Bokomo-brekfisbrief; 01/06/08: Snaakse Meksikaanse gewoontes, vir Arno

  • 0

Toe ek en my man ’n paar jaar terug in Meksiko was om ’n konferensie by te woon, het al die konferensiegangers saam in die hotel waar dit aangebied is gebly. Een oggend kom sit ’n Meksikaanse paartjie wat ons al voorheen leer ken het, by ons. Sy het so ’n donkerpers rok met kleurvol geborduurde patrone op. Ek het haar gekomplimenteer oor die pragtige rok, want dit was opvallend.

Die volgende oggend is daar ’n klop aan ons kamerdeur en hier staan die man met ’n bruinpapierpakkie in sy hande. Ek besef toe onmiddellik dis die rok. Ek weet nie of ek veronderstel was om dit te neem en of dit net ’n gebaar is en dan is jy dalk veronderstel om te sê nee, baie dankie, maar ek kan dit nie neem nie. Daar was geen manier dat die rok my sou pas nie; die Meksikaanse vroutjie was bietjie kort en rond. Natuurlik neem ek dit toe maar, soos ek geleer is, en sê hartlik dankie.

Maar jy sou dink ek het my les uit hierdie ongemaklike situasie geleer. Nee, glad nie! ’n Paar dae later word ons genooi na ’n baie welaf sakeman se huis. Die Meksikane hou nogal van oordaad. Sy vrou neem ons deur die huis wat met goue muurpapier, krane, spieëls, kandelare en krullerige meubels uitgerus is. In ’n glaskas hang daar ’n pragtige houtsneekruis. Ek (ja, sowaar) maak toe die aanmerking dat dit ’n pragtige kruis is. Die stylvolle vrou maak die kas oop en gee dit vir my en dring aan daarop dat ek dit hou. Wat ’n ongemaklike situasie, ek weet nie of ek dit moet neem en dan ‘offend’ ek haar of moet ek nee dankie sê en dan ‘offend’ ek haar nog meer nie.

Die rok pas perfek aan Rosina, my huishulp, se lyf en die kruis hang in my sitkamer. Maar ek weet nou nog nie of hulle kultuur en goeie maniere van hulle vereis om dit te doen of wat hierdie gebaar rêrig beteken en ook nie wat die korrekte optrede van my sou gewees het nie.

Miskien kan jy verduidelik.

Vega

Goeie tip: Wanneer mens na Meksiko gaan en jy wil graag iets hê wat aan iemand anders behoort, sê net jy dink dis pragtig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top