Boekresensie: Sugar Man – The Life, Death and Resurrection of Sixto Rodriguez

  • 0

sugarman650

Sugar Man – The Life, Death and Resurrection of Sixto Rodriguez
Craig Bartholomew Strydom en Stephen “Sugar” Segerman
Penguin Books SA
ISBN: 9781770228146

kooskombuisokt15.600

Koos Kombuis (foto: Naomi Bruwer)

Min van ons wat jonk en rebels was as jongmense in die Ou Suid-Afrika sal nie weet wie die musikant Rodriguez is nie. Die meeste van ons kan verskeie van sy liedjies neurie en ons ken sy lirieke.

Rodriguez se gewildheid in Suid-Afrika onder die apartheidregime is legendaries – en niemand het daardie merkwaardige verhaal meer skouspelagtig vertel as die Sweedse filmmaker met sy dokumentêre film Searching for Sugar Man, wat sedert 2012 met tientalle pryse, insluitend ‘n Oscar, bekroon is nie.

Nie net is die verhaal van Rodriguez – die mislukte Amerikaanse sanger wat jare lank in feitlik totale obskuriteit in sy tuisdorp in Detroit gewoon het voordat hy gehoor het dat hy derduisende aanhangers aan die ander kant van die aardbol het – legendaries nie, dit is ook paradoksaal. (Ek het self reeds my eie probleme met die Rodriguez-mite verwoord in Ver in die Wêreld, Sushi!, so dis nie nodig om daardie invalshoek weer hier op te haal nie.)

Nou, drie jaar na die geweldige sukses van hierdie rolprent, verskyn die volle verhaal vir die eerste keer in boekvorm, geskryf in die derde persoon deur twee van die sleutelspelers in die drama self: Craig Bartholomew Strydom en Stephen “Sugar” Segerman.

Ek onthou dat toe ek destyds die film die eerste keer gesien het, ek byna in trane was. Dit was ‘n wonderlike verhaal, puik vertel, vol drama en patos, en natuurlik met die onbeskryflike klankbaan van Rodriguez se musiek self.

Sedertdien is Rodriguez nie meer ‘n obskure musikant nie. Hy het verskeie besoeke aan Suid-Afrika gebring sedertdien, en is ook – dis ‘n feit wat, vreemd genoeg, verswyg word in die film – bekend in Australië. Intussen het hardnekkige gerugte deur die plaaslike musiekbedryf begin sirkuleer dat alles nie meer so goed gaan met die Rodriguez-legende en met die mense in sy dampkring nie.

Dit is dalk ‘n goeie ding dat hierdie boek – wat tog ‘n tipe exposé is – dus op so ‘n vreemde tyd verskyn, drie jaar na die groot filmsukses. Hoewel mens dit nie sodanig as ‘n aanval op Rodriguez kan of wil sien nie, kom heelwat dinge nou, “after the fact” (pun intended) aan die lig wat ons, die lesers, konfronteer met die feit dat die Rodriguez-mite ook sy donker kant het. Dit laat die leser ongemaklik voel, en veroorsaak dat hierdie nie altyd ‘n maklike of plesierige boek is om te lees nie. Sonder om ooit persoonlik te raak of ons held op enige manier te probeer seermaak, vertel Segerman en Strydom vir die eerste keer die volle verhaal agter die mite. Die boek is dus ‘n antiklimaks, maar dis ‘n nodige antiklimaks, want dit komplementeer die gebeure waarop die film gebaseer is en bring ‘n mate van koue perspektief en noodsaaklike realisme, hoe pynlik ook al.

Ons hoor vir die eerste keer dat Rodriguez laat was vir sy eie rolprent-première. Daar word aan ons vertel dat hy nie opgedaag het by die Oscar-seremonie nie. Vir die eerste keer hoor ons hoe hy soms vasgesit het met sy beste vriende en promotors, en hoe hy meer as een keer nie die verhoog wou betree voor iemand nie bereid was om vir hom dagga te gee nie. Dit is pynlik om te ervaar hoe Rodriguez, die groter-as-werklikheid-legende, aarde toe gebring word deur die eenvoudige openbaarmaking van sy eie menslike beperkinge. Mens kan nie anders as om te wonder oor ander dinge nie, soos hoekom hy sedert sy jeug nooit weer nuwe musiek geskryf het nie. I wonder ...

Ten slotte dring die skokkende besef tot jou deur dat sy obskuriteit in sy eie land nie net te make gehad het met toeval of ‘n ongelooflike sameloop van omstandighede nie, maar waarskynlik veroorsaak is deur sy eie gebrekkige selfpromosie en ekstreme introversie – hoe bemark ‘n platemaatskappy in elk geval ‘n nuwe sanger wat aandring daarop om lewende vertonings te gee met sy rug na die gehoor?  

Hierdie nuwe Sugar Man-verhaal is goed geskryf, by tye stilisties briljant, en Robert Plummer se redigering is, soos altyd, byna onverbeterlik. As daar, benewens die ongemak wat die storielyn bring, dele in die boek is wat moeilik is om te verteer, is dit dalk die magdom besonderhede en name wat orals opduik. Daar is so baie randfigure dat jy nie altyd die rolspelers as driedimensionele karakters kan ervaar nie.

Ek sou ook graag meer wou geweet het oor die onverklaarbare selfmoord van die filmmaker Bendjelloul so kort na sy eie grootste sukses; dit kom onverwags en sonder enige skynbare rede. Mens kan egter nie die skrywers hiervoor blameer nie, want dit is duidelik dat hierdie tragedie hulle net so onkant betrap het as vir die res van die wêreld. Dalk moet ‘n mens juis bly wees dat hulle nie geswig het voor die versoeking om hierdie gebeure melodramaties aan te bied of voor te gee dat hulle meer geweet het as wat hulle weet nie.

Na alles is Sugar Man – The Life, Death and Resurrection of Sixto Rodriguez ‘n bittersoet leeservaring, by tye ‘n moeilike boek om deur te worstel, maar, in historiese konteks gesien, tog ‘n broodnodige en lywige voetnota tot ‘n mediasprokie wat sonder hierdie reeks regstellende feite dalk vir altyd net te goed sou geklink het om heeltemal waar te wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top