Uit die argief: Bonaventure Hinwood se see en land

  • 2

Vader Bonaventure Hinwood, of Ted soos hy onder sy vriende bekend is, het my gevra om vanmiddag oor Seevlak tot savanna (Bent, 2008) te praat.1 Die rede is dat die bundel "gedigte oor die natuur bevat". Ek het die uitnodiging onmiddellik aanvaar, aangesien ek oor 'n tydperk van byna 'n kwarteeu met vader Bonaventure se werk vertroud geraak het. My eie belangstelling in en betrokkenheid by die poësie is immers baie deur hierdie literêre vriendskap gevoed. Daarom wil ek begin deur 'n een en ander oor my kennismaking met vader Bonaventure en sy werk te vertel.

Dit gaan terug na die begin van 1986 toe ek 'n besoek aan hom by die Sint Johannes Vianney-kweekskool gebring het. Voor die besoek het ek uit verskillende oorde verneem van die rol wat hy sedert die 1960's gespeel het om aan jong, opkomende digters die geleentheid te bied om hulle werk te bespreek. Die meeste van hierdie digters het in 'n meerdere of mindere mate 'n rol tydens Sestig gespeel. Ek dink veral aan die vernuwende rol wat die prosaskrywers van dié era gespeel het, maar sedert Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en DPM Botes sou ook die poëtiese landskap nooit weer dieselfde wees nie.

In Pretoria lok die "digterlike bidure" onder leiding van vader Bonaventure digters soos Pirow Bekker, Marié Blomerus, DPM Botes, Stephan Bouwer, Phil du Plessis, Louis Eksteen, Jeanne Goosen, Marlise Joubert, Wilhelm Knobel, Wessel Pretorius, Coenie Rudolph, Casper Schmidt, De Waal Venter en 'n klompie ander wat onder meer in tydskrifte soos Sestiger, Izwi, Wurm en Worp gepubliseer het. Behalwe dat hierdie gesprekke sekerlik 'n groot inspuiting vir die literatuur was, lei dit ook tot 'n lewendige kulturele lewe waarby selfs beeldende kunstenaars betrokke was. Hierdie faset moet nog een of ander tyd behoorlik ondersoek word. 'n Mens hoef byvoorbeeld net na die tydskrif Izwi (wat terloops ook sterk bande met Mosambiekse skrywers gesmee het) te kyk om te sien hoe lewenskragtig hierdie wisselwerking was.

Skrywers is nie altyd goeie organiseerders nie en vader Bonaventure het met sy nougesette sekretariële ywer vir gereelde byeenkomste gesorg, waar tekste vir almal beskikbaar was vir bespreking, en waar die geselligheid, wyndrinkery en versnaperings eers moes wag totdat die gedigte ordelik en sober bespreek is. Nou nog getuig van die voorste figure van hierdie era van vader Bonaventure se rol agter die skerms. Al het hy as organiseerder nooit vir homself 'n titel soos voorsitter, president of selfs sekretaris opgeëis of toegeëien nie, was sy invloed formidabel. Vreemd genoeg het selfs hierdie suksesvolle en invloedryke byeenkomste geen formele naam gehad nie. Vader Bonaventure het bloot gesorg dat daar op dit wat belangrik is, gefokus word.

Toe ek hom in 1986 gaan besoek, het ek hom gevra of hy nie weer met die digterlike bidure van enkele jare gelede wil voortgaan nie. Die gesprek het skuins onder die foto van pous Johannes-Paulus II in die sitkamer links van die imposante ingang van die kweekskool plaasgevind. Presies wat ons hierdie dag bespreek het, kan ek nie meer goed onthou nie, maar daar is minstens besluit om weer gereeld byeenkomste aan te bied waar digters mekaar se werk kon bespreek. Die eerste byeenkoms het in Februarie 1986 net daar in die sitkamer plaasgevind en min of meer die vorm van die besprekings van vroeër aangeneem.

Elke maand het vader Bonaventure gesorg dat daar so vier of vyf gedigte van 'n digter is wat hy dan per pos aan die verskillende digters gestuur het. Sy briewe met die mooi handskrif (waarna wyle prof Elize Botha ook 'n keer verwys het) was elke keer iets van 'n verrassing. Die besprekings is om die beurt by die huise van die verskillende digters aangebied. Dan is die gedigte "anoniem" bespreek, maar eintlik was dit gewoonlik 'n ope geheim wie se gedigte aan die beurt is. Al het die skrywers se name ontbreek, het die digter van die gedig wat bespreek word, elke keer kans gekry om sy/haar gedig self te lees, waarna een van die ander deelnemers die gedig nog 'n keer gelees het. Op hierdie manier kon die betrokkenes met die tekste vertroud raak voordat die bespreking begin. Wanneer die bespreking klaar was, het jy dus gewoonlik heelparty wenke gehad oor hoe om jou gedig te verbeter. Al hierdie wenke het jy boonop gratis ontvang!

