Bokomo-brekfisbrief; 30/05/08: Om 'n hond te skiet

  • 0

My ou Duitse Herdershond het homself een middag langs my lessenaar gaan neerlê en teen die aand was dit duidelik dat hy nooit weer daar sou opstaan nie.

Ek het swaar gesluk aan die besef dat die vyf weke oue wolbondel wat ek destyds in my kar huis toe gebring het, nou veertien jaar oud en eenvoudig klaar geleef was. Natuurlik het ek geweet dat die dag naby is – die veearts het dit vir my duidelik gemaak toe ons die laaste keer met ʼn handvol "ou-hond" pille daar weg is. Dit het my dus erg onkant gevang dat ek eenvoudig nie klaar kon groet nie. Eerder water en kombersies aangedra, langs hom gesit, met hom gepraat terwyl ek die groot ou kop streel.

Teen die tyd dat sy swaarkry-ure later uiteindelik deur my selfbejammering kon dring, was dit duidelik dat ek te lank gewag het.

Ek kon eenvoudig nie daardie ou lyf ook nog die onreg van die dertig kilometer rit dorp toe en die trauma van die veearts se spreekkamer aandoen nie. So het ek maar my ou vriend buitentoe gedra voor ek geweerkluis toe is ...

Dis nie die genadeskoot wat my vandag nog pla nie. Dis die wete dat ek 'n onvoorwaardelike, lewenslange vriendskap met selfsugtige versuim terugbetaal het.

Papkop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top