Boereverneukers deur Izak du Plessis: ’n lesersindruk

  • 0

Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters
Izak du Plessis
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN 9781776092185

Daar het nou al ʼn aantal mense kommentaar gelewer op Du Plessis se Boereverneukers, wat my laat wonder het of ek ook iets moet kwytraak. Is die meeste nie reeds gesê nie?

Dalk, maar ek het die boek noukeurig deurgelees en daar is tog ’n aantal sake wat ek op die hart het. Ek voel altyd dat wanneer ek iets skryf oor ’n boek wat ek gelees het, ek so ’n boek veel meer deel van my eie DNS gemaak het. En in dié spesifieke geval is daar tog ’n aantal sake wat hinder, hoewel mens nie anders kan as om grootliks vol lof vir die boek te wees nie.

Die rol van joernaliste in die dokumentering van die verlede spreek vanself en hoef nie eintlik juis herhaal te word nie. Mens dink aan name soos David Lamb (The Africans), Antjie Krog (Country of my skull) en Max du Preez, om maar enkeles te noem. Du Preez het self ’n aantal jare gelede ’n boek geskryf oor “korrelkoppe”. Verslaggewers stel sake in ’n heel ander perspektief as historici, en is dikwels veel nader aan die gebeure. Hulle boeke is ook dikwels veel meer lesersvriendelik as dié van historici, want historici is heel dikwels maar geforseerde skrywers – hulle is gewoonlik eerstens akademici, en eers dan skrywers, terwyl skryf die joernalis se brood en botter is, maar veral sy brood. Met Boereverneukers volg Du Plessis sterk in die spore van sy voorgangers, die joernalis-historici, en lewer hy ’n aangename bydrae tot die Afrikaanse boekeskatkis.

Wanneer mens die woord “Boereverneukers” hoor, dan is die naam Paul Kruger dalk nie die een wat eerste in jou gedagtes opkom nie. Paul Kruger – miskien die heel grootste en heiligste held van die Afrikanernasionalisme. Hoeveel strate is nie na Paul Kruger vernoem nie? Sy monument pryk in Pretoria. Sy huis by Rustenburg is ’n monument, en internasionaal leef sy naam voort, danksy die Krugerwildtuin, wat ook na hom vernoem is. ’n “Boereverneuker”? Ja, tog! Volgens Du Plessis, en ek kan ook daarmee akkoord gaan. Mens moet natuurlik altyd historiese figure oordeel aan die norme van die tyd waarin in hulle gelewe het, maar selfs so gemaak, is daar ’n sterk saak uit te maak dat Kruger ’n Boereverneuker was. Mens kan ook maar ander bronne raadpleeg oor die Boereoorlog, soos die memoires van kommandant Ludwig Krause, om by ’n veel meer genuanseerde blik van Kruger uit te kom as wat baie ander geskiedenisboeke jou sal wil laat glo.

Maar hier en daar is iets wat krap in die boek, soos ek reeds gesê het. Oor die feitelike inligting kan ek my nie te veel uitlaat nie. My kennis is eenvoudig te min. Maar ek wil stilstaan by die taal, waarvan die mees kommerwekkende vir my te vind is op bl 67, waar Du Plessis skryf van die “Nasionale Argief in Kaapstad”. As daar so ’n “Nasionale Argief” in die Moederstad bestaan, dan sal ek baie graag daarvan verwittig wil word. Al waarvan ek bewus is, is die “Wes-Kaapse Provinsiale Argief en Rekorddiens”, en dié vind mens in Roelandstraat. Die Nasionale Argief, waarvan daar slegs een is, dié is in Pretoria. ’n Beter beskrywing sou gewees het die Staatsargief in Kaapstad.

Ek het grootgeword met die woord “selfmoord”, en toe dit verander na “selfdood”, het ek die verandering verwelkom. Die woord “selfdood” het vir my so ’n lastige teologiese klankie waaraan ek swaar sluk. Daarom vind ek dit ook maar aardig om op bl 36 te lees dat iemand selfdood “pleeg”. Ek sou dit eerder wou laat lees dat mens “sterf weens selfdood”.

En dan val die woord “massamoordenaar” op bl 57 ook ietwat vreemd op. Ek is geleer dat ’n massamoordenaar iemand is wat ’n klomp mense op een slag doodmaak, soos Charles Manson, maar ’n reeksmoordenaar maak baie mense oor ’n lang tyd dood – dit kan selfs oor jare gebeur. As ek die begrippe verkeerd verstaan, vra ek by voorbaat verskoning.

Du Plessis se Boereverneukers is egter nie ernstige geskiedskrywing nie. Dit is nie gebaseer op primêre argivale bronne nie. Dit is bedoel om lekkerleesstof te bied, veral met die feesgety wat voorlê. En behalwe enkele krapperighede is daar weinig wat pla aan die boek. Maar wees gewaarsku: dit mag dalk ligte leesstof wees, dit mag dalk nie handel oor groot historiese figure soos Mandela en Gandhi nie, maar die sake wat bespreek word, is bloederig, en glad nie mooi nie. En van die figure wat in die boek bespreek word, soos Ralph Haynes, mag dalk vandag nog, vir al wat ons weet, in jou woonbuurt ronddwaal.

Ons sien uit na die volgende boek uit Du Plessis se pen!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top