Vandag, in 'n era waarin byna elke Suid-Afrikaanse universiteit in een of ander vorm opleiding in skeppende skryfwerk aanbied, lyk hierdie werkwyse waarskynlik voor die hand liggend. Twee, drie dekades gelede was sowel die werkwyse as die geleentheid om terugvoer oor ongepubliseerde skeppende skryfwerk te kry egter nie so algemeen nie. Daarom het deelnemers soos ek, Marié Blomerus, Martjie Bosman, Johann de Lange, Henk Havenga, Joan Lötter, Renée Marais, Koos Meij, Marietjie van der Walt en heelparty ander hierdie geleenthede nougeset bygewoon en baie daaruit geput. Van hierdie digters het oor die jare 'n opmerklike bydrae tot die Afrikaanse poësie gelewer.

Met verloop van tyd het heelparty van die oorspronklike groep digters gedros. Waarskynlik het van die ouer digters gevoel dat die jonger digters te voortvarend was en nie genoeg waardering vir hulle werk, wat nog sterk in die gees van Sestig gestaan het, gehad het nie. Vader Bonaventure het my selfs by geleentheid duidelik die Leviete voorgelees: "Jy is nege uit tien keer reg," het hy gesê, "maar jy is soms te skerp in jou kritiek." In ieder geval, van die digters het besluit om liewer nie meer na die byeenkomste te kom nie. Dit het vader Bonaventure nie afgeskrik om tot op hede met die reël van byeenkomste voort te gaan nie. Sedert ek hom aan die begin van 1986 gaan besoek het, het meer as 22 jaar verloop en het die argief gedigte bestendig gegroei!

Vandag vier ons die publikasie van Bonaventure Hinwood se sesde bundel, Seevlak tot savanna, en dit is natuurlik gepas om meer oor die gedigte in die bundel te vertel. Ek doen dit graag, maar wil dit tog weer eens binne die verband van die gereelde digtersbyeenkomste doen. Dit is immers dáár waar ek in die eerste instansie en die intiemste met sy gedigte kennis gemaak het en nog maak - veral omdat my eie ervaring van sy gedigte juis binne daardie kritiese, besprekende en waarderende ruimtes van 'n aantal Pretoriase sitkamers plaasgevind het.

Tydens hierdie gesprekke het een en elkeen van ons mekaar se voorkeure, hebbelikhede en benaderings leer ken. Van die begin af was dit vir my duidelik dat vader Bonaventure 'n besondere oor vir die po?sie gehad het. Dit het hom klankpatrone in gedigte laat raaksien wat by my verbygegaan het (selfs in my eie gedigte!) en trefseker die vinger op swak ritme in 'n gedig laat lê. Dié van ons wat dalk gedink het dat min of meer enigiets ná Sestig in die poësie aanvaarbaar sou wees, moes gou van deuntjie verander. Een en elk van ons het by hom in hierdie verband geleer en is vandag bedag op die wyse waarop die leier van ons digterlike bidure sélf met klank in sy gedigte omgaan. Het hy dan nie ook 'n voorste bewerker van die Psalms vir gebruik in die Katolieke Kerk geword nie?

Dat klank nie sommer 'n toevalligheid is nie, blyk al uit die titels Smeulvuur: 1966-1975 (1981), Sonvis (1988), Soenoffer (1991), Serafyn (2004), Afskynsels (2007) en nou Seevlak tot savanna (2008) waarin die "s"- en "f"-klank 'n dominante rol speel. Deur hierdie titels word gesuggereer dat daar eenheid in hierdie oeuvre is en dat die leser van sowel hierdie eenheid as die klank wat dit "bind", bewus moet wees. En klank veral in die versreëls self (dit wil sê nie noodwendig rym nie) val in byna een gedig na die ander op. In Seevlak tot savanna klink dit in die eerste gedig, "Onveranderlik", soos volg:

wispelturig wissel branders
van reguit rollers tot woelige golfies
van blou of groen tot mistig grys
tog bly hul toon by een frekwensie
in sonskyn, maan- en sterrelig
in sagte bries of sterk suidwester
afbeelding van U kalm egaligheid.

Met hierdie klankbewustheid is vader Bonaventure goed toegerus om oor 'n tema soos die see te skryf en daarin die sintuiglike en geestelike ervaring van sy besondere belewenisse sensitief in hoofsaaklik kort gedigte weer te gee. In die tweede gedig in die bundel, "Hervorming", word bowendien duidelik uitgespel hoe sy besinning oor die wese van die see met sy siening van God skakel:

soos branders nimmer einde kry
bly U genadevlae
my sandkontoere soms rustig
soms kragdadig skuif
gee, Heer, dat hulle dadelik
of minstens met getyverwisseling
my strandlyn na U wil
mag herontwerp.

In byna al die seegedigte getuig die digter van die krag en beweging en grootsheid van die see, wat dan ook met allerlei hewige menslike emosies en selfs dwaalweë verbind word. In die gedig "Verkrag" word die kus self deur die mens verkrag, maar slaag die see daarin om as 't ware terug te slaan en hom weer te laat geld:

beskut deur duineveld en strand
gaar meer, rivier, lagune
wintertyd en lente deur
hul sepia bergwoudwater op
in een groot beelderyke spieël
totdat gonsend rokerig geel
stootskrapers deur die sandskans skeur
dat vlei en strandmeer vlakbloei in die see
wat elke woeste springgety
sy pekelwater stroomop stoot
en laaggeleë herehuise
met onderwatersetting dreig.

