Bokomo-brekfisbrief; 03/06/08: Om blasé te wees met al die subtiele nuanses van 'n vreemde kultuur

  • 0

Vega, in jou brekfisbrief vra jy oor die Meksikaners se 'weggee-kultuur'. Dis vreemd en opwindend hoe mense en kulture verskil, maar origens wil dit my voorkom asof almal, van oos tot wes en suid tot noord, so graag hulle kultuur en gewoontes wil deel; dis net nie altyd so maklik om so blasé as moontlik te wees met al die subtiele nuanses van 'n vreemde kultuur nie ...

Die Meksikane wat wél baie geld het sal oordadig wees met hulle besittings en hulle gasvryheid. Jy sien, die idee is by baie (nie almal nie) dat alles wat materieel is, vervangbaar is en daarom nie veel waarde het nie. Indien iemand anders iets spesifieks komplimenteer, sal die eienaar dadelik die gekomplimenteerde item wil oorhandig, om te sê "ek het dit nie nodig nie, en jy is my gas, jy behoort dit te vat".

Die oorweldigende blink ameublement wat mens in Suid/Sentraal-Amerika en Indiё en die Midde-Ooste veral kry, is daardie ou 'all that glitters ain't gold' sêding, dis al. So het ek al hoeveel dasse, mansjetknope en kruise in my versameling, en geleer om nie sommer ligtelik komplimente uit te deel nie. Jy sal veral vind dat dié wat ryk is éérs wil weggee, asof hulle hul gewetes wil sus omdat hulle in 'n oorwegend arm land woon waar meeste mense van boontjies en tortillas moet leef.

Daar is verskeie redes waarom party Meksikane die oorhandiging van besittings sal doen en ander nie. Dit hang dalk af van hoe streng Katoliek hulle is, of van hoe "afshowerig" hulle is, of van hulle statusbewustheid. In armer mense se huise sal jy gewoonlik vriendelik verplig voel om elke laaste boontjie en tortilla op te eet, ter aanskoue van die hele gesin (tannie, oom, ouma, oupa, neefs, niggies, boeties en sussies en hulle aanhangsels), al voel dit of jy gaan bars. Om iets af te wys is soos om te sê dis nie goed genoeg vir jou nie. Ek het maar geleer om by uitnodiging na etes myself uit te honger vir 'n hele dag!

My persoonlike ondervinding was altyd dat die jonger Mexicano’s glad nie daardie weggee-ding doen nie, maar die ouer garde of die wat behep is met status wel. So vat maar die geblomde rok, die sombrero of die kruis, en eet maar daardie laaste bietjie chilli, die gewer sal op een of ander manier gevlei voel.

In Saoedi Arabiё (waar ek tans werk) hou die mans en vrouens apart troue (soos hulle ook eet, bank en skool toe gaan, ens). So was ek die enigste wit aalwyn (al het ek redelike olyfkleurige vel) tussen 'n see van donker velle en lang wit rokke, raafswart baarde en snorre – in my vlootblou pak – gereed vir die troue van 'n student op 'n tipiese stam-bruilof. Ek het ná die uitgerekte tee-seremonie verbysterd in die moerse silwer skinkborde op 'n enorme marmervloer neergekyk. Heel lammers, kop en al, het dekoratief op 'n bed van geelrys gerus, uitpeuloё en al. Almal sit toe aan vir die fees, op die vloer met gekruisde bene of op die hurke. Ek het so peusel-peusel aan die rys gevroetel (vinnig geleer hoe om rys in 'n stywe bolletjie te rol) terwyl ek oogkontak met die arme lammertjie wat gister nog gebokspring het, probeer vermy het.

Honderde swart Arabier-oё was op hierdie 'Amerikaner' gerig, om te sien hoe ek nou my vingers gaan inspan vir die eetslag. Toe ek my weer kom kry, stap die bruidegom se pa na my toe, groot smile op sy bek, druk my hand hardhandig so voorarm-diepte in voorgenoemde lammer se pienk magie in en wag dat ek iets styf genoeg vasvat om na buite te skeur. Ek onthou hoe die sweet op my voorkop gedans het (die 50 grade buitekant het nie gehelp nie) en hoe ek met opgehoude asem die grusame inhoud van my warm, lammerdeurdrenkte hand in my mond druk. Natuurlik ter applous van al die (manlike) bruilofgangers.

Ek het saggies gesoebat dat ek net nie moet opgooi nie, en toe ek uiteindelik die stomende lamsmaaginhoud sluk, dag ek 'n hele vuurpeleton van enorme lammers met groot pers tonge lek my van kop tot tone, asof ek in 'n see van binnegoed versuip. Nóg was het einde niet, want toe ek verwilderd na my Pepsi gryp, vang my oog die hand van my eetmater hier langsaan, wat besig is om die lammer se kop van die nek af te skeur. Onseremonieel gaan hy toe voort om die kop op die marmer hier tussen my en hom oop te kap, en die heilsame jong lammerbrein uit sy kopbeen-kapsule te haal. Op hierdie stadium het al die visioene wat ek oor tjoklit, roomys, sonneblomme en skraps-geklede meisies opgebou het, heeltemal verdwyn, en die handvol breins is vir my (eerbare gas) aangebied ter aanskoue van die alomteenwoordige Mohammedane.

Natuurlik kon ek nie hierdie delicatessen van die hand wys nie, en het besef dat ek nou die ganse Westerse wêreld verteenwoordig. Ek het die bol breins in my hand geneem, dit in my mond gesit, en stadig, netjies en versigtig gekou terwyl 'n bose naarheid in my opgestoot het (ek dink nie morning sickness kan ooit naby kom nie). Maar ek het my konstitusie behou en gesluk terwyl my tone, vingers en alles wat moontlik kan, styfgetrek het van ongeskikte mislikheid; ek sweer die enamel het van my toonnaels afgespring.

Dit was my kennismaking met "mindi"; die Saoedi manier van lammer kook ... gat in die grond, kole, lammer bo-op, foelie, gat toe onder die grond, en stoom vir 'n paar ure. Walglik, absoluut fokken walglik. Viva boontjies en tortillas! Kultuurskok kan rock, maar somtyds laat dit jou met 'n gagga nasmaak in die mond.

Arno

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top