Bokomo-brekfisbrief; 29/05/08: Karre op Corfu

  • 0

My broer was vir meer as 'n week op die Griekse eiland Corfu. Hy en sy vrou het 'n kar gehuur. Hy vra toe vir die Griekse vrou waar en hoe moet hulle die kar terughandig aan die einde van die vakansie. Die vrou sê hy moet die kar net op die lughawe se parkeerterrein los, en dit nie sluit nie, en die sleutels binne-in die kar onder die sonskerm indruk, waar die personeel dit later sal kry. "Is dit nie gevaarlik nie?" vra my broer (hy kom van Gauteng).

Die Griekse vrou kyk hom puzzled aan en sê: "Ek doen al agt jaar so besigheid, in die besige seisoen huur ek tot 50 karre per dag uit, en nie 'n enkele kar is nog van die lughawe gesteel nie."

Vergelyk dit nou (in 'n essay van nie langer as 600 woorde nie) met die situasie op OR Tambo-lughawe. Ja, ja, ek weet, OR Tambo is in 'n land, en Corfu is ʼn (groterige) eiland. Maar nogtans, daar's net 'n hele ander wêreld en 'n mind set daarbuite. Terloops, die meeste van die toeriste op Corfu kom van Holland of Duitsland.

'n Week tevore was my broer-hulle ook in Egipte. Hy sê hy en sy vrou het laataand in arm buurte in Kaïro rondgeloop sonder die geringste vrees. Ja, politieke geweld mag mens dalk daar tref, maar van geweldsmisdaad is daar in Egipte so te sê nie sprake nie. Daar is nie drankmisbruik in Egipte nie, en diewe is skaars, want hulle hande word afgekap. Dalk sal Islam Afrika se probleme oplos, maar ek hoop dit gebeur as ek reeds onder die kluite is. (Drankgebruikers soos ek word ongelukkig saam met misbruikers gestraf in 'n Islamitiese land.)

Kleinboer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top