Nie vreemd nie is natuurlik die wending dat berusting ook in terme van die see geformuleer word, soos in die gedig "Beweeglik":

'n getylagune wil ek, Here, wees
wat U water hoër dein
meer se kant toe vloei
en as U stroom terugtrek
vinnig in U dieptes afloop
dat my verglansde oppervlak
U in en uit bewegings trou weerspieël.

Waar daar in die eerste afdeling, "Seespieël", oor die aard van die see en die mens se verhouding tot hom besin word, word daar in die tweede afdeling, "Strandverskynsels", effens weg van die strand af beweeg. Spesifieke plekke (ook in die buiteland) kom hier aan die orde. Opmerklik is die sterk ekologiese perspektief oor wat die mens se verhouding met die aarde en in die besonder die see oplewer, soos in die ironiese gedig "Ontreiniging":

die meule van die oseaan
maal skulpe, takke, seewier fyn
en laai dit daagliks strandlangs af
in weerwil van die kennisgewing
"hou ons strand en water skoon"

ons helfte van die aardbolsee
blykbaar omgewingsonbewus
in hierdie nakoloniale tyd
tree heel eerstewêrelds op.

Soos die titel van die bundel in die vooruitsig stel, is daar ook gedigte wat oor die "savanna", of dan meer spesifiek die binneland, handel. 'n Hele afdeling word aan die "Boland" gewy en lewer 'n gedig soos "Proses" op:

terwyl die silwer sirkelboog
witgloeiend oor Lemietbergkruin
na geelgroen druiwetrosse kyk
ry bakkies seisoenplukkers aan
wat heeldag onder sonstraalslae
kelderkratte vol moet laai
dat proewers liggeel sauvignon
allengs op prieelbedekte patio's
uit fyn gepoetste glase nip.

Ná hierdie Bolandse draai is hy uiteindelik in die vierde afdeling terug in die "Binneland" met 'n gedig soos "El niño", waarin natuurwaarneming, omgewingsbewustheid en Godsbesef al drie vernuftig verweef is:

die Godkind word die skuld gegee
vir weggeblewe somerreën
al is Hy heel volwasse
twintig eeue terug beween.

Dat die digter teen die einde van die bundel in 'n gedig soos "Busrit" alweer in Zoeloeland is en waarskynlik weer 'n draai by die see gaan maak, hoef die leser van vader Bonaventure se gedigte nie te verbaas nie.

Bonaventure Hinwood se gedigte is heel dikwels vol van die mistieke en godsdienstige belewing wat hom in dieselfde kategorie as 'n digter soos Sheila Cussons plaas. Soms vind die mistieke wending eers in die slot van 'n gedig plaas, maar vir iemand wat vertroud is met vader Bonaventure se gedigte, is hierdie wending selde totaal onverwags en/of ongemotiveerd. Daarom miskien ook dat daar nie werklik 'n fenomenologiese omgang met die werklikheid is nie en die ding as sodanig die digter se verwondering ontlok nie. Dit is nie "natuurgedigte in die gewone sin van die woord nie", soos TT Cloete by geleentheid tereg opgemerk het. Op die keper beskou, besing hierdie gedigte die lof van God in al sy gedaantes in die skepping. Die ironiese toon in meer as 'n hand vol gedigte sorg dat die geheel nie stroef voorkom nie.

By die digterlike bidure het ek vader Bonaventure as die digter van die kort gedig leer ken, die digter wat onvermoeid een kort gedig na die ander skryf om ons telkens daaraan te herinner dat God in 'n besondere verhouding tot die mens en die skepping staan. Ek vermoed dat daar in sy laai nog honderde sulke gedigte is - dikwels kort gebede en "gebede" wat hom herinner aan die krag van die poësie wat ons opnuut na die werklikheid om ons laat kyk.

Met sy gedigte waarin hy, nes heelparty Sestigers, voortgaan om min leestekens en hoofletters te gebruik, laat vader Bonaventure ons iets na wat die moeite werd is om te bewaar. Vir sy bydrae tot die bevordering en uitleef van Afrikaans in die Katolieke wêreld het vader Bonaventure Hinwood al lankal 'n eredoktorsgraad verdien. Meer as tien jaar gelede was ek bevoorreg om 'n temanommer van die tydskrif Ensovoort aan hierdie bydrae van hom te wy. Vandag bring ek graag hulde aan die verrykende blik wat hy my op die lewende wêreld om my bied. Hy, meer as talle groot kokkedore in die Afrikaanse letterkunde, het dit vir my die moeite werd gemaak om in hierdie digterlike tradisie te probeer voortwerk.

1 Rede gelewer by die bekendstelling van Bonaventure Hinwood se Seevlak tot savanna (Bent, 2008) op 29 Oktober 2008 in Pretoria.

 

Eerste publikasie op LitNet: 4 November 2008

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top