Resensie: Jannie du Toit se Bonjour, Monsieur Brel by die Vrystaat Kunstefees

  • 0

Die titel van Jannie du Toit se nuutste Brel-vertoning herinner aan ‘n skildery van Paul Gauguin (Bonjour, Monsieur Gauguin) waarin Gauguin en ‘n Bretonse vrou mekaar oor ‘n heining groet.

Jannie groet Brel gereeld; sy nuutste CD, wat pas uitgereik is, bevat opnames uit verskillende Brel-vertonings deur die jare. Die vier tale waarin hy hulde bring aan Brel in sy nuutste Brel-huldeblyk, Bonjour, Monsieur Brel! en op sy nuutste CD, Jannie du Toit chante/zingt/sings/sing Brel, weerspieël die kronologie van sy ontdekkings.

Soos vir baie Suid-Afrikaners was die Amerikaanse musiekblyspel Jacques Brel is alive and well and living in Paris sy eerste inspirasie. "Amsterdam" en "Tenderness" (La tendresse) is van die Engelse vertalings (onderskeidelik deur Mort Shuman en Brian Rogers) waarmee Jannie sy eerste Brel-periode in die vertoning herdenk. Die CD (wat by die vertonings te koop is) bevat nog ‘n paar Engelse Brel-vertalings, naamlik "You don’t forget" (On n’oublie rien), die klassiek-geworde "The old folks" (Les vieux, in 1963 geskryf vir Brel se eie, bejaarde ouers) en ‘n lied wat waarskynlik veral in die 1970’s en 80’s in Suid-Afrika ‘n waarderende, ingeligte gehoor gehad het, "Next!" (Au suivant!). Dit handel oor ‘n troepie wat gedurende sy militêre opleiding konstant in rye moet staan, ‘n ritueel wat uiteindelik ook sy liefdeslewe beïnvloed.

Ook hierdie lied is deur persoonlike ervaring geïnspireer. Brel moes self  in 1948 sy militêre diens doen, hoewel diensplig in die neutrale klein België van die na-oorlogse jare nie vergelyk kan word met die grensdiens wat Brel se Suid-Afrikaanse luisteraars later moes verrig nie.

Coenraad Rall, Jannie du Toit en Susan Mouton (foto: Ivan Naudé)

Daarna het die Nederlandse vertalings van Ernst van Altena gevolg, asook die ontdekking van digterlike vertalings deur Willem Wilmink (Een vriend zien huilen/Voir un ami pleurer) en Lennaert Nijgh (Liefde van later/La chanson des vieux amants). Jannie artikuleer Nederlands met absolute gemak; veral "Madeleine", "De nuttelozen van de nacht" en die immer roerende "Liefde van later" waarmee die vertoning afsluit, lok groot waardering by die gehoor uit.

Jannie du Toit is in hierdie opsig ‘n baie belangrike skakel tussen Afrikaanssprekende gehore en die Nederlandse kleinkunstradisie. Die sewe vet jare aan die einde van die vorige eeu, toe Nederlandse kleinkunstenaars se gewildheid groot was onder Afrikaanssprekende gehore en toe Herman van Veen die land ‘n hele paar keer besoek het, is vir eers verby.

Jannie is een van die min Afrikaanse sangers wat die Nederlandse taal en kabarettradisie lewend hou op ons verhoë; sy oortuigende Nederlandse aksent en die selfvertroue waarmee hy die klein dramas wat in ‘n goeie Brel-chanson afspeel, vergestalt, is ook die resultaat van gereelde besoeke aan en konserttoere in Nederland en Vlaandere.

Onlangse Afrikaanse vertalings van Brel (deur Naòmi Morgan en Bernard Odendaal) soos "Drinklied" (La bière) en "Die sterwende" (Le moribond) maak ook deel uit van die program. Die CD bevat nog ‘n paar Afrikaanse vertalings, soos die roerende "Jojo" (geskryf vir Brel se beste vriend, Georges Pasquier, wat voor hom aan kanker oorlede is), "My kinderdae" (Mon enfance) asook ‘n bonus-snit van "Amsterdam", voor ʼn gehoor opgeneem in die Brooklyn-teater, Pretoria in 2010.

Jannie sing ‘n hele paar liedjies in Frans, soos "Les prénoms de Paris", die tongknoper "La valse à 1000 temps", "Le prochain amour" en "Quand on n’a que l’amour."

Bonjour, Monsieur Brel! is ‘n energieke vertoning waarin Jannie die hele verhoog gebruik en woorde met hande en liggaamstaal verbeeld. Hy speel ‘n paar liedjies op kitaar saam met sy instrumentaliste, maar soos in die geval van Brel self, is die kitaar soms eintlik net in die pad wanneer ‘n lied gedramatiseer moet word.

Daar is ‘n paar stoele op die verhoog en ‘n tafel met boeke waaruit Brel-aanhalings uit ander liedere en onderhoude voorgelees word, onder andere uit "Ça va, le diable, Il nous faut regarder", "Ces gens-là" en "Les cœurs tendres". Hierdie tekste bevat ‘n sleutelwoord wat die volgende lied aankondig. Die struktuur is weldeurdag en liedjies in verskillende tale en tempo’s wissel mekaar natuurlik af.

Coenraad Rall, Jannie du Toit en Susan Mouton (foto: Ivan Naudé)

Die taalverskeidenheid van die vertoning maak ‘n luukse indruk in hierdie tye van taalverskraling: vier tale (Frans, Nederlands, Engels en Afrikaans) word ondersteun deur kultureel-spesifieke lyftaal wat opmerklik is in veral die Nederlandse en Engels liedjies (soos "Amsterdam", wat Jannie sing in ‘n diep register met ‘n perfekte Britse aksent).

Brel se orkes het ‘n baie spesifieke klank gehad. Sy pianiste (François Rauber en Gérard Jouannest) was altyd die topstudente uit die klassieke konservatoriums. In vergelyking met die Brel-ensemble het Jannie se orkes ‘n nuwe, besondere klank: Die twee musici is die pianis en trekklavierspeler Coenraad Rall en die tjellis Susan Mouton. Rall se uitvoering van sy eie verwerkings van Brel-begeleidings, asook dié van Clinton Zerf, Matthys Maree en Jannie du Toit self, laat die gehoor nuut luister na bekende liedere.  

Rall se sprankelende begeleiding in "Madeleine" herinner aan die interpretasie van gebeure op die grootskerm deur klavierspelers in die era van die stilfilms. Mouton se welluidende tjelloklank voer ‘n empatiese dialoog met Jannie se stem; veral in "Jojo" en "Laat me niet alleen" onderstreep die lang, ekspressiewe note die patos van die situasie wat deur die woorde geskets word.

Hierdie produksie is ‘n afgerond en goed beplan, selfs wat die titel betref, want Jacques Brel is begrawe in Atuona op die eiland Hiva Oa, reg langs die skilder Paul Gauguin.

Brel het die laaste jare van sy te kort lewe (1929-1978) ‘n waardevolle diens aan die plaaslike eilandgemeenskap van Hiva Oa gelewer deur onder meer sy tweemotorige Beechcraft Twin-Bonanza-vliegtuig as ‘n taxi vir mediese noodgevalle beskikbaar te stel. Iets hiervan vind ‘n mens terug in die program van Bonjour, Monsieur Brel!, wat in braille oor die gewone teks gedruk is.

Konsertgangers is genooi om ‘n bydrae tot Blind SA te maak: ses voet diep knik Brel sekerlik goedkeurend sy kop.

  • Naòmi Morgan (Afdeling Frans, Universiteit van die Vrystaat)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top