsinnige karakter terwyl hy op ’n reeksmoordenaar se spoor is. Die moordenaar raak in die media bekend as die Roosmoordenaar omdat hy - of is dit dalk ’n "sy"? -  ’n wit roos by sy slagoffers laat. Die geheimsinnige karakter weet klaarblyklik baie van Krige. Hy bel knaend met raaiselagtige wenke oor die moordenaar en skimpe dat Krige dieper as die bloed moet kyk en liewer op die ou bloed konsentreer.

In Ou bloed ondersoek Krige die moorde op twee pedofiele. Twee meisies in hul vroeë tienerjare raak ook weg. Hy besef die moorde en verdwynings hou verband. Weer kry hy met die geheimsinnige karakter te doen wat hom gaandeweg lei na ’n internasionale netwerk van kindersmokkelaars. Dit is duidelik dat die man baie daarvan weet. Die nag toe Krige die kindersmokkelaars vastrek, skiet hy onder andere ’n vreemdeling voor hy besef die man help hom eintlik. Toe die sterwende man met hom praat, herken hy die stem van die geheimsinnige karakter wat hom so knaend gebel het. Dit kom aan die lig dat die man die twee pedofiele vermoor het en dat dit Krige se halfbroer is van wie hy nie geweet het nie. Ook dat sy halfsuster, Karen, vyftien jaar tevore ontvoer is toe die kindersmokkelaars, wat hy pas doodgemaak, het sy pa vermoor het.

In Waar boosheid broei, is Krige uit die speurdiens. Hy het ’n verhouding met ’n joernalis, Robyn Arendse, wat ’n reeks artikels skryf oor kinderhandel wat ongemaklik begin raak vir sekere mense. Sy kry dreigemente om dit te staak. Op versoek van ’n kennis, gaan Krige na Harare om die onregmatige aanhouding van ’n Suid-Afrikaanse joernalis deur die owerhede te ondersoek. Hy kom agter dat die joernalis ’n massamoord ondersoek het; ’n hele nedersetting kleinboere is uitgeroei omdat hulle geweier het om pad te gee van die grond waar diamante ontdek is. Krige krap ’n komplot oop wat hom teruglei na Suid-Afrika en gevolglik na sleutelfigure wat destyds betrokke was by sy halfsuster se ontvoering. Hulle ontvoer Robyn Arendse na ’n afgeleë plaas in die Waterberg. Krige gaan om haar te red, maar sy kom om in die skietery.

In Plasenta soek Krige die spoor van sy ontvoerde halfsuster, Karen. Die probleem is, hy weet nie of sy nog leef nie; dit het meer as vyftien jaar gelede gebeur. Hy weet bitter min van haar. Al wat hy het, is ’n foto van ’n meisie in haar vroeë tienerjare. Hy kom op die spoor van ’n middelman in Maputo wat die verskeping van ontvoerde kinders uit Suider-Afrika na die Midde-Ooste gefasiliteer het. Die man, sterwend en nie meer in die besigheid nie, vertel hom dat Karen soos ’n prinses in weelde op Ciprus leef as die dogter van ’n Turkse smokkelsindikaatbaas. Sy poging om haar daar uit te kry loop uit op bloed en geweld, maar hy slaag tog daarin om haar te red.

Het jy aanvanklik beplan om ’n hele reeks te skryf, toe jy begin het met die eerste boek?

Dis nou hier waar die spreekwoordelike lat vir jou eie dinges pluk so tekenend ter sprake kom. Nee, ek het nie. ’n Opvolgreeks is problematies. Hoeveel kan ’n mens na voorafgaande boeke terugverwys sonder om die storie basies te herhaal? Dis ’n wetter. Deur Karen in die storie te bring, het ek daarin getrap. Ek kon haar eenvoudig nie net eenkant toe skuif nie. Maar in Brand het ek dit nou reggekry om haar deel af te rond. Almal weet nou waar almal staan. Uitgesorteer. En om sommer nou jou vraag te antwoord, nee ek weet nie of daar nog Thys Krige-stories gaan wees nie. Miskien. Miskien nie.

Kan jy iets van jou skryfproses vertel – beplan jy tot die einde, skryf jy dan chronologies, hoe gaan jy te werk?

Ek werk nie volgens ’n raamwerk nie. Dis te beperkend. Die storie is in my kop. Ek kou ’n ruk lank daaraan, dan kom sit ek voor my rekenaar en begin bloei. Basiese navorsing doen ek vooraf om seker te maak die storie kan werk, dan doen ek detailnavorsing wanneer nodig soos ek vorder.

Waarom spanningsromans? En ontvlug lesers daarmee (en ook skrywers), dink jy? Of lewer die boeke ook doelbewus sosiale kommentaar? Praat asseblief met my oor die genre waarbinne jy skryf.

Apartheid was ’n onvergeeflike lelike ding. Mense is gemarginaliseer en eenkant toe gestoot. Maar feit bly staan; die mense wat vandag aan bewind is, het ’n land oorgeneem wat gewerk het en dit in minder as twee dekades gebreek. Ek is hartseer en kwaad. Ek wil mense seermaak. Die genre waarin ek skryf is ’n uitlaatklep vir my. Anders weet ek nie ...

Watter boeke geniet jy om te lees?

Ek lees wyd; fiksie en aktueel. Dis moeilik vir my om uitsonderings te maak, maar veral wat fiksie betref, het ek kieskeurig geraak. Vroeër jare het ek my verdiep in Hugo se Les Misérables, Ayn Rand se Atlas Shrugged, King se IT. Boeke so dik soos telefoongidse. Deesdae, as ek ’n boek se eerste twee bladsye gelees het en ek kan dit net so goed in twee paragrawe sê, dan sit ek hom neer. Ek hou van John Connolly, Peter Temple. Thomas Harris se Hannibal-stories is meesterstukke. Maar ons het ook uitstaande Afrikaanse skrywers. Ek geniet name soos Irma Venter, Madelein Rust, Martin Steyn en Deon Meyer, om maar net ’n paar te noem.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende boek?

Ek werk aan een. Vyf, ses ander spook hier in my kop vir ’n vale.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top