Bokomo-brekfisbrief; 06/05/08: Kruger

  • 0

Die skielike veroordeling van Paul Kruger uit sekere oorde ... is dit maar deel van die sirkelgang van die geskiedskrywing en herskrywing: dat Hitler dalk in die toekoms 'n held kan word en Moeder Teresa 'n skynheilige skurk? Ek verbeel my dié prosesse het reeds effe begin?

Oor Paul Kruger - My pa, 'n kampkind op Irene (waar die gesin klippe gekou het en 'n broertjie dood is), het altyd gesê: “Hulle het die ‘arme ou man’ (Oom Paul) oorsee gestuur om te gaan hulp soek. Maar die Europese heersers het hom soos 'n melaatse behandel.” Pa het dit waarskynlik by my oupa gehoor, wat die volle oorlog op kommando was.

MER, iemand wat die ou president persoonlik ontmoet het, het haar hele lewe lank net die hoogste lof vir hom gehad en in haar memoirs geskryf van die "geseënde dae van die ZAR". MER was nie kwistig met haar lofprysings nie. Op pad per skip uit Europa, het sy haar rug op die White Cliffs of Dover gedraai. Sy het die Britte nooit vergewe nie.

Anna M Louw, wat baie oor pres Kruger navorsing gedoen het, het my eendag ietwat geskok met haar harde oordele oor SJ du Toit. Maar vir die Groot Gryse het sy heilige respek gehad. Sy het selfs beweer dat sy Kruger daar in Clarens se mistigheid "ervaar" het en sy hartseer kon aanvoel.

My oupa het ná die oorlog politiek agter "die generaals" (Smuts en Botha) aan gegaan. Die gesin het lede geword van die ou Suid-Afrikaanse Party. Maar hy was by Paul Kruger se begrafnis en is eers in 1915 terug "Kolonie" toe, Paarl toe. Hy was 'n bouer in Parktown Johannesburg en het hom op huise toegelê. Soms as ek daar deurry, wonder ek watter huise hy gebou het. Miskien hou al die dinge my hier in Johannesburg terwyl my hart in die Paarl is.

Ek was 'n jong kind toe my pa eenmaal dokter toe is ná sy gesondheid skielik erg verswak het. Die internis het hom baie deeglik ondersoek. Ek het by hom gestaan. Die dokter het gesê: "Louis, jou gebeente wys baie broos op die X-strale. Het jy honger gely as kind?" My pa het nee gesê – en eers later onthou dat hul gesin in die konsentrasiekamp was. Hy is betreklik vroeg dood. Sy tweelingsuster, Tita, ook.

Izak de Villiers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top