Boereverneukers: ’n onderhoud met Izak du Plessis

  • 1

Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters
Izak du Plessis
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092185

Die wêreld is propvol swendelaars, swierbolle en swerkaters wat so slinks is dat hulle die melk uit jou koffie kan steel sonder dat jy dit agterkom. Dikwels is hulle so vernuftig en sjarmant dat mens byna nie anders kan as om hulle op ’n vreemde manier te bewonder nie. Selfs Afrikanerhelde soos Paul Kruger val in daardie kategorie. Izak du Plessis vertel aan Jean Oosthuizen hoe hy te werk gegaan het om van die bekendste Afrikaanse boereverneukers se verhale saam te vat in sy boek Boereverneukers wat onlangs deur Penguin Random House uitgegee is.

Jou boek Boereverneukers het heelwat publisiteit gekry sedert die verskyning daarvan. Daar is selfs ’n herdruk op pad kort nadat dit verskyn het. Waaraan skryf jy dit toe en het jy verwag die boek sou soveel belangstelling uitlok?

Ons het gehoop die boek kry soveel belangstelling, maar as mens in die bedryf is, verwag jy maar ’n hou teen die kop. Jy kry altyd minder as wat jy verwag en meer as waarvoor jy hoop. Ek dink goeie bemarking, lekker blootstelling en mense se nuuskierigheid oor misdaad het die knoop deurgehaak.

Hoe het jy te werk gegaan om die boek te skryf en die mense te kies waaroor jy geskryf het?

Ek het die term Boereverneukers gegoogle, niks gekry nie en toe con men probeer. Derduisende resultate gekry. Afrikaanse con men het Adriaan Nieuwoudt en Gervan Lubbe opgelewer. Toe lees ek iets van Scotty Smith raak wat die sommetjie se antwoordnet bietjie wyer gemaak het, en toe peul Arno Smith, Ruitertjie Ruiters, Cecil Barnard, André Esterhuizen en die res uit om uiteindelik die prentjie voller te maak. Die kriterium was dat dit lekker stories moet wees. Ek het byvoorbeeld nie Krion en Sharemax gekies nie, omdat dit ’n slagting was sonder die siel van iets soos die kubuskultuur of Scotty Smith se storie.

Jy gaan haal die swerkaters ver terug in die verlede tot by Paul Kruger, wat vir baie mense steeds ’n held is. Was Scotty Smith en Paul Kruger die vroegste boereverneukers wat jy kon opspoor oor wie daar geskryf is?

Nee, daar was iemand soos Piet Retief wat maar ’n opperste skelm was volgens sommige rekords. En dan was daar tientalle ander wat ewe interessant ’n boek oor hierdie onderwerp kan vul.

Afrikaners hou oor die algemeen nie daarvan om te hoor hulle helde het ook maar voete van klei nie. Was daar nie mense wat vies was omdat jy oom Paul ingesluit het by die swerkaters en swierbolle nie?

Ek het nog niks gehoor nie. Maar die boek is nou maar eers twee maande op die rakke. Dalk kom dit nog. Maar hulle kan maar vies wees, daar is genoeg gedokumenteer om te bewys die oubaas was ’n opportunis, ’n slinkse politikus, ’n swerkater van die eerste water en ’n oneerlike president.

Jy dra die boek op aan al die joernaliste van Suid-Afrika en spesifiek aan Elsabé Brits van Die Burger. Hoekom?

Die boek bestaan omdat joernaliste bestaan. Hulle is die mense wat die stories vertel in koerante, op radio en op TV. Maar moenie nie ’n fout maak nie – soms (en selfs baie gereeld) is joernaliste ook verkeerd. Dit maak egter nie die stories ongedaan nie. En uit elke storie waarin foute gemaak is, leer ’n mens vir die volgende keer. Soos in die geval van Gervan Lubbe. Elsabé Brits se skerp sin vir joernalistiek het net weer bewys hoe belangrik dit is dat joernaliste nooit houtgerus moet raak in hulle werk nie. Hulle onsinverklikkers moet heeltyd gekalibreer wees.

