Brak

  • 2

Na haar begrafnis was daar dae wat ek ook my kop wou wegblaas.

In die voorportaal van die huis wat ons gedeel het, in die muwwe skemer voor die spieël wat al vergeel het, soek ek meermale na die presiese sneller in die beeld wat vir my terugstaar; ek is nou veel ouer, maar dieselfde trekke as destyds het gebly. ’n Ongetemde baard, ’n hangerigheid in my skouerknoppe, my heupbeen wat skuins met my voete belyn, die skopgrawe langs my sye wat as hande dien. My klere skiwwerig en verflenterd. My somtotaal is bruusk, dalk selfs barbaars.

Oor hoe ek lyk?

Nee. Sy was nie nét fisies gevat nie. Ek onthou haar hande wat papawerblomme vertroetel waar sy haarself tussen die opskiet langs die spruit neervly, of haar glimlag wanneer lammers melkbottels uit haar hande stoei – hoe sy wegstap tot anderkant die kliprantjies as ons osse na die slagpale lei. Later bewerk sy die vleis soos ’n voorslag. Fyngevat, maar nie fyngevoelig nie.

Wat was dit dan wat haar na daai desperate bevryding laat gryp het en hoe lank kan ’n enkele namiddag by ’n mens spook?

Hy moes ’n ruk daar gestaan het, want toe die diep bariton van die voorman se stem deur die stilte sny, het hy alreeds tyd gehad om sy hoed af te haal en die bondel sleutels uit sy sak te vroetel.

“Al die werktuie is weggebêre.” Hy hou verskonend die bossie na my toe uit.

“Sit neer op die tafel,” beduie ek in die wegloop. “Sien jou môreoggend, Jakob.”

Dan neem die huis weer sy stilswye op.

So alleen op die plaas, dink ek later as ek na die plafon staar. Iewers roep ’n patrys. ’n Kalf balk vir sy ma. Die seisoene hou pligsgetrou by hul marsjeerorde. Dit beteken deesdae vir my min. Die herfs kom maar saam met die son se flouer strale oor die rantjies aangekruip en die lente se aankoms word maar aangekondig deur die groen spriete wat deur die omgedopte sooie na bo reik.

Hoe gebeur dit dat één middag die dae en weke en maande aaneen kan laat smelt tot daar naderhand net jare agter jou oorbly? Ons ploeg. Ons saai. Die ooie lam. Die vrugtebome bot. Alles vermeerder, word oud, sterf af, word weer gebore. Is dit my lot ook? Om, soos die res, afgeslyt, omgedolwe en verskrompel te word. Die werktuie gaan nie vir altyd hou nie. Ek ook nie. Ek is alreeds oud: ’n keep skei my wenkbroue wat nou grys vertoon en my voorarms wys rimpels en lewervlekke soos dorpe op padkaarte. My oë het verswak, my rug boog en dele van my wat eens soepel was, het verstyf.

Dit het alles gebeur op die maat van die swaaiarms van die groot klok in die voorhuis. Die een langs die spieël waarin ek na haar soek. Na ’n antwoord soek. Asof iemand van uit die donker hoeke na vore sal tree om my te groet nes ek die laaste stof en die modder en die ghries en die bloed en die stront van die dag se taak van my hande skud.

Natuurlik groet niemand my nie, want sy is weg.

Ek droom van haar. Weer.

Daardie middag was ook maar soos enige ander: die werkers het my by die trekker ingewag, die melk was alreeds in die stoor gekan, hooi op ’n vurk gelaai, sout en lek op die laaikant van waens, ’n voorloper gestuur om die Afrikaners te vind.

En toe: die bediende wat skreeuend oor grasveld snol.

Ek kan nie uitmaak wat sy sê nie; sy hou haar hande voor haar mond. Slegte nuus? Beslis. Rooijakkals? Muskeljaatkat? ’n Kind wat geval het? ’n Werker wat homself beseer het? ’n Adder by die agterdeur. Brand! Maar, nee.

“Die mies! Die mies! Die mies!”

Geen verduideliking nie.

Sy was weg.

Net die stilte bly vir my oor en met tyd word die wêreld vir my stom. In die skeure van die klowe en oor die ooptes van die blou lug, waar die stroompie onder die wilgers kartel en bo die graan wat geil staan en waarom die valkies sweefhang, en selfs onder die besies se alewige gegons hoor ek naderhand niks meer nie.

As ek die plaas verkoop en dorp toe trek, val ’n juk van my skouers af, dink ek.

Toe nie.

Die dorpshuis was smal en nougeset en gou mis ek die wye gange van die huis met sy kraakvloere en die voorstoep waaroor moeë vensters soos oë oor die ooptes tuur tot waar die skielike afplatting in die sandsteenkoppe van koppie na kloof dein.

Hier was net strate en huise en karre en mense.

