Boemelaarbraai

  • 1

Vanaand as jou verwaandheid oor die bulte verdwyn,
en die kole van jou braaivleisvuur in die ounag wegkwyn,
dan kruip ons uit die skadu's op die gras
langs die parkering waar ons jou motor oppas.
Bedags is die parkie, waar jy en jou mense rinkink,
en gesellig nog 'n tjoppie eet of 'n doppie skink,
ma' vannag het ons Spar-varkvleis, buns en 'n slaai
want vanaand hou ek, Rett en Joe, 'n boemelaarbraai.

Joe skink die eerste ronde van ons twintig rand dop,
en ons eet die buns sonder 'n smeertjie botter daarop.
Met die sluk van rondte twee is die varktjops amper gaar
ma' dit gat maar moeilik met net die liggie van 'n selfoon daar.
"Gebrande varkvleis smaak orraait effens dronk"
sê ou Rett, en die man ken van, want hy was mos innie tronk.
Aan die einde van rondte drie begin my kop te draai,
maar wie worry, want ek, Rett en Joe hou boemelaarbraai.

Na ronde vier se skink hou ons almal op met tel,
en in die flou lig begin ons stories van beter tye vertel,
van Rett se vrou en sy huwelik se hartseer lot
en van waar ons vanaand slaap in Wildernis se grot.
Joe sal vanaand sommer hier in sy bakkie slaap
en in oggend dalk sy mense bel da' innie Kaap.
Dan uit die bloute sê ou Rett, "Nou wat nou vannie slaai?"
maar ons lag net, want ek, Rett en Joe hou boemelaarbraai.

Skuins na tien is dit Joe wat ons laaste doppie skink
en teen nou het ons gelag, gehuil en al ons sorge verdrink.
Met dronk oë kyk ek na die twee manne hier langs my,
wat net soos ek weet van honger slaap, seer en swaarkry.
In die bitter koue hier buite, kan nie help om te wonder
is hierdie dalk ons laaste nag, was dit ons laaste sononder?
Maar wat ook al môre gebeur en hoe ook al dinge draai,
vanaand het ek, Rett en Joe 'n boemelaarbraai.

Vannag lê ek in my bed en dink ek aan daardie nag terug,
aan ons cheap Vodka en die grot by Wildernis se brug.
Dan wonder ek soms wat het geword van Rett en Joe,
is hul nog boemelaars en waar is hulle nou.
Soos ek my oë sluit en wegdryf in 'n droom
sien ek weer ons Spar-tjops op die kole onder die boom.
Daai nag was dalk net goedkoop dop, vleis, droë buns en slaai,
maar ek sal altyd onthou vir Rett, Joe en ons boemelaarbraai.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top