Boekresensie: The Good Story deur JM Coetzee en Arabella Kurtz

  • 2

The Good Story. Exchanges on Truth, Fiction and Psychotherapy.
Arabella Kurtz, JM Coetzee
Harvill Secker, Londen

Is die psigoterapeut nie maar net ‘n medeskrywer van stories vir die self en sy verlede wat die pasiënt kan help om produktiewer en gelukkiger aan te gaan met sy lewe nie? Hoe antwoord die Freudiaanse psigoterapie hierop? Waarom glo die selferkende “fictioneer” Coetzee dat die terapeut van vandag “waarheid” voorop moet stel? In watter mate kan eietydse postmoderne en postreligieuse psigoanalise probleme van die samelewing toelig?

Lees ook:
Video: David Attwell on JM Coetzee and The Life of Writing
Coovadia, Coetzee and the literary field of post-apartheid South Africa

The Good Story bundel ‘n briefwisseling tussen JM Coetzee en die professionele psigoterapeut en dosent Arabella Kurtz. Die gedagtewisseling het in 2008 begin in die vorm van e-posse wat in 2010 in die tydskrif Salmagundi gepubliseer is. Die bedoeling van die gedagtewisseling en bundeling word in die inleidende “Author’s Note” soos volg saamgevat: “The exchanges are premised on the idea that something is to be gained by a therapist exploring their practice in the company of an outsider to the discipline of psychology” (vii).

Die uitruilings word in 11 hoofstukke met ‘n bronnelys en glossarium van psigoanalitiese terme en met opsommings boaan elke hoofstuk aangebied. Hierdie versamelde kommunikasies met hulle vrae, stellings, reaksies, argumente en voorbeelde uit die terapeutiese praktyk en die letterkunde is besonder lesenswaardige ekskursies.

Die gesprek word ingelui met Coetzee se vraag: Hoe vertel ek (as skrywer of outobiograaf) “my storie”? Wat laat ek weg, gedagtig aan Freud se waarskuwing: “(W)hat I omit without thinking … may be the key to the deepest truth about me?” (2). Wat “stories” betref, antwoord Kurtz, is dit die taak van die psigoanalitiese terapeut “to analyse the resistances to its telling so that an individual’s story can emerge as full and coherent and engaged a way as possible” (3).

Die “Author’s Note” beskryf Coetzee se rol as dié van “a sympathetically disposed writer and literary critic” (vii), maar die Coetzee wat hier aan die woord is, is intens betrokke en intellektueel skerp, met die gevolg dat ‘n mens soms wonder of hy skeptiese problematisering as sy eie besondere bydrae sien. As dit almal vry staan om hulle eie stories te maak, argumenteer hy, dan kan ons pynlike of kompromitterende misdade en wandade uit ons verledes wegmaneuvreer deur middel van ‘n positiewe storie oor ons lewe en onsself.

As Kurtz opmerk dat dit op die onderdrukking van ‘n psigiese inhoud kan neerkom wat in die persoon se werklike verhoudings groot skade kan aanrig, wys Coetzee daarop dat sulke “mask-narratives” wel ‘n suksesvolle lewe tot gevolg kan hê. As ons sou ooreenkom om mekaar se “as if”-narratiewe of -fiksies te aanvaar (vervolg Coetzee met wat na sardoniese logika lyk), “there is no reality to crash against” (4).

Dit lyk of Coetzee sinspeel op ‘n eietydse samelewing wat individuele trauma sien as iets wat effektief – met behulp van ‘n modieuse terapie – oorkom moet word in die naam van “well-being”, “self-innovation” en produktiwiteit. Kurtz se beskrywings van die werkwyse en sin van psigoanalitiese terapie maak dit duidelik dat dit vir haar nie om lewensberading (“life coaching”) gaan nie.

Die bundel plaas homself in “the age we live in” (68). Kurtz beskryf haar werk as ‘n psigoanalise vir die postreligieuse, postmoderne era waarin die kritiese en bewuste denker vasgevang is in ‘n “double awareness”. Met verwysing na die postmoderne historikus (ook ‘n storiemaker?) sê Coetzee: “(O)ne believes sincerely in the truth of what one is writing at the same time that one knows that it is not the truth” (76).

Die ontleding van die argumente waarmee postkoloniale samelewings ‘n verlede van etniese of rasse-onderdrukking (Coetzee gebruik Australië as voorbeeld) rasionaliseer, sal vir baie lesers boeiend wees. Psigiese repressie en die herhaling wat dit tot gevolg het kom ter sprake, asook sosiale diskoers as verdedigingsmeganisme. “I write not in a cool, scientific spirit but under the sway of feelings,” skryf Coetzee as hy die huidige Australiese immigrasiebeleid as ‘n “strategy of doublethink” beskryf (89). Kurtz se uitleg van Melanie Klein se skisoïed-paranoïese psigiese fase is nie net in die konteks van die boek insiggewend nie. Dit sou van toepassing kon wees op die motiverings vir terreuraanvalle en internasionale reaksies daarop.