En, natuurlik: sy bly nie op die plaas agter nie.

Ek verbeel haar oral.

Soms is dit die murmurering van die waterpype deur die dun mure. Soms die vreemde klanke wat ek nie aan die televisiestel kan toeskryf nie. Soms het my eie gedagtes klank in my ore geword. Ek begin ’n stem te hoor. Dalk sy?

Ek het vir haar vlietende spieëlbeeld in blink oppervlakke gesoek of haar silhoeëtte in die skadu’s probeer uitwys, maar ook hier op die dorp het ek gevind: sy was weg. Dit was net haar stem. Het ek haar dan verbeel? het ek verdwaas gewonder. Ek kon sweer sy rig woorde aan my van anderkant die doodsmuur.

“Jy hoort nie hier nie. Kom weg.” Of: “Hoekom luister jy nie na my nie?”

Ek redekawel met haar.

“Het ek mal geword?” vra ek.

“Nee.”

“Hoekom het jy dit destyds gedoen?”

“Dit maak nie nou meer saak nie.”

“Wat soek jy hier, wat soek jy van my af?”

“Ek gee vir jou om. Jy hoort nie hier nie. Jy moet wegkom.”

“Waarheen? Ek kan nie net swerf nie!”

“Jy moet hier wegkom.”

“Ek is oud en kranklik. My lewe is gedaan. Vir wat sal ek iewers heen foeter?”

“Jy moet hier wegkom.”

“Ek is bang.”

“Ek weet.”

“Waarheen sal ek gaan?”

“Enige plek, net nie hier nie.

Sy hou nie op nie. Uiteindelik koop ek ’n Volkswagen wat soos ’n padda lyk en boks die nerfies klere en die paar besittings wat ek naby aan my skat op die agterste sitplek. Die gordyne los ek dig. Die voor- en agterdeur gesluit. Padkos in foelie gevou.

As Merriespruit, en later Virginia, in my truspieëltjie wuif, dink ek vir ’n oomblik dat ek die plek geensins sal mis nie. Haar stem vervaag met die kilometers.

Dit is Februariemaand 1994; daar is verandering in die lug. Afwagting en senuknope ook.

Nie vir my nie. As ek deur Winburg ry, draai ek die ruit af. Ek voel meteens vry.

Jakkalsfontein. Marquard. Clocolan. Sandsteenkerke, wye strate, sipresse en aalwynbome, mielielande, langstertflappe. Ficksburg waar ek stop.

Waarheen nou?

Die dorp het vaal strate, groen akkerbome, huise van klip, banke, winkels en pap heinings.

Ek staan verdwaald terwyl die joggie die tenk opvul.

“Gaan oom see toe?” vra hy.

“Dalk,” antwoord ek ietwat nors.

“Bly net op Hospitaalstraat, Oom. Hy vat jou reguit uit die dorp uit en dan hou jy op die R26 tot in Bethlehem, daarna Harrismith,” gee hy raad sonder dat ek vra.

Die see. Wanneer laas het ek die see gesien? Hét ek ooit?

“Watter rigting nadat ek Harrismith bereik?”

“Regs op die N3, Oom. Hy vat jou tot in Durban. Of oom kan verby Sterkfonteindam ry, daar is ook ’n pad wat see toe gaan.”

Hospitaalstraat vind ek met gemak. Op die buitewyke van die dorp moet ek uitswaai; daar dwaal ’n hond in die pad. ’n Patetiese dingetjie met stekelhare en ’n grys baard om haar snoet. Vermaerd. Snuffelend oor die teer vir iets om te aas. Haar bakore spring orent en sy benader my met geboë kop as ek uitklim en op my hurke vir haar wys dat sy moet kom.

Ek dra haar tot op die skouer van die pad. Die Webley lê onder die voorste sitplek. Ek kan haar nie laat ly nie. Senuagtig lek sy aan my hand, asof sy weet wat agter my yl hare, blougekringde oë en geplooide voorkop aangaan. Haar tong is vleespienk en klewerig. Sy moet dors wees. As ek die bottel water in die kar gaan haal, dink ek weer aan die Webley. Daar is vyf van die ses koeëls oor.

Sy drink gulsig uit my gebakte hande. Lek weer oor my duime en beduie dan met haar poot. Sy wil opgetel word. Ek kyk haar oor, weeg my opsies. Vlooie, beslis. Siek, dalk. Sy kort ’n bad. Kos ook. Die rewolwer sal ’n gat dwarsdeur haar skiet, mits daar enigsins iets van haar sal oorbly.

’n Lorrie snel verby. Sy krimp ineen; glip uit my hande en skiet verward in ’n rigting. Ek keer haar net betyds.

Die verbeelde karkas is vir my té bekend. Ek laai haar op.

