Boekresensie: Vergete leuens deur Lien Roux-de Jager

  • 0

vergete_leuensVergete leuens
Lien Roux-de Jager
Uitgewer: LAPA Uitgewers, 2016
ISBN: 9780799381092

Lien Roux-de Jager het al al die genres as skrywer ontgin: kinder-, jeug- en liefdesverhale, voor sy by misdaadromans beland het. Sy het ’n wenner beet met haar gewilde karakter, Kalli Krynauw, ’n forensiese psigofisioloog en een van Secret Intelligence Services se staatmakers. Dis die vyfde in die reeks met Donker leuens, Gekoopte leuens, Slim leuens en Onverwagse leuens die vorige vier, waarin lesers dié karakter en haar persoonlike lewe baie goed leer ken het.

Daar is ’n lekker leesritme, wat spruit uit die feit dat die voetwerk om Kalli as karakters by lesers te vestig, gedoen is en dit ’n selfvertroue in die skryfwerk na vore bring.

In haar nuutste saak word sy weer betrek by moorde, ná ’n rapse meer as vier jaar by die huis as ma. Sy wou juis weer iets aanpak om haar brein aan die gang te kry, toe die oproep van SIS kom.

Saam met die span, probeer sy drie moorde in ’n luukse gesellinklub ontrafel. In hierdie proses leer sy wel veel meer van prostitute, van die ingewikkelde en tragiese lewe wat hulle tot prostitusie aanspoor, maar niks wat vir die moordondersoek van waarde kan wees nie. Telkens laat ’n leidraad haar weer in ’n doodloopstraat beland.

Die dringendste vraag is hoe die moordenaar – indien dit dieselfde persoon is – toegang tot dié streng bewaakte klub gekry en weer sy pad na buite gevind het. Dan is daar ook die kwessie van die modus operandi in die eerste en tweede moorde wat soortgelyk is, maar in die derde anders is. Ook die tydsverloop tussen die drie moorde bring sy eie vrae.

Kalli voel ook effe van stryk gebring in haar spesialisveld omdat sy hierdie keer eerder met slagoffers as misdadigers werk en dit moeilik is om hulle klein detail te laat onthou as hulle eintlik net die gesigte en maniertjies van hul kliënte ná elke besoek wil vergeet. Sy word keer op keer genoodsaak om haar taktiek te verander en die vroue as brose slagoffers van hul verlede te benader.

Uiteindelik moet Kalli haar instink volg en aanvaar die raaisel van hierdie moorde lê by die gesellinne, maar om deur hul vrees, woede en angs te breek omdat hulle in die klub soos gevangenes moet bly ná ’n dreigbrief hulle almal se lewens bedreig, is geen maklike taak nie.

Haar geselsies lei haar uiteindelik na ’n wêreld van kindermolestering en die afskuwelike gevolge daarvan.

Hierdie keer besef sy ook dat nie net haar veiligheid is wat op die spel is nie. Haar klein dogtertjie is weerloos; sy moet beskerm word en Kalli moet na haar eie veiligheid ook omsien. Sy wil nie haar kind sonder ’n ma laat grootword nie.

Agter in die boek verwys die skrywer na haar bronne en bedank ook die forensiese psigofisioloog Mariana en speurder André vir hul hulp en raad tydens die skryfproses. Die hoeveelheid navorsing wat hierdie boeke verg, is duidelik in die deeglike dokumentering van die leidrade en hoe die span by hulle uitkom. Dis logies en vloei gemaklik en laat voel die leser asof hy of sy die proses in beelde kan sien, eerder as die paragrawe lees. Dis ’n talent wat met ondervinding geslyp word.

Die storie begin goed en haak die leser gou, maar sowat ’n derde in blyk dit asof die skrywer effe verdwaal het tussen die vele afdraaipaaie wat die storie met oortuiging kon neem. Dit trap bietjie water voor dit weer momentum kry, maar daarna sit jy in een sitting en maak die boek klaar.

Daar is hier en daar hinderlike herhalings regdeur die boek wat amper die indruk skep dat die leser onderskat word. Dit kon met ’n laaste redigering uitgestryk gewees het, maar die verhaal is steeds boeiend, insiggewend en openbaar ’n diep begrip van seer, veral soos wat die prostitute se hartseer verledes en menslikheid ontgin word.

Die boek staan goed op sy eie voete en bring genoeg inligting na vore sodat die leser nie hoef te voel dat hy iets misgeloop het indien hy nie eerste vier boeke in die reeks gelees het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top