Boekresensie: Swemlesse vir 'n meermin deur Marita van der Vyver

  • 0

swemlessemarita650

Titel: Swemlesse vir ’n meermin

Skrywer: Marita van der Vyver

Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624071044

Vir die meeste leesgieriges is Marita van der Vyver bekend vir Griet skryf ’n sprokie, wat in 1992 verskyn het. Dit was ’n blitsverkoper en het talle herdrukke beleef. Van der Vyver het dit met ’n rits volwassenefiksieboeke opgevolg en haarself sodoende as gerekende skrywer binne die Afrikaanse literêre kanon gevestig.

Sy vestig haarself aanvanklik as skrywer van jeugfiksie en debuteer in 1982 met ’n jeugroman, Van jou jas, gevolg deur Tien vir ’n vriend (1987), Eenkantkind (1991) en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom in 2010. Haar jongste jeugroman, Swemlesse vir ’n meermin, sluit tematies en inhoudelik aan by Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.

Hanna Hoekom, ook bekend as Hanna Minnaar, is ’n tienermeisie wat haar onstuimige puberteitsjare op onsekere dog dappere wyse aandurf. Wat haar egter van ander tienermeisies onderskei, is die unieke uitgebreide gesin met wie sy haar grootwordjare deel. Hanna se gesinslede is alles behalwe gewoon. Lesers maak reeds kennis met hierdie unieke karakters, soos haar eksentrieke kunstenaarma, Mana, en broers Tibo en Amos in Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Wat Swemlesse vir ’n meermin egter besonders maak, is dat lesers Hanna se verhaal sal kan volg sonder dat hulle die roman se voorganger hoef te gelees het.

Swemlesse vir ’n meermin handel, soos sy voorganger, oor Hanna se lewe en ervarings met haar eksentrieke gesinslede. Hanna is nou ouer en meer volwasse en is besig om ’n lewensgids te skryf vir haar heelwat jonger sussie, Ariel, wat aan die einde van Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gebore is. Deur die loop van die roman openbaar Hanna haar mees intieme gevoelens en gedagtes aan die leser as deel van die lewensgids wat sy skryf. Die titel van die roman verwys indirek na Hanna se lewensgids, aangesien haar raad aan haar jonger sussie ter voorbereiding vir haar tienerjare aan swemlesse gelykgestel word. Die roman is in afdelings verdeel wat oor allerlei aspekte wat tienermeisies affekteer, handel. Onderwerpe soos tienerliefde, adolessensie, kleredrag, vriendskap, verhoudings met ouers sowel as sekere sosiale norme word bespreek. Lesers moet egter nie dink dat Swemlesse vir ’n meermin ’n prekerige jeugroman is nie. Inteendeel, Van der Vyver se kreatiewe en boeiende skryfstyl bring mee dat enige prekerigheid vermy word. Hanna se lewensgids word op so ’n wyse saamgestel dat sy self tydens die skryfproses waardevolle lewenservaring opdoen.

In Swemlesse beklemtoon Van der Vyver weer eens die universaliteit van aspekte wat met adolessensie gepaardgaan. In vergelyking met karakters soos Dalena en Mart in Die dinge van ’n kind (1994) ervaar tieners soos Hanna twee dekades later steeds soortgelyke uitdagings tydens hul storm-en-drang-jare.

Van der Vyver moet geloof word vir die wyse waarop aspekte rondom gender in die roman benader word. Deur middel van Mana se karakter word lesers bedag gemaak op stereotipes en veralgemenings wat daagliks in die samelewing voorkom. Mana se stem bied ’n alternatiewe siening van geslagsrolle en identiteit in die moderne samelewing. Alhoewel die roman op die oog af as ’n roman vir tienermeisies afgemaak kan word, bewys die narratief die teenoorgestelde. Ook tienerseuns sal by Hanna se interessante wedervaringe aanklank vind, aangesien hulle met karakters soos Benjamin en Yann sal kan identifiseer. Ook volwasse lesers sal die roman geniet, hoofsaaklik weens die humor wat tussen die reëls ingelees kan word. Van der Vyver skroom nie om die bul by die horings te pak nie. Geen onderwerp is vir Hanna se lewensgids taboe nie.

Swemlesse vir ’n meermin is ’n voortreflike opvolger vir Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Dié tweeluik sal tienerlesers boei en selfs ’n paar volwasse lesers met nostalgie aan hul tienerjare laat dink. Met haar jongste jeugroman bewys Van der Vyver weer eens dat sy in voeling is met haar lesers en weet wat in tieners se koppe broei.

 

Hier volg ’n paar menings van leerders aan Kingswood College in Grahamstad:

Die storielyn is oulik. Dit raak aan mens se hartsnare dat ’n ouer suster die moeite sal doen om vir haar sussie ’n hele boek vol raad te skryf en haar deur die rowwe dele van haar tienerjare te help. Sy raak aan ’n hele rits tipiese tienerkwessies: hoe om vrede te maak met jou fisieke tekortkominge; familiesituasies wat nie altyd ideaal is nie en boelies wat mens probeer intimideer.

Die karakter is realisties en Hanna sal aanklank vind by omtrent alle tienermeisies omdat die situasies waarin sy haar bevind, so vanselfsprekend is as deel van tienerwees. Die roman is in die eerste persoon geskryf en dit maak dit maklik om met die karakter te identifiseer, omdat dit voel asof sy in gesprek is met jou. Dit maak die roman ook soveel beter omdat jy betrokke voel by elke situasie.

Ek sal die roman aanbeveel vir hoërskoolmeisies, maar spesifiek vir graad 8 tot 10.

Danielle Scholtz (Graad 11)

 

Ek het die roman Swemlesse vir ’n meermin geniet en interessant gevind. Ek vind aanklank by die roman en soms het dit gevoel asof Marita van der Vyver oor mý lewe geskryf het. Ek dink die roman is meer gemik op meisies jonger as 13 jaar, want ek dink daar is ’n tydperk in ’n meisie se lewe wanneer sy deur verskillende goed gaan. As ’n meisie is dit vir my belangrik om te weet dat ek nie alleen sekere moeilike uitdagings moet ervaar nie. Ek sal die roman graag vir tienermeisies aanbeveel.

Judy-Lee Harvey (Graad 11)  

 

Ek dink dat dié gesin se ingewikkelde agtergrond nog meer kwaliteit aan die roman gee, aangesien dit bewys dat gesinne van mekaar verskil. Elke gesinsamestelling is uniek en Marita van der Vyver wys in die roman dat geen gesin perfek is nie. Ek kon hiermee assosieer, aangesien my eie gesinsituasie ingewikkeld is.

Al die karakters is nie ten volle beskryf nie, amper soos ’n skets wat onvoltooid gelaat is. Die narratief was aanvanklik moeilik, aangesien ek eers die karakters moes plaas. Volgens my is dit meer ’n liefdesverhaal as ’n lewensgids. Die temas in die roman is universeel en heel gepas vir tienerlesers.

Francoise Marais (Graad 8)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top