Vir eers krul sy in die voetholte van die passasierskant; beloer my sylangs. Die konstante geluier van die Volkswagen se enjin en die lang, reguit paaie sus haar mettertyd aan die slaap. By Oliviershoekpas begin die pad te kronkel en te val. Sy spring tot op die leersitplek. Met ’n tong wat skeef hang, bespied sy die wêreld. Dennebome, bergvarings, rotshange, kronkelende afdraaipaadjies, trokke en toeriste vlieg haar verby. Met tye kyk sy my vlugtig aan.

In die laaglande, duskant Bergville, stop ek by ’n sementtafeltjie wat tussen twee bloekombome geplant is. Ek swaai die deur oop. Sy bly sit. Ek eet van die padkos en voer vir haar morsels. Sy gryp dit vinnig uit my hand uit, sluk dit sonder om te kou.

As ons vertrek, laat ek die ruite op ’n skreef afsak.

Op ’n stadium kruis die pad met die nasionale roete na die Indiese Oseaan. Reguit aan is die slagvelde van die Natalse Middelland. Ladysmith. Spioenkop. Bloedrivier.

“Watter pad sal ons kies, Nooi?” vra ek haar.

Ek skrik toe ek my eie stem hoor. Voel verspot ook.

Dan spring sy tot op my knieg en lek my in my gesig.

Ons het lank by die kruising gesit.

Die aand slaap ons in ’n gastehuis in Colenso. Ek smokkel vir Nooi by my kamer in. Ek moet haar daarna by elke stopplek uittel en saamdra; sy klim nie vanself uit nie en nog minder volg sy my, maar in my arms protesteer sy ook nie.

Van Kranskop af volg ons die R74 wat saam met die Tugelarivier slinger tot ons by KwaDukuza uitspoel. Ek bel vooruit vir slaapplek.

Ons bereik ons bestemming saam met die son se laaste strale wat oor die Amatikulu-riviermond val. Die vet rivier kronkel tussendeur die Middelland van Natal tot waar dit onderdeur die melkhoutbome tot in die warm Indiese Oseaan uitvloei. Soos ’n luislang wat in die suikerriet wegkruip, sal jy van die rivier bewus wees net as jy van hom weet. Klam seelug klou aan my boarms. Sy kyk bekommerd toe ons deur die ruigte van die beboste duine tonnel. Dit is vir haar ook vreemd.

“Toemaar, toemaar, ons is amper daar ...” paai ek haar.

Tussen die wildepiesangbome en seepbessies voel dit nog meer bedruk. Op plekke verdwyn die son heeltemal. Die klammigheid wat aan my kleef, voel nou ongemaklik. Diep binne die woud bring ek die Kewer tot stilstand. Wanneer ek uitklim begroet die ritmiese breek van die branders ons.

’n Wag kom verwelkom ons en beduie na ’n tent wat net-net deur die broodbome gesien kan word. Loopvlakke van hout hang soos oerbrûe tussen die tente en die braaiplekke en ook na ons slaapplek toe. Die planke is klam met mos op die stutpale.

“Toemaar, toemaar, alles sal reg wees … ” praat ek met die bewende bondeltjie in my arms.

Die tent kyk oor die rivier uit.

Die wag trek aan die vensters se ritssluiers en pluk-pluk aan die beddegoed. Binnekant ruik dit na warm plastiek, modder en vis. Twee enkelbeddens word deur ’n riettafeltjie geskei. Gaas hang in slierte oor die beddens. Daar is nie veel te siene nie. Ek plaas met versigtigheid vir Nooi neer. Sy snuif aan als.

Terug by die Kewer begin ek aflaai en uitdra. Ek huiwer vir ’n oomblik, maar dan versteek ek tog die Webley onder my hemp.

Die tent is leeg toe ek met die laaste pakkasie deur die flap tree.

Angs omvou my. Al roepend soek ek oor die loopvlakke en naderhand in die woud en langs die rivier ook af. Ek soek al teen die strand af. Ure later sink die ooglopende by my in.

Nooi is weg en skielik kan ek die woede binne my nie meer onder prop hou nie.

Ek begin te tjank.

Ek is simpel. ’n Sewentigjarige man wat oor die helfte van die land gereis het om op ’n strand te kom ween oor ’n brak wat hy skaars ken.

Terug in die tent vind ek die Webley waar ek dit in haas neergesmyt het.

Is dit hoe dit vir my ook moet eindig?

Dan hoor ek haar weer; bo die gesuis van die massas water en die golwe wat teen die swart rotse klots: ’n gekef van agter die bome wat oor die gras en sand en die golwe na my toe aangehardloop kom.

  • 2

Kommentaar

  • annette le Grange

    Dit is 'n goeie opsomming van soveel sterwelinge op aarde, die lewe en watter kant die "dice" vir jou val in die lewe. Well done! Goeie storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top