Bolandse tafereel: laatmiddag

  • 1

Vredenheim, 13 November 2004

Wie hier kom uitvlug soek
van voorstedelike narkose
migreer tussen wingerdheuwels
& gewelhekke tot by die gekose
kuierplek: Vredenheim,
wynplaas & kunsmatige Eden:
‘n sebra riffel nader,
impressionistiese rietgordyn.
In ‘n kamp wei gemsbokke,
die eland met sy riffelkwakkie,
‘n volstruismannetjie wat rooi-
hakskeen klippers sorteer.
Dan: onder rankroos-boë deur
tot by die oase: bottels
& blikkies drank wat klots
& rinkel tussen ysskotse,
& die geklets van gesinne,
verliefdes & verloofdes,
huislike krakele vireers vergete.
In die agtergrond die plaasdam:
krakeluur van water met eende
& stink groen slym. ‘n Vlieër
ry die kwispelturige wind
& kinders swenk skel
in groepe oor die varsgesnyde gras.
Onder die groen skadu
van ‘n wilger kom die geure
vlaag op vlaag: tiemie,
roosmaryn, ook duikerdrolletjies.
Onkenbaar & onsienbaar sag
tortel skemer sy naderende amfibrag.

 

  • 1

Kommentaar

  • Francilla Bekker

    Ek werk op Vredenheim en het gisteraand gehoor hoe Johann Nel dit op RSG voorlees. Dit is pragtig geskryf, ek sou net meer van Vredenheim se rustigheid in die klanke wou hoor na die woord "dan". Baie goeie taalgebruik, welgedaan! Ek sal graag wil hoor wat ander lesers daarvan dink.

     

    Groete

     

    Francilla Bekker

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top