Boekresensie: Verdriet se moses deur Helm Jooste

  • 0

verdrietsemoses650

Verdriet se moses
Helm Jooste
Protea
EAN: 9781485300663

In Helm Jooste se Verdriet se moses slaag die skrywer daarin om met groot nostalgie oor die “ou Suidwes” te skryf. Die staaltjies kom uit die hart van ‘n meesterstorieverteller en wek heimwee – selfs by ‘n jong leser wat dié land net as “Namibië” ken.

Deur Jooste se boek kom die leser op ‘n vermaaklike wyse met groot figure in die land in aanraking, onder wie dokter en politikus Frank Marais en Hentiesbaai se Hentie van der Merwe. Hierdie is nie mense wat ek as jong Namibiër ooit die voorreg sou gehad het om te leer ken, anders as in die koue feite van geskiedenisboeke nie.

Dokter Marais se kaskenades op die Hentiesbaaise strand met ʼn hond en ʼn visstok laat jou skaterlag. Dan is daar ook “die pienk doek onder ʼn boom wat kaalbas die bosse invlug en die vertelling oor ouma se “spook” wat ʼn gas in die huis groot laat skrik. Die unieke en boeiende versameling kortverhale is in ligte trant geskryf en dit is duidelik dat die skrywer bedoel het om te plesier.

Wat die boek veral aanklank by enige Namibiër laat vind, is dat Jooste oor sekere raakpunte skryf: kleine Kleine, die Nord Hotel, Etosha, braaivleisvuur, Hentiesbaai, Grootfontein asook verskeie ander Namibiese dorpe en mense. Dit is lekker om te lees oor dit wat goed bekend aan jou is.

Hy skryf ook oor die mense van die land, wat lesers sal herken omdat Namibiërs tot vandag toe nog in essensie dieselfde gebly het: “(Suidwes is) ’n plek waar vrinne mekaar help om verdriet af te skud, waar elke kuier eers met ‘n laaste kleine Kleine afgerond moet word en jeugdige joligheid ’n mens jare later nog kan laat skater.” Hierdie keur verhale oor die ou Suidwes en sy sout-van-die-aarde-karakters word aangevul deur Fred Mouton se unieke illustrasies.

Die boek beloof aha-oomblikke vir ouer “Suidwesters” wat iewers ‘n naam sal herken. Vir jonger lesers vertel die skrywer ook hoe dinge destyds gewerk het; dit leer jou op ʼn manier oor jou wortels en herkoms en jy besef dat alles wat ons vandag hier het, nie maklik of vinnig gekom het nie.

Die boek getuig van Jooste se heerlike humor en sy onfeilbare aanvoeling vir die komieklike situasie in die gewone gang van die menslike bestaan. Die skrywer laat jou lag, verlang en lekkerkry. Soms pink jy ‘n traan, want die boek is ook met groot deernis geskryf.

As leser het ek soms gewonder of alles in die boek werklik kon gebeur het, maar Jooste lieg geen storie dóód nie. Hy slaag daarin om jou ook met verlange te laat terugdink aan “Suidwes” en sy vervloë dae, of jy daar was of nie.

Jooste is ʼn paar jaar gelede oorlede, maar dra steeds die nie-amptelike kroon vir “bobaasverteller oor die ou dae in Namibië”, aldus skrywer Audrey Blignault. Hy het vir meer as vyftig jaar lank in “Suidwes” gewoon, waar hy sowat 25 jaar lank onderwys gegee het en vir vyftien jaar lank 'n sakeman op die noordedorp Otjiwarongo was.

Hy het naderhand ook burgemeester van Otjiwarongo geword – ʼn posisie wat hy vir etlike jare beklee het. Hy was ook as ʼn beesboer in die Grootfontein-omgewing bekend. Ná sy aftrede in 1980 het hy in die Strand gaan woon, maar sy boeke getuig dat Suidwes ʼn blywende indruk gelaat het. Hy het sy eerste boek op die ouderdom van 80 jaar geskryf.

Soos sy vorige boeke, Daar doer in Duitswes (1989) en Dinge daar doer (1992), is Verdriet se moses (EAN: 9781485300663) ‘n moet-lees vir elke oud-Namibiër wat hom- of haarself elders bevind en soms na die woestynland terugverlang. Ook vir elkeen wat lief vir hierdie land is – jonk of oud.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top