Boekresensies: Lemoenseisoen en Sjokoladesoene deur Kristel Loots

  • 1

Lemoenseisoen deur Kristel Loots, ISBN: 9780799377590

Sjokoladesoene deur Kristel LootsEAN: 9780799377606

LAPA Uitgewers

 

Ek is ʼn voorstander van gesonde dissosiasie. Daardie ding wat ʼn mens saans doen ná ʼn dag se harde werk wanneer jy voor die televisie neerval en jou aan ʼn storie oorgee waaroor jy nie hoef te dink nie. Die oomblik wat jy so te sê vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom.

Ek wil nie altyd met iemand in ʼn storie identifiseer nie – soms moet hulle baie ver van my verwyder wees sodat ek net kan afskakel en oor niemand bekommerd hoef te wees nie. Dit is die rede hoekom ek die onvergeeflike sonde doen en sommer in die helfte van ʼn boek, die einde lees net om van die spanning ontslae te raak sodat ek die boek oomblik vir oomblik, sin vir sin, kan geniet.

Toe Lemoenseisoen en Sjokoladesoene van Kristel Loots op my lessenaar beland, het ek my reggemaak vir lekkerleesstories wat nie spanning in my oplaai waaroor ek ná die tyd nog loop en worstel nie. Dit is toe ook so. Dit is ʼn lees wat jou nie met ʼn swaar gemoed in ʼn woestyn van emosies los nie.

Elke storie het ʼn goeie afsluiting, natuurlik met die liefde wat seëvier. Dit het ʼn mens ook nodig – die veiligheid en voorspelbaarheid van ʼn boek se verloop sodat jy nie nodig het om daaroor ook te stres nie. Asof die lewe jou nie genoeg stres gee om te hanteer nie, is daar oorgenoeg boeke wat ʼn mens in die dal van doodskaduwee los.

Soms wil ʼn mens net weggevoer word na die utopie van liefde en jou verbeel dit is presies hoe dit in die werklike lewe gebeur. Kristel Loots kry dit reg om met haar liefdesromans ʼn mens weer in die genot van liefhê en die oorgawe aan die liefdesdaad te laat glo.

Hiervan gepraat: Baie duidelik het ek nie tred gehou met die hedendaagse liefdesroman nie. ʼn Heerlike, smaakvolle stuk erotika maak deel uit van haar boeke. Loots se stories loop op na ʼn klimaks (woordspeling so bedoel), maar nie sonder ʼn morele kode wat sy daarby inwerk nie. As leser kom jy agter die sekstonele is nie net ter wille van die erotika of omdat dit mode is nie, maar ʼn natuurlike vloei uit die verhouding van twee mense wat mekaar liefhet.

O my goeiste, die tonele wat sy in jou kop agterlaat! Al wat ek kan sê, is: lees Loots se boeke as jou verhouding so effens vervelig geraak en ʼn opkikkering nodig het.

Lemoenseisoen

In Lemoenseisoen lees ons van Suzy, die predikantsvrou wie se huwelik met die stywe, vaal Frederick juis die opkikkering nodig het. ʼn Mens kry dadelik ʼn idee van die toestand van hul huwelik toe sy met haar verleidelike nagrok op sy lessenaar voor hom gaan sit terwyl hy besig is om preek te skryf (ter verdediging: blykbaar die mees ongepaste tyd vir ʼn predikant) en hom probeer verlei. Haar man, wat al lankal nie meer by haar in dieselfde bed slaap nie, wuif haar weg.

“Vir Frederick was sy ʼn meubelstuk, handig genoeg, maar nie kosbaar genoeg om af en toe te poleer nie. ʼn Tafel of ʼn stoel wat kon praat, wat om sy ore kon kerm en op ʼn ongeleë tyd na ʼn quickie verlang het. Dis al.”

Suzy voel verwerp deur Frederick, met wie sy nie meer ʼn emosionele verhouding het nie, asook hulle enigste dogter, wat met ʼn heelwat ouer geskeide man uitgaan en haar rug op haar ma se teregwysings draai. Boonop het Suzy ʼn geheim wat sy uit haar verlede met haar saamdra.

By ʼn sosiale geleentheid ontmoet Suzy die suksesvolle, aantreklike Dante del Marco met die voorliefde vir lemoene. Toe sy hoor hy het ʼn persoonlike assistent nodig wat saam met hom Londen toe moet reis vir ʼn sakeaangeleentheid, dring sy haar op aan hom. Sy wil die werk hê, want haar geheim se oorsprong is in Londen. Dante word haar gratis vlugkaartjie na Londen. Maar sy het nie rekening gehou met die liefde nie en kort voor lank is sy verlief op haar werkgewer.