Om Coetzee se stem as die dinamiese faktor van die boek te bestempel, soos baie resensente doen, is om Kurtz se rustiger, oortuigde en helder formulerings en konsekwent pasiënt-georiënteerde instelling te onderskat. In die psigoterapeutiese proses word, aldus Kurtz, die pasiënt se verbeelding bevry, nie om gelukkiger stories of fiksies op te bou nie, maar “in order to help see what does not hold, so that a more convincing underlying story may emerge” (2). Die terapeut probeer om die pasiënt te begelei na ‘n kreatiewe moment van insig en ‘n nuwe bewustheid as hy sy eie emosionele waarheid herken – ‘n pynlike proses. Vasgelegde waarhede en sienings van die werklikheid word uit die terapie-ervaring uitgesluit.

Die professionaliteit en outentisiteit van albei deelnemerstemme speel ‘n groot rol in die waarde van die bundel.

Kurtz en Coetzee se boek is hier bo as “ekskursies” beskryf. Daar nie ‘n vaste roete nie, soos die “Author’s Note” ook waarsku. Dit boots nie ‘n vraag-antwoord- of argument-respons-model patroonmatig na nie. Dis moeilik om in ‘n resensie reg te laat geskied aan die intensiteit en gedetailleerdheid van sekere gedagtewisselings. Die oop struktuur met sy vermyding van finale sinteses is ‘n uitnodiging tot enige leser wat betrokke wil raak.

Vir Coetzee-lesers en -navorsers is daar heelwat van belang. Coetzee “bely” byvoorbeeld ‘n “longing or nostalgia for the one and only truth, a longing that I myself happen to feel strongly” (6). Vir ‘n sogenaamd postmoderne skrywer is dit ‘n onverwagte erkenning. Praat Coetzee hier uiteindelik namens homself – “under the sway of feelings” – of is hy tog nog die skrywer ágter die “strong opinions” van Diary of a Bad Year? Coetzee lug ‘n paar sterk persoonlike menings oor tendensieuse sake, soos die roman as terapie, en oor afstandsonderrig. Die besprekings van belydenis en skuld in die werk van Dostojewski – ‘n bekende belangstelling van Coetzee – is insiggewend, met Kurtz wat nuwe insigte verskaf oor die optrede van die priester-terapeut Tikhon in The Possessed. Die onvermoë van die geheue om die werklike gebeurtenis in die verlede teenwoordig te maak, die rol van verdraaiing en onderdrukking in die onthouproses, kry baie aandag en word eksplisiet met een van Coetzee se outobiografieë, Summertime, verbind.

The Good Story eindig met ‘n psigoanalitiese interpretasie van WG Sebald se roman Austerlitz wat ‘n hoogtepunt in die boek is.

Die boek is nie bloot gemik op literêre belangstellendes en Coetzee-aanhangers nie. Lesers wat self al terapie, veral psigoanalitiese terapie, beleef het, sal identifiseer met die pasiënt se frustrasie as ‘n terapeut nie ‘n “waarheid” oor homself, sy familie of sy baas wil onthul nie. Hulle sal waarskynlik saamstem met Coetzee se verbygaande opmerking dat psigoanalitiese terapie lank en duur is.

Die opset van die bundel dui sterk op gebruik vir studie, byvoorbeeld in ‘n akademiese seminaar. Die twee aanhangsels sal egter vir enige belangstellende leser nuttig wees. Saam met die oop struktuur gee die boek duidelik aan dat vir verdere (kritiese) lees, bespreking of gesprek bedoel is. Hoewel die klem op die psigoterapeutiese inslag in die “Author’s Note” in ‘n mate misleidend is, sou dit nie onvanpas wees om ‘n kliniese sielkundige of dosent om ‘n resensie te vra nie.

Die bespreking van groepspsigologie vanaf hoofstuk 9 is minder intens en boeiend, met die gevolg dat ‘n mens wonder of dit ingesluit is ter wille van sielkundestudente, vir wie dit waarskynlik goeie besprekingsmateriaal sou wees. Vir baie lesers mag die glossarium pedanties voorkom, en so ook skuinsgedrukte notas voor elke hoofstuk. Dit herinner aan ‘n konvensie wat soms by uitgawes van filosofiese werke voorkom, maar is waarskynlik die student en die gedagte-uitruiling ter wille. Dit versterk die indruk van ‘n bedoelde Sokratiese soort gesprek nie bloot tussen Coetzee en Kurtz nie, maar ook tussen die boek en enige moontlike leser.

In The Good Story gaan dit om veel meer as interessante briefwisseling (soos tussen Coetzee en sy medeskrywer Paul Auster in Here and Now). Dis ‘n kritiese interdissiplinêre eksperiment met twee ingeligte en noukeurige deelnemers wat vir baie lesers belangwekkend, stimulerend en relevant sal wees.

 

  • Marianne de Jong skryf hierdie indrukke in haar hoedanigheid as onafhanklike navorser.

 

 

 

 

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Besonder insiggewende resensie - dankie!
    Vir die Austerlitz-interpretasie onthalwe alleen al aanskaffenswaardig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top