Die subtitel van jou boek is Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters. Is daar enige spesifieke rede waarom jy op Afrikaanse swerkaters gefokus het?

My uitgewer, Melt Myburgh, is eintlik die een wat met die idee vorendag gekom het. Hy glo al lank dat dié tipe stories die verbeelding sal aangryp. En hy was reg. Die boek vaar baie goed. Ons herdruk nou, soos jy reeds genoem het, en Kersfees lê nog voor. Die boek se titel, inhoud en mooi rooi voorkoms maak daarvan ’n lieflike Kersgeskenk.

Jy het met van die swerkaters wat nie van die aardbol verdwyn het nie, kontak gemaak, soos die Kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, maar hy wou nie ’n onderhoud toestaan nie. Het jy enige reaksie van sy kant gekry na die verskyning van jou boek?

Ja, ek en Adriaan gesels nog soms. Hy dink so elke kort-kort aan ’n onreg wat die regering van destyds hom aangedoen het, wat hy dan met my deel. Pleks hy nou maar voor die verskyning van die boek met my gepraat het.

Het jy enige een van ander karakters wat nog leef en op vrye voet is, in die hande probeer kry of van hulle naasbestaandes self ontmoet tydens die navorsing van jou boek?

Ja, ek het met Jacky Haynes, eksvrou van die vermiste Ralph Haynes kontak gemaak. Ek sien haar en Ralph se jare lange vriend Dawie Lotter nog gereeld, omdat ek besig is met ’n boek oor Ralph se lewe. Maar die ander karakters is of dood of net onmoontlik om in die hande te kry. Ek weet die swendeldokter André Esterhuizen is deesdae uit die tronk en hy bedryf êrens ’n besigheid.

Van sommige swerkaters oor wie jy skryf hou mens meer van as ander. Party was nogal heel sjarmant. Mens kan selfs nie anders as om party van hulle nogal effens te bewonder vir hulle vindingrykheid nie. Watter een van die klomp het jóú die meeste “beïndruk”, as ek dié woord mag gebruik?

Ek hou nog steeds die meeste van Ralph Haynes. Iets aan sy flambojante leefstyl, menswees en nalatenskap gryp my aan. Nie noodwendig positief nie – ek is maar net gefassineer met hoe die mens dit kon regkry om bekendes soos Steve Hofmeyr, Joost van der Westhuizen, Andries Botha en Nick du Rand te bekoor en om sy pinkie te draai. En dan was hy so gevaarlik. Hy is ’n veroordeelde moordenaar en hoewel daar nie bewyse is nie, word hy ook met ander mense se dood verbind. Ek dink ek sou bang wees vir Ralph Haynes. Maar mense wat hom geken het, sê hy kon jou begogel met sy sjarme.

Dan was daar onder andere die swendeldokter André Esterhuizen wat verantwoordelik was vir die dood van ’n hele paar kinders en in 1999 op parool vrygelaat is. By my het hy, anders as in sommige ander gevalle, geen simpatie gewek nie. Watter een se verhaal het jou die meeste gegrief?

As ’n mens oor persoonlikheid praat, dan dink ek Pierre Basson is die een wat my die meeste grief. Hy was glo ’n aaklige mens en sy verhaal getuig daarvan. Esterhuizen self se vermetelheid slaan ’n mens se asem weg: ’n pediater, brigadier, valskerminstrukteur en duikinstrukteur sonder enige kwalifikasies ... dit wil gedoen wees.

Daar is seker nog ’n hele aantal swerkaters wat nie jou boek gehaal het nie. Kan ons dalk ’n opvolg verwag?

Ek weet nie of ’n boek soos hierdie dieselfde energie kan losmaak in ’n opvolg nie, maar dit is Penguin Random House se besluit. Tot dan werk ek eers aan Mafiabaas (die werktitel van die boek oor Ralph Haynes).

Foto van Izak du Plessis: Naomi Bruwer

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top