Toe Suzy boonop op haar man afkom waar hy die orrelis se hand net te lank vashou, stel sy ʼn egskeiding voor en neem selfloos die skuld op haar voor die kerkraad en gemeentelede. Hulle moes in elk geval nooit getrou het nie, sê Suzy vir die protesterende Frederick, wat die beeld na buite probeer volhou ongeag die liefdelose huwelik wat weens sentimentele redes voltrek is.

Suzy gaan saam Londen toe, waar die liefde tussen haar en Dante gedy, terwyl sy haar verlede oopkrap en die persoon vind na wie sy haar lewe lank soek.

Die storie is nie sonder diepte nie. Dit vertel van Mooi Marie, Suzy se ma wat mans te maklik in haar lewe en bed toelaat. “Mooi Marie is nog mooi; dit vat net langer om dit raak te sien.” En van die effek van ʼn buite-egtelike swangerskap in die tyd toe die kerk sensuur toegepas het en ʼn aborsie net in die buiteland gedoen kon word.

Dit vertel wat geheime aan mense doen. Die storie is nie verwyder van die werklikheid nie en net wanneer jy dink dit is maklike leesstof waarin jy kan wegraak tussen die liefde en belustigheid, kom vat dit aan jou wanneer jy met ʼn karakter identifiseer en skielik is daar ooreenstemmings wat net te na aan jou eie lyf is.

Maklike lees? Miskien, maar met ʼn goeie skoot afwagting. Gelukkig is dit steeds nie nodig om halfpad deur na die einde te blaai nie – die spanning is een wat jy kan hanteer, want ʼn gelukkige einde is om die draai.

Sjokoladesoene

Soos in Lemoenseisoen is daar in Sjokoladesoene ook ʼn dieper tema en hierdie een is bekend met baie van ons, naamlik kos en die soms ongesonde liefde daarvoor. Jessie en haar suster, Debbie, se swak verhouding met kos het sy ontstaan by hulle ma, wat haar dogters van kleins af geweeg en kos van hulle weerhou het om te verseker dat haar kinders se figure perfek is. Die gevolg is dat die volwasse Jessie haar troos by sjokolade vind. Appels en pere werk nie vir haar nie.

Haar vriendin Ina sê: “Jy’t so ʼn mooi lyf, daar’s net te veel daarvan.” En toe Andries, haar man, met ʼn jonger, maerder model wegloop, kan sy haar behoorlik aan die troos van soetgoed oorgee. Sy moet verwerk wat haar man aan haar gedoen het, maar ook die verdwyning van haar suster uit haar lewe. Boonop sien sy haar kinders min omdat hulle verkies om by hulle pa en sy nuwe jong meisie te kuier.

Tot sy op ʼn dag in Bruno Baumann, mede-eienaar van ʼn modelagentskap, vasloop en hy dadelik die potensiaal in haar raaksien vir ʼn advertensie vir meer volwasse vroue wat nie lyk of hulle op ʼn hongerstaking is nie. Wie sou kon raai dat Jessie, wat so selfbewus oor haar liggaam is, as model gebruik word?

Sy en Bruno word vriende en hy neem haar op ʼn rit van selfontdekking en selfaanvaarding. “In elke voorstedelike vrou skuil daar ʼn roekelose rebel wat gevaarlik wil leef, en dinge wil doen wat glad nie by haar status en statuur as ordentlike en middeljarige vrou pas nie.”

Terselfdertyd moet Bruno ook sy bagasie “wat hy soos ʼn woonwa saam met hom sleep”, hanteer. Dit pla hom dat hy nooit weet of wat hy doen ooit sy pa se goedkeuring sal wegdra nie. Met haar gul geaardheid help Jessie die gesin om ʼn gebeurtenis uit hulle verlede te verwerk.

Toe Jessie agterkom dat sy gevoelens vir die gesofistikeerde Bruno ontwikkel en wilde fantasieë oor hom koester, maak sy ʼn blikkie kondensmelk oop en drink die hele blik leeg om haar aandag op iets anders te rig as die man wat verkies om ʼn alleenloper te wees en nog nooit daarin belang gestel het om te trou nie. Dit is dan ook die oomblik wat sy besef “sy grou haar graf met haar tande en dat sy haar lyf verniel omdat sy enige gemors daarin stop in ʼn poging om van die gat aan die binnekant ontslae te raak.”

Toe Bruno haar vra wat sy van ʼn man verwag, antwoord sy “dat sy ʼn vurige man begeer, iemand wat by tye na haar sal kyk soos ʼn wolf wat haar wil verslind”. En dit is wat sy in Bruno kry. Die weerstandige man val soos ʼn mak lam voor Jessie.

Ek was aangenaam verras. Kristel Loots se boeke is soos liefdesromans behoort te wees; fantasie gemeng met realiteit, ʼn paar lewenslesse om geloofwaardigheid aan die storie te gee en net genoeg erotika om mens lus (is dit die regte woord?) te maak vir nog.

  • Juliana Coetzer, psigoterapeut en skrywer van Bloedvreemd
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top