Boetiek-kroniek

  • 8

Mev Lantier, een van ons kusdorp se swaeltjies, kom by die winkel in. Op haar heup sit ’n groterige, sjampanjekleurige Franse poedel, wydsbeen soos ’n baba.

Die helfte van die jaar woon sy in haar villa by die Middellandse See aan die Côte d’Azure, en gedurende die Europese winter hier in haar huis langs die Atlantiese Oseaan.

Ons laat in die reël nie honde toe in die boetiek nie, maar mev Lantier is ’n baie gewaardeerde kliënt. Haar honde is haar kinders en moet so behandel word.

Sy pas aan terwyl ek Amabella, wat byna koninklik op die winkeltoonbank sit, se ligbruin wolkop krap. As ek ophou krap, begin Amabella te knor-kla. So, ek krap in die hoop dat haar ounooi gaan koop.

’n Ruk later skuif mev Lantier die aanpashokkie se swart fluweelgordyn oop en stap uit om haarself beter te beskou in die lang spieël teen die muur. Ek vang haar beeld skrams uit die hoek van my oog en kyk toe vinnig af om liewer Amabella se kop met mening te krap. Met my ander hand skryf ek verwoed in die notaboek om besig te lyk. Ek is bang sy vra dalk my mening oor hoe sy lyk. Sy het haar strooihoed afgehaal en haar blonde lang haartjies hang yl oor haar skouers. Op haar dag het sy seker die koppe laat draai, en sy het steeds ’n goeie figuur. French women don’t get fat! Daai boek moet ek nog vir my koop. Die kaalskouerrok wat sy aan het, het die boetiek bestel met die oog op die skool se Valentynsdans. En ek twyfel of mev Lantier soontoe genooi is.

Twee mans kom ingestap. Op die een se T-hemp staan “My girlfriend is out of town” in groot swart letters. Ek herken sy gesig. Die rok wat ek laas keer in sy hand gesien het, was die volgende dag skoonveld.

“Kan ek help?” konfronteer ek hulle met die intrapslag.

“Ons kyk net. Ons soek ’n surprise vir ons girlfriends,” antwoord die een wat ek herken.

Ek los vir Amabella op die toonbank sodat sy na hartelus kan knor en gaan maak die veiligheidshek toe.

“Dit is ’n dameswinkel. Ek dink julle moet maar eerder dat die vriendin vir haarself iets kom uitsoek,” probeer ek hulle uit die winkel kry. Hulle gaan sowaar nie weer my wins so onder my neus uit steel nie.

Mev Lantier is intussen terug in die aanpashokkie. Ek staan op aandag langs die mans. Die een kyk verby my na sy eie weerkaatsing in die lang spieël.

“Sjlop,” spoeg hy onbeskof in sy hand en vee sy hare plat. Ek voel hoe die kieme my bespring en vlug om die paniekknoppie by die toonbank te gaan haal.

Mev Lantier kom weer te voorskyn uit die aanpashokkie – dié keer met ’n wit romp en blink, turkoois toppie. Amabella tjank. Ek tel haar van die toonbank af en sit haar op die vloer neer. Mev Lantier draai haar kop skuins en kyk fronsend na die twee mans, die toe hek, haar geliefde hondekind en na my. Die mans staar vasgenael met kennersoë na die diamant van etlike karaat aan mev Lantier se hand.

“Hallooo!” roep iemand by die hek. Dis my vriendin, Janine, en haar terroris van ’n vyfjarige seuntjie, Christiaan. Net nie nou nie, dink ek. Die vorige keer het Christiaan gedink die kredietkaartmasjien is die afstandbeheer van ’n videospeletjie en sodoende die laaste paar transaksies uitgewis! Maar dalk is dit nou ’n geval van veiligheid in getalle.

Ek maak die hek oop en beduie vir Janine dat ek dink die mans wil steel. Sy knik vir my. Die twee mans het nou uitgesprei; een sirkel die vertoonkas met juwele soos ’n roofdier wat sy gebied merk. Janine hou hom met valkoë dop. Ek pak kastig rakke reg al langs die een wie se meisie uitstedig is.

“Wwwroem!” weergalm dit skielik agter my.

My nek ruk dat ek na dese fisio sal moet kry. Ek druk per ongeluk die paniekknoppie wat nog in my hand is. Die alarm gaan oorverdowend aan die skree. Klein Christiaan het die stofsuier in die kombuis gaan haal, ingeprop en begin stofsuig. Hy vrek oor gadgets. Amabella blaf histeries. Janine staan versteen. Die Franse poedel bestorm die stofsuier. Die kleuter se ma gil; sy dink die hond wil haar kind byt. Die twee skurke vergeet om te steel.

En mev Lantier verskyn adellik in ’n groen fluweelrok en wit volstruisvereboa.

Nou lui die foon boonop. Die sekuriteitsmaatskappy wil weet of alles oukei is. Met twee potensiële diewe in die winkel gee ek die kodewoord dat alles nie oukei is nie! Hulle meld gelukkig ook sommer binne ’n paar minute aan.

Een van die mans haal so wraggies ’n kledingstuk onder sy baadjie uit en drapeer dit doodluiters oor ’n klererak toe hy die veiligheidswagte sien. Christiaan klim verskrik teen die veiligheidshek uit. Sy ma dreig hom altyd met die polisie as hy stout is en hy dink seker hulle het hom nou kom haal.

Amabella sit weer op mev Lantier se heup. Sy het nog die winkel se fluweelrok aan en ek voel hoe poele onder my arms vorm oor die duur fluweelrok vol hondehare. Die veiligheidswagte deursoek die mans vir gesteelde items en kry natuurlik niks.

“Hierie plek issielekkerie,” sê die een skurk vir die ander een en dop sy oë om. Hulle drentel straat af op soek na ’n ander, meer normale winkel om eerder by te steel. Janine lok uiteindelik vir Christiaan bo van die veiligheidshek af met die belofte van ’n pienk melkskommel.

Nou is dit net ek en my Franse kliënt in die winkel. Sy is diep in gesprek met Amabella. Ek vang net iets van “Sainte Valérie” en vermoed sy is seker besig om die heiliges te bedank dat hulle niks oorgekom het in hierdie misdaadgeteisterde land nie. Ek gaan nader om haar gerus te stel. Met ’n sug gaan sit sy op die bankie langs die toonbank. Sy haal ’n hopie foto’s uit haar handsak om vir my te wys. Halfnaak foto’s van haarself, baie jare gelede. Ek byt op my kiestande sodat my mond nie oophang nie en laat sak my stygende wenkbroue om my gesigsuitdrukking neutraal te probeer hou. Hoekom dit vir my wys, wonder ek en kry haar jammer. Dalk het sy net nodig om te onthou dat sy eens jonk en mooi was …

Cheryl, wat die Vodacom-winkel oorkant die straat bestuur, kom oop-en-toe aan. Haar persrooi hare is gepluiskam. Dit lyk soos dié van die heks in die pantomime wat ek oor Kersfees saam met my peetkinders gaan kyk het. Daarby het sy swart ingetekende wenkbroue. Ek brand altyd om haar ’n make-over te gee.

“Wat het hier gebeur, girl? Ons sien die sekuriteit was hier en jou alarm en alles!” hyg Cheryl. Sy knik in die rigting van mev Lantier.

“Vals alarm,” sê ek. Cheryl is ’n langasem en ek is nie nou lus vir lang stories nie. Ek sien sy loer na die foto’s in my hand. Sy gee ’n paar vinnige treë nader en swik op haar een stiletto, wat my genoeg kans gee om die hopie foto’s onderstebo neer te sit. Sy vang darem die skimp.

“Oukei, ek wou maar net kom seker maak jy is fine … Praat later. Lekker werk.” Haar Kardashian-agterstewe wikkel terug Vodacom toe.

Mev Lantier staar vir Cheryl agterna.

“That woman …”, en toe sê sy nog iets onverstaanbaars in Frans. “I don’t know the English.” Sy skryf dit neer op ’n stukkie papier wat op die toonbank lê: “Mouton habillé en agneau.”

Ek verstaan nie en frons maar net. Intussen dink ek hard – ek moet seker nog een of ander opmerking oor die foto’s maak.

“You look like a model or a beauty queen! I am sure you broke a lot of hearts.”

Mev Lantier gee ’n skewe glimlaggie en staar met wasige oë in die verte.

“Maybe, but my heart was broken also …” Sy staan op.

Ek google die woorde op my selfoon terwyl sy die fluweelrok gaan uittrek in die paskamertjie: “Mouton habillé en agneau is French for: Mutton dressed as lamb.”

Om vrede met die ouderdom te maak, bly ’n moeilike taak vir ons skoner geslag. Cheryl sal seker dieselfde van mev Lantier kan sê.

Sy kom uit met die rooi Valentynsrok oor haar arm.

“I take this … s’il vous plait.” Sy gee haar Switserse private bankkaart vir my aan. Ek draai haar rok in sneespapier toe voor ek dit in ’n sak sit en gee sommer vir Amabella ’n ekstra krappie op haar wolkoppie by die deur.

“Au revoir,” onthou ek twee van my repertoire van vyf Franse woorde.

Ek blaai na die artikel in die nuwe Elle: “What is your fashion age?” Die roomkleurige kantblom waarmee ek my hare opgesteek het, lyk skielik ekstra groot in die lang spieël teen die muur. Ek haal dit uit.

“Jy is veertig,” sê ek. “Van nou af dra jy nie meer blomme in jou hare nie.”

  • 8

Kommentaar

  • Jennifer Goosen

    Ek kan die prentjie lewendig in my geestesoog oproep van Madame Lantier en haar hondjie. Dit is pragtig geskryf.

  • Riana Steenekamp

    Ag dit was 'n lekker-lees storie dié.
    Los die blom in jou hare Jonelle du Toit! Mouton habillé en agneau of te not.
    Prints en groot blomme is mos hoeka groot dié seisoen - ek het dit anderdag op Eve Boitique se bord gelees. 'Stroess.

  • Liezel Silvis

    Vinnig verslind en smag na meer, Jonelle! Jou skryftalent kom veral sterk na vore in die naatlose mengsel van fyn humor en daardie diepere, rou sy van menswees: ek lag heerlik en pik dan ‘n traan - absoluut outentiek en laat my tone krul van lekkerkry! Wonderlik hoe jy in so ‘n kort verhaal die karakters so ideaal kan pen. Welgedaan!

  • Helene Dippenaar

    Het die storie SO geniet, aangesien ek ook al agter die toonbank saam met jou gestaan het en als kan "picture"! Hou aan skryf, liewe sussie. So trots op jou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top