Boer-tyne: 'n Familiefotoalbum uit Argentinië

  • 16

Boere op die aardsdrempel | Boers at the end of the world was vanjaar by die kykNET Silwerskermfees te sien. Cecil Dickason van Kaapstad gesels met Naomi Meyer oor sy betrokkenheid by hierdie film. Hy deel ook kosbare foto's en -byskrifte uit 'n Argentynse album van 1971. Die foto's verskyn tussendeur die vrae en antwoorde en ook onderaan die onderhoud.

argentina_dickason1

My pa ontmoet sy suster ná 33 jaar.

argentina_dick2

'n Groepfoto: ons en ons Argentynse familie

Hallo Cecil, ek het jou onlangs in ‘n film by die kykNET Silwerskermfees gesien, maar jy is nie ‘n akteur van beroep nie. Vertel asseblief vir ons lesers hoe jy betrokke was by die film Boere op die aardsdrempel?

Richard Gregory, die regisseur van die film, het te hore gekom van die groep Boere in Argentinië en het met hulle kontak gemaak. My kleinneef Ruben Dickason het hom genooi om vir hulle te kom kuier. Richard het intussen ontdek dat ek familie is en het my gekontak.

argentina_dick3

'n Plaas naby Sarmiento

argentina_dick4

'n Ou plaashuis

Vertel asseblief vir ons lesers van hierdie gemeenskap Afrikaanssprekendes in Argentinië?

Die Argentynse regering het in 1902 grond aangebied vir Boere wat sou belangstel om daarheen te emigreer. In 1902/1903 het 484 Suid-Afrikaners inderdaad daarheen geëmigreer agv ongelukkigheid om onder ‘n Britse regering te staan.

In 1908 het my oupa se swaer, wat na Argentinië verhuis het, hom omgepraat om ook daarheen te emigreer. Hy het met sy gesin, vrou en sewe kinders vertrek en daar gaan woon en ‘n agtste kind is gebore. My pa was die oudste seun. My ma is met ‘n aparte groep oor. Hulle het daar ontmoet, is getroud en het nege kinders daar gehad. In 1938 het ‘n groot aantal Suid-Afrikaners besluit om terug te keer (die NG Kerk het dit blykbaar gereël). My ouers met hul kinders het besluit om terug te keer. My pa was bang dat hul godsdiens en taal verlore sou gaan. Ek is hier as tiende kind gebore.

argentina_dick5

'n Foto van my en Pa by sy broer en familie

argentina_dick6

Skaapskeerders met hul voertuig en implemente

Van wanneer af weet jy van die bestaan van hierdie familielede van jou?

Ek was maar my hele lewe bewus gewees daarvan. In 1971, toe my pa nog gelewe het, wou hy graag weer sy vyf broers, twee susters en hul families besoek. Ek en my vrou, my een suster en haar man het hom vergesel.

argentina_dick7

Die Blackie-familie met my vrou en suster

argentina_dick8

Ek met my pa en sy broer

Die titel van hierdie film het my onmiddellik laat wonder hoe mens ‘n fliek maak met ‘n gelaaide term soos “Boere” daarin. Jy, wat al in Argentinië was: hoe ervaar jy hulle omgaan met Afrikaans?

Die Afrikaans wat hulle praat, is wat hulle in 1902 gepraat het. Dit herinner partykeer aan Hollands. Hul Bybels was nog in “Hoog-Hollands”. Daar is maar min mense wat nog Afrikaans kan praat. Meestal die ouer garde. Hulle houding is dat hul nog trots is op hulle Afrikaans, maar besef dit kan nie vir altyd voortbestaan nie en in hulle land is die voertaal Spaans. Nie een van die kleinkinders verstaan of praat Afrikaans nie.

argentina_dick9

NG Kerk in Sarmiento

argentina_dick10

My pa met ander broer en familie

Dis wonderlik vir my om uiteindelik vrae te kan stel aan iemand wat in hierdie film te sien was, want ek het weke lank gesukkel om met die Argentyne in gesprek te tree. Vertel my asseblief in jou eie woorde van hierdie mense in Patagonië.

Jy moet onthou dat 1971 ‘n lang tyd gelede is. Toe ons daar was, het baie nog Afrikaans gepraat. Op die oog af kry die mense daar maar swaar. Die jongmense stel nie meer belang in boerdery nie. Die hedendaagse olienywerheid het alles verander. As mens nou na hulle plase kyk, blyk dit dat dit nie meer die welvarende “Boere”-gemeenskap is nie.

argentina_dick11

My pa se jongste broer

argentina_dick12

Ek, my pa, sy broer en familie

Van taal gepraat: een van die ander redes hoekom ek sukkel om met hulle in gesprek te tree, het die taalkundige wat in die film verskyn (Andries Coetzee) my vertel, is dat die meeste van hulle inderdaad sprekers is van Afrikaans, maar nooit daarin geskool is nie. Dus sterf die taal saam met hulle. Wat is hierdie mense se verbintenis met taal en wat is eerder hul verbintenis met Suid-Afrika en ander gebruike (soos melktert en volkspele, sê nou maar).

Afrikaans praat sal sekerlik uitsterf, maar ek twyfel sterk of hul “verbintenis” met Suid-Afrika ooit tot ‘n einde sal kom. Dit is nog baie lewendig.

Ek het eintlik nie meer kontak met my familie daar nie, eenvoudig omdat dié wat nog kan kommunikeer, die ouer mense is wat nie tegnologiese opleiding gehad het nie en ek nie Spaans kan praat nie.

argentina_dick13

My pa en vier broers

argentina_dick14

My pa se broer en dié se seun

argentina_dick15

Argentynse boere by 'n skaapbraai (Asado)

Beoog jy om weer in Argentinië te gaan kuier, of was 1971 die laaste keer?

Ek het nie eintlik ‘n begeerte om Argentinië weer te besoek nie. Daar is so min mense om mee te kommunikeer. Hulle lewe in ‘n wêreld van hulle eie en is duidelik baie gelukkig met hul omstandighede. Dieselfde geld seker vir hulle omdat hulle nie Engels kan praat nie.

argentina_dick16

Comodoro Rivadavia

argentina_dick17

Nog Argentynse familie van my swaer

argentina_dick18

Soos net die wind normaalweg daar kan waai

argentina_dick20

Boere speel speletjies (dobbel) by 'n lammermerkery

argentina_dick21

My swaer saam met Pitchie

argentina_dick22

Ons verken die landskap op 'n plaas

argentina_dick23

My pa op 'n perd by Gauchos

argentina_dick24

My vrou op die perd

  • Dit is onduidelik hoeveel mense daar in Patagonië woon wat nog Afrikaans praat. Na raming is daar tussen tien en dertig Afrikaanssprekendes wat nog lewe. Niemand van hierdie mense het skoolonderrig in Afrikaans ontvang nie en kon dus nie op Afrikaanse e-pos-navrae reageer nie. Die film Boere op die aardsdrempel sal binnekort by sekere filmteaters vertoon en ook later op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.
  • Lees ook 'n onderhoud met die film se vervaardiger.
  • 16

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die vraag is of dit nie 'n voorskou is van wat met Afrikaners in Suid-Afrika (en ook in die res van Afrika) gaan gebeur nie.

  • Huldah van Wyk (Eloff)

    My oupa en sisters was in die konsentrasiekamp. Na die oorlog het sy ouer broers ook hierheen gegaan, Eloffs

  • My oupa Anthony William Thompson COOK was een van die boere wat in 1903 emigreer het. My pa was op daardie stadium 9jr oud. In 1938 het my oupa, ouma my pa en een oom teruggekeer na SA. My oom en sy gesin het weer terug na Argentinië gegaan en na my oupa se dood het my ouma weer teruggekeer na al die kinders. Ek het kontak met almal daar verloor maar gelukkig deur FB weer kontak met ’n paar gemaak, die meeste praat egter Spaans en korrespondeer met ’n paar in Engels en gebruik Spaanse vertaling. Slegs een van my niggies is nog lewend.

    • Cristian Kokot

      My great-great grandfather was Anthony William Thomson Cook O' Brien, he was married to Johanna Katherina Wilhemina Malan. My great-grandmother was Jacomina Dorothea Cook and my grandfather was Anthony Frederick Kokot Cook. You and my grandfather were cousins. You are part of my family, so. Nice to meet you, Louis Cook.

  • Lourens Henning

    Ek is ook 'n direkte afstammeling van die Boere in Argentinië. My oupa PH Henning het 'n boek oor hul ervarings daar gepubliseer. Ek korrespondeer met 'n reuse-groep van die mense in Argentina. Nou die 3e en 4e geslag met Afrikaanse vanne en verstaan net Spaans of Engels.
    Hul beroepe wissel vandag van boere tot mense met akademiese kwalifikasies.

  • Ons het ook familie daar. My Oupa en Ouma kom van daar af terug en hulle het eenkeer by ons kom kuier hier in SA. Dis hoe ek geleer het van 'n Asador - 'n skaapbraai - vandag nog maak ons die oorspronklike Asador-sous waarmee die skaap gespat word. Flip, hoe water my mond nou. Sou bitter graag met ons familie aan daai kant in aanraking wil kom.

  • My skoonpa, Gideon Petrus Hand is ook in Commodore Rivadavia gebore. Hulle het ook teruggekeer na SA. Twee van sy susters het egter daar agtergebly aangesien hul reeds getroud was.

  • Christo Kruger

    My oupa het ook in 1903 oorgegaan en gaan boer by Commodore Rivadavia. My vader is een van 9 kinders wat daar gebore is en my oupa het toe teruggekom na SA. Die dag toe hul op die skip klim is die oudste seun getroud en het toe in Argentinië gebly. My ouers het gaan kuier in 1982 en die familie van daar was agterna ook in SA. My niggie van daar "Hilda" het geleer om Afrikaans te verstaan maar kommunikeer in Engels. Ek sal baie graag eendag self soontoe wil gaan om te kuier. Ook braai ons skape op die Asado-manier en ek het al heelwat vir funksies gebraai. Groete Christo Kruger

    • Christo van Eeden

      Goeie middag, My moeder, nooi Kruger, is ook in Commodore Rivadavia gebore. Ek sou graag met familie wie nog daar woonagtig is, kontak wou maak. Miskien kan u help met inligting van hoe ek te werk moet gaan. Groete

  • My oupa was Marthinus Visser. Hy was een van die leiers van die repatriasie. Die predikante het by hulle tuis gegaan wanneer hulle kom besoek het en die kerk se kar was in sy toesig. Hy het twee plase gehad maar op die dorp gebly en in die week by die Duitse Groothandelaar gewerk as bestuurder. My ma is daar gebore.

  • Paul Liebenberg

    Ek was 'n donateur tydens die beginjare om finansiering mbv Indigogo vir die film te verwerf. Vanaf die begin volg ek dus hierdie verhaal met veel belangstelling en heimwee. Wonderlik om die foto's en verhale hier te kan lees van direkte nasate wie se wortels ook vir ’n deel hier lê. Self ook gebore en getoë op 'n plaas in Suidwes, dus my hart trek 'n punt as ek oor hierdie geskiedenis lees.
    Is dit moontlik dat iemand my in kontak kan bring met Cecil Dickason? Ek woon tans in Nederland maar gaan eind Februarie 2016 vir 'n troue Buenos Aires toe. 'n Vriend en ek sou dolgraag by hierdie laaste groepie Afrikaanse boere wil gaan inloer vir 'n dag of twee. Ons hoop is om stories uit te ruil, foto's te deel en in samesyn ons lewensverhale te kan uitruil.

    • John Dickason

      Ek vra verskoning, ek sien hierdie nou eers.
      Cecil Dickason is my Oom. Ons noem hom Wessel. Sy foonnommers is:
      0826763933 (sel) en 0219812666 (huis).

      Hy was my oorlede Pa (Fredrico Roberto Dickason) se jongste broer.

      Hoop jy kom reg?

  • Eugène Visagie

    Oor PH Henning se boek " 'n Boer in Argentinië": as iemand 'n goed bewaarde eksemplaar van dié boek het, sal ek dit baie graag wil oorneem of koop. Ek sal ook betaal vir die verpakking en posgeld.

  • Dit klink amper soos ’n Van der Merwe-grap, maar ek sou graag na Pategonië wil verhuis om voltyds die Afrikaanse taal en godsdiens, op my koste, te gaan bevorder.

  • PH Henning was my oupagrootjie. Ek sal ook graag 'n kopie van sy boek wil hê as iemand dalk weet waar ek dit kan